Soos reeds op ander gesprekslyne genoem, gaan die Boucher's op 'n "driehoek-toertjie" gedurende Mei. Ek noem dit 'n driehoek-toer omdat die beplande roete min of meer 'n driehoek vorm. Hier van die huis-af is dit eers so te sê reguit oos tot by Ebb & Flow by Wildernis. Daarvandaan noordoos tot by die Bergkwaggapark en vandaar so te sê reg wes tot by Karoo Nas Park alvorens ons suidwes-waarts terugkeer huistoe.
Ek tob nog die hele tyd of ek nie Bontebokpark ook by die toer moet insluit nie. Ons is vanaf Sondag 7 Mei by Ebb & Flow bespreek waar ons vir al drie nagte 40% afslag kry. Sou ek egter die voorafgaande Vrydag- en Saterdagaand in Bontebokpark oorbly, gaan ek vol-tarief van R1 560 per nag betaal. Sou ek besluit om my 69ste verjaarsdag in dié park te vier, sal ek darem 40% afslag kry vir Donderdag 4 Mei. Terloops, ons kry vir 2 van die 3 aande by Bergkwagga 20% afslag en vir 2 van die 3 aande in Karoo ook 40% afslag.
Maar vandag sien ek toe op die forum "anderkant die draad" dat iemand navraag doen namens haar suster oor die moontlikheid om 'n vakansie-woonstel in Groot-Brak te adverteer. Om 'n lang storie kort te maak, ek het nadat die eienaar foto's en videos gestuur het van die woonstel, besluit om my 69ste in Groot-Brak te gaan vier. Ons is nou vanaf 4 Mei vir 3 aande bespreek in dié woonstel @ R800 per nag - darem aansienlik goedkoper as Bontebokpark en in 'n deel van ons land waarvoor ek baie lief is.
Ons groet Groot Brak vandag
3 Rustige aande het tot 'n einde gekom. Vanoggend vertrek ons na Ebb & Flow - Tuinroete Nasionale Park by Wildernis. Dit is net die spreekwoordelike hoes en 'n poep tot daar en ons kan eers 14:00 inboek. Ons gasvrou by wie ons hier huur het gisteraand laat weet dat ons kan maar vertoef tot namiddag, want hier kom niemand vandag in nie. Maar ons sal darem nie ons "welcome overstay" nie. Ons sal maar rustig inpak en tot by Garden Route Mall in George ry, waar ons 'n item of twee by hetsy Clicks of Dischem wil koop - asook 'n eetplekkie soek.
Gister het ons met die ou pad gery tot Mosselbaai en oral gaan inloer - Tergniet, Reebok, Klein Brakrivier en Hartenbos. Ek en Ralie woon by die see, maar die gedeelte tussen Hartenbos en Glentana bly maar vir my die topbestemming vir 'n seevakansie.
Na 'n lekker middagete, met 'n pragtige uitsig oor die see by Die Punt se Spur - en waar ons die brawes kon dophou wat die "zipline" oor die see doen - het ons stadig tetuggekeer na ons blyplek. Ons het besluit om koffie en koek te gaan geniet by De Oude Pastorie - op Hennie Botha se aanbeveling. Maar o wee, toe ons op die Saterdagmiddag om 15:15 daar aankom, was hulle reeds toe. Ek sal dit dus maar op 'n ander keer moet probeer Hennie.
Ek besef ons is in die omgewing wat bekend is vir sy groot bome. Maar ons het die grootste peperboom wat ons ooit gesien het, gister in Groot Brak opgelet. Ek wonder hoe oud is dié ou reus.

Net so
is dit daardie houthuis met 'n opslaan-springmat op die gras?
Ons het lekker gekuier om die vuur by die braaier tussen die houthuis en die springmat. De Dekke SPAR se goedkoop wattle is letterlik groen so nat is dit, maar as jy dit eers aan die gang kry maak dit lieflike kole. Die kinders het ook lekker gespring op die mat, die hasies wat die buurt vol loop gevoer en ons het lekker krieket gespeel op die gras.
Julle tydjie in Grootbrak klink baie lekker. Ek geniet Hermanus meer vir in die see speel, maar verder stem ek saam daarmee dat die stukkie kus tussen Glentana en Hartenbos heerlik is vir ‘n kus vakansie. Dit bied ook baie beter kampeer oorde as Hermanus omgewing.
Ek sal dit dus maar op 'n…
Ek sal dit dus maar op 'n ander keer moet probeer Hennie.
Ai, jammer om dit te hoor.
Ebb & Flow
Ons het gistermiddag 13:00 hier aangekom, wetende dat ons akkommodasie eers vanaf 14:00 beskikbaar is. Maar die vriendelike dame by Ontvangs was tegemoetkomend en het ons toegelaat om ons huisie vroeër te betrek, maar nie voordat ek my Wild Card hernu het nie. Dit kos ook al 'n stewige R1300.
Dit bly maar pragtige wêreld. Ek het sommer 'n klompie foto's geneem.






Ek het hierdie keer nog nie 'n Knysna loerie gesien nie, maar hulle wel gehoor. Ek het wel 'n eerste (vir my) gesien, naamlik 'n gryskopspeg. Swartkop wielewale koggel mekaar van verskillende rigtings af - so mooi om na te luister. Dit is ook die enigste plek waar ek in die verlede bosloeries (Narina Trogon) gesien het.
Dit lyk na 'n baie lekker sonskyndag hier. YR voorspel 24°. Ons beplan om sommer net rustig te wees en later een van die vele woudpaadjies te gaan stap.
Ai, ek is so dankbaar dat die park 'n lekker fris kragopwekker het wat outomaties aanskakel met beurtkrag. Maar dit is blykbaar net vir die vaste akkommodasie. Die kampeerders, wat tans maar min is, suig ongelukkig aan die agterspeen.
Hoog en Laag
Môre Chris B
Dit lyk darem baie netjies daar. Ek sal eerder daar penne inslaan en rondry, as om in die seewind by Stormsriviermond te gaan staan. Met my minimum pale tentstruktuur is ek effe sku vir rowwe winde.
Stormsriviermond is natuurlik vreeslik mooi, maar dalk bied Ebb & Flow meer wandelpaaie.
Ebb & Flow - ons laaste paar uur
Môre-oggend vat ons die pad Bergkwaggapark toe na 2 en 'n half dae van die wonderlikste weer waarvoor ons kon wens by Ebb & Flow. Ek en Ralie het die gawe om te kan niksdoen as ons met vakansie is. Daarom kan ons vir 3 weke in die Karoo Nasionale Park gaan kamp. Gee my 'n voëlboek en 'n verkyker - en ek is in my element. En dit is presies wat ons hier gedoen het - niks!
Môre neem die roete ons via George, Uniondale, Willowmore, Aberdeen en Graaf-Reinette tot by die Bergkwaggapark. En sien ek nie uit daarna om hierdie roete weer na etlike jare te ry nie. Ek vertrou ons sal die geleentheid hê om die park goed te verken, want ons is maar redelik onbekend daarmee. Die weervoorspelling klink redelik belowend tot Donderdag, maar dit klink of ernstige koue en selfs reën vanaf Vrydag gaan heers. Maar met 'n goeie voorraad pisky en pater, sowel as rooiwyn en OBS, sal ons dit lekker maak.
Ek wag....
....om te hoor en te sien van Bergkwagga Park. Dit is ook nog op my lysie, hopenlik volgende jaar.
Koue en reën gaan julle mos nie pla binne vaste huisvesting nie.
Ebb en Flow
Was julle by noord of Suid? Watter een sal jy voorstel is nicer vir kampeer...Noord of Suid?
Bergkwagga by Cradock
Môre Chris, jy sal n surprise kry as jy by Graaf Reinett gaan inboek. Daar is die Kamdebo as ek dit nie het nie. Lekker ry.
Wat is.....
.... die surprise????? Graaff Reinett, sekerlik NIE Kamdebo nie.
Dit klink of Herman iets weet van die dorp, wat negatief is. Of is ek nou die tipiese half leeg persoon. Ook moontlik![]()
Bergkwagga is by Cradock, of…
Bergkwagga is by Cradock, of so 12km buite die dorp. Wil hom net n "reminder" gee alhoewel ek glo hy weet. Maar... dit lees asof of hy by Graaf Reinett inboek.![]()
Tans eet ons ietsie by…
Tans eet ons ietsie by Kapoet in Willowmore.
Geniet dit. Ons het verlede jaar daar ontbyt geniet.
Bergkwaggapark

Ek wou eers kyk of ek kan foto's laai met die swak data-sein wat ons hier het. Daarom begin ek met 'n foto van ons "cottage".
Ons het gister in die mees perfekte weersomstandighede vanaf Ebb & Flow tot hier gery. Die bakkie het meermale 'n buite-temperatuur van 29° gewys. Hier aangekom teen ongeveer 16:30, is ons eenheid 24 (hierbo) toegewys. Dit is een van die nuwe (ek dink slegs 4) nuwe "cottages" wat gebou is. Dit is sonder twyfel die netjieste en bes-toegeruste wooneenheid waarin ons ooit in enige Nasionale Park oorgebly het - alhoewel die "ou lady" bly maar die beste, maar hierdie keer kamp ons mos nie.


A.g.v. 4 ure beurtkrag gisteraand, het ons maar vroeërig gaan inkruip. Hier is ongelukkig nie die gemak van 'n kragopwekker soos Ebb & Flow nie. Maar ons pas aan daarby. Vanoggend is ons weer vanaf 05:00 - 09:00 "vermaak" deur Eskom. Ons kon darem koffie maak op die gasstofie wat ons saamgebring het en het maar besluit om op 'n vroegoggend "game drive" te gaan. Ons het maar weinig wild gesien, maar ek dink dit gaan grootliks toegeskryf word aan 'n grootskaalse wildvang-operasie wat tans hier aan die gang is. 'n Helikopter, verskeie groot vragmotors om die wild in te vervoer en baie ander voertuie en personeel wat by die operasie betrokke is, dra daartoe by dat die wildbesigtiging maar swak is. Ons geniet egter die mooiheid van die omgewing. Ek plaas later nog foto's.
Bergkwaggapark - vervolg
Toe ons gister die ongeveer 12 km vanaf die park se ingangshek tot by Ontvangs ry, was ek baie dankbaar dat ek nie die "ou lady" saamsleep nie. Die gruispad-gedeelte is maar goed sinkplaat gery. En nadat ek vanoggend gou deur die kampeerarea gery het, is ek nog meer dankbaar dat ons nie kamp nie. Ek sal vanmiddag 'n paar foto's gaan neem. Die staanplekke is net eenvoudig té opmekaar en die meeste is maar redelik skuinserig. Maar afgesien van hierdie genoemde besware van my, blyk dit baie gewild te wees - ek's seker maar vol k...
Ek geniet jou komentaar…
Ek geniet jou komentaar Chris. Bergkwaggapark is ook op my lysie om te besoek. Hopelik volgende jaar. Ek sal maar lees wat jou bevindinge is.
Baie smart
Dit is sonder twyfel die netjieste en bes-toegeruste wooneenheid waarin ons ooit in enige Nasionale Park oorgebly het
Lyk baie smart.....sien daars selfs DSTV skottel
Chris B....
...ek wag ook in spanning om te hoor en sien van woonwapark en jou persepsies.





Hierdie gerond ry en baie…
Hierdie gerond ry en baie eet klink vir my presies reg. Geniet elke oomblik daarvan. Ons sal ook weer 'n beurt kry vir sulke luukse, maar vir nou is dit net skoonmaak, regmaak en uitverf. Die vorige mense het nie geglo aan regmaak en alles in stand te hou nie.