Soos reeds op ander gesprekslyne genoem, gaan die Boucher's op 'n "driehoek-toertjie" gedurende Mei. Ek noem dit 'n driehoek-toer omdat die beplande roete min of meer 'n driehoek vorm. Hier van die huis-af is dit eers so te sê reguit oos tot by Ebb & Flow by Wildernis. Daarvandaan noordoos tot by die Bergkwaggapark en vandaar so te sê reg wes tot by Karoo Nas Park alvorens ons suidwes-waarts terugkeer huistoe.
Ek tob nog die hele tyd of ek nie Bontebokpark ook by die toer moet insluit nie. Ons is vanaf Sondag 7 Mei by Ebb & Flow bespreek waar ons vir al drie nagte 40% afslag kry. Sou ek egter die voorafgaande Vrydag- en Saterdagaand in Bontebokpark oorbly, gaan ek vol-tarief van R1 560 per nag betaal. Sou ek besluit om my 69ste verjaarsdag in dié park te vier, sal ek darem 40% afslag kry vir Donderdag 4 Mei. Terloops, ons kry vir 2 van die 3 aande by Bergkwagga 20% afslag en vir 2 van die 3 aande in Karoo ook 40% afslag.
Maar vandag sien ek toe op die forum "anderkant die draad" dat iemand navraag doen namens haar suster oor die moontlikheid om 'n vakansie-woonstel in Groot-Brak te adverteer. Om 'n lang storie kort te maak, ek het nadat die eienaar foto's en videos gestuur het van die woonstel, besluit om my 69ste in Groot-Brak te gaan vier. Ons is nou vanaf 4 Mei vir 3 aande bespreek in dié woonstel @ R800 per nag - darem aansienlik goedkoper as Bontebokpark en in 'n deel van ons land waarvoor ek baie lief is.
Gaan die wa saam?
Ek kan nou nie onthou nie, want die Bouchers skeep mos deesdae die karavaan af. Nietemin, ry veilig en geniet! Wens ek was julle. Ek het te gewoond geraak aan vakansie hou die afgelope maand.
Dan wil mammie nog haar…
Dan wil mammie nog haar tradisionele stop by Aloe Ferox se fabriekswinkel buite Albertinia maak - om my kredietkaart te toets.
My skoonseun se Suster en swaer het daar gaan aftree in Albertinia. Ja, ek ken ook daai winkel en is 'n gereelde stop as ons jaarliks afgaan Suid-Kaap toe.
Julle moet veilig ry en dit geniet. Ek ry saam julle aangesien ek so lief is vir daai gedeelte van die Kaap.
Nee, ....
.... ons ry bloots. Ons bly oral in vaste akkommodasie. In Groot Brak huur ons 'n woonstel, in Ebb & Flow, Bergkwaggapark en Karoo Nas Park bly ons in Sanparks-akkommodasie en in Prins Albert en Oudtshoorn bly ons in Lekkeslaap selfsorgplekke.
Ek drink nou eers rustig my eerste beker boeretroos, gaan nog stort en dan gou die koue goedjies in die Coleman pak, tasse inlaai en voila ... dan's ons weg. YR wys maar 'n maksimum van 19° hier by ons en by Groot Brak. Dus is dit langbroek en langmouhemp-weer.
Ralie is baie lief vir haar Aloe Ferox produkte en gebruik dit al vir etlike jare. Ek word nie toegelaat om daar verby te ry nie. Gewoonlik is dit met die terugkomslag, maar hierdie keer beplan ons om Klein Karoo-langs terug te keer.
Die Bouchers se 3 hoek toer ...
Was ook al by daardie winkel.
Chris julle moet veilig ry en geniet dit so tussen die koue deur, hier is dit nog warm by ons in die Noorde.

Kus temperatuur
'n maksimum van 19° hier by ons en by Groot Brak
Julle is seker al gewoond daaraan, maar 19 by die see voel vir my meer soos 24. Dit was elke dag 19 toe ons in Grootbrak was, en dit was kortbroek en T-hemp vir my. Solank die son geskyn het (wat Vrydag, Sondag en Maandag die geval was) was dit nie eers nodig vir ‘n ligte baadjie nie. Geniet die vakansie!
ChrisB. ek wonder hoe kry jy dit reg ?
Ek het al gisteraand vir Chris gegroet en 'n veilige rit toegewens en net voor 7vm op Donderdag oggend klets die man nog op Kampforum ! Goed, ek weet ons verskil almal en elkeen doen wat hy wil, maar my DNS werk anders. Op die dag wat ek met vakansie gaan (of vir 'n korter wegbreek), kan ek nie wag dat dit lig word nie want dan is dit vertrek tyd ! Vir ons as nie-werkende laatslapers is dit 'n belewenis om vir verandering vroeg aan die gang te kom en die pad te vat, maar dit moet darem al lig wees. Die vorige aand is ALLES ingepak, tandeborsels en die lot - daar is 'n ekstra stelletjie van wat nodig is vir môreoggend wat by die huis bly - die stortery en geskeer vind ook die vorige aand plaas. Ai man, daardie vroeë-oggend vertrek van die huis af is onbeskryflik lekker. Sou ons aankoms by ons bestemming te vroeg wees, weet ek ek het swak beplan - die roete na die bestemming moet so wees dat daar lekker-doen goed langs die pad is om te help om die tyd op te maak.
Maar nouja, teen hierdie tyd wat ek skryf is Chris darem seker al klaar gestort, die Coleman is gepak en die tasse is ingelaai.
ChrisB, ek groet jou maar gedweë weer want gisteraand se groet was te vroeg. Mooi ry !
Jammer Len ...
... dat ek jou teleurstel met my laatslapery op my vakansie-vertrekdag. Ons is uiteindelik eers 09:45 uit Kleinmond weg. Op 'n laat stadium moes ons nog eers vir Ralie medikasie by die apteek gaan afhaal waarvoor die dokter vanoggend 'n e-pos gestuur het. Sy't sedert gister 'n ligte uriene-infeksie.
Maar nietemin, ons is by ons bestemming in Groot Brak - hierbo teen die koppe met 'n pragtige uitsig oor die baai.


Dit is ons woonstel onder die eienaars se huis. Dit is maar kleinerig, maar baie netjies ingerig. Vanaand val daar 'n hoender-skilpadjie en Joey's boerewors oppie kole. Is maar koelerig hier. Die Hilux het gewys dit is 17° toe ons hier aankom.
Ek het op Caledon by Overberg Agri volgemaak met diesel. Hulle prys is R19.60 per liter versus Kleinmond Sasol se R22.23. Die bakkie se rekenaar wys my brandstofverbruik tot hier is 12.2 km/liter. Ek sal dit nog fisies uitwerk wanneer ek weer volmaak.
Wat 'n uitsig
Naand Chris B
Bly julle is veilig daar. Julle het omtrent 'n mooi uitsig vandaar af.
Dit bly darem koste effektief om by die kooperasies in te gooi.
'n Mooi oggend in Groot Brak


Watter lieflike oggend hier in Groot Brak vandag. Ons is rustig en beplan om later sommer 'n draaitjie te ry na die onderskeie strandoorde hier in die omgewing.
Ons het intussen só bederf geraak met die solarstelsel by ons huis, dat dit gisteraand nogal 'n groot aanpassing was tydens beurtkrag. Maar ons het dit oorleef danksy 'n paar apparate, soos herlaaibare ligte, battery-radio en gasverwarmer wat ons saamgebring het.
Ek sien daar word op Chris WH se Kgalagadi-draad gepraat oor sekere voertuie (lees o.a. "Toyota") wat harder ry as ander. Wel - een ding kan ek na gister se rit hiernatoe getuig - Dunlop Grandtrek bande (dié wat ek kosteloos by my seun ge-"score" het) ry ongetwyfeld harder as Bridgestone Duelers. Ek het die stel splinternuwe bande verniet gekry, maar Dunlops sal nie my keuse wees as ek weer bande moet vervang nie.
Grootbrak is bak
Lyk na ‘n lieflike dag daar. Solank daar nie ‘n front verbygaan wat die wind laat waai nie kan mens die tyd van die jaar nog gemaklik buite verkeer daar. Sou julle naby die De Dekke sentrum verbygaan, kan julle gou strand se kant toe draai reg oorkant die oostelike ingang na die De Dekke sentrum. Net daarna draai weer regs voor die treinspoor in na Eurekapark. Die eerste geboutjie links is waar ons verlede naweek gebly het. Ry ‘n draai deur die klein buurt, daar is ‘n paar interessante versierings by van die huise. Geniet die dag!
Sou julle naby die De Dekke…
Sou julle naby die De Dekke sentrum verbygaan, kan julle gou strand se kant toe draai reg oorkant die oostelike ingang na die De Dekke sentrum. Net daarna draai weer regs voor die treinspoor in na Eurekapark. Die eerste geboutjie links is waar ons verlede naweek gebly het. Ry ‘n draai deur die klein buurt, daar is ‘n paar interessante versierings by van die huise.
Hoe sien ek al hierdie is my geestesoog. Ai, lief vir daai wêreld .
Bande effek
Môre Chris B
Dankie vir die kommentaar oor die bande effek. Ek maak 'n nota oor die Dunlop's, en sal maar bly by Bridestones, soos ek nou al vir 7 jaar aan gewoond is.
Terloops Marie seg, ek sal nie weet of 'n Hilux met Bstones hard ry nie, want ek is te hardegat. ![]()
Ek sal daar gaan loer Chris…
Ek sal daar gaan loer Chris WH. Dit klink vir my dit is waar Groot Brak se munisipale woonwapark jare gelede was. Ek weet daar is nou huise. Ek sal gaan kyk waar die Wildehonte verlede naweek uitgehang het.
Ons is net rustig. Ek's darem klaar gestort en drink reeds my 4de beker koffie van die dag. Ralie moet nog lone (vir my seun se werkers) betaal. Dit is een aspek van my seun se besigheid wat sy nog nie kon afskud nie. Sy't vir meer as 17 jaar sy boeke ten volle gedoen, maar sy's darem daarvan ontslae.
Chris B, julle moet onthou…
Chris B, julle moet onthou om by die Ou Pastorie tuin 'n draai te maak. Al gaan drink julle net 'n koffie en loop deur die ou huis en snuffel bietjie rond.
Toyotas en bande
ChrisB , ek sien jy sê jou nuwe, gratis Dunlops loop "harder" as jou vorige Bridgestone Duelers. Ek kan eintlik nie saamgesels nie want ek ry nie 'n Toyota bakkie nie, maar ek wonder tog hoe ry een band "harder" as 'n ander - gaan dit oor padgeraas of oor 'n gewip op die teerpad ? Indien nie, wonder ek of dit dalk iets te doen het met die Toyota se harder, bakkie veerstelsel ?
Vrydag 5 Mei
Toe beurtkrag om 10:00 gisteroggend inskop, het ons die pad gevat. Ons het met die ou pad tot George lughawe gery dn daar weggeswaai na Heroldsbaai. Watter mooi kusdorpie!



Vandaar het ons kuslangs teruggekom - verby plekke soos Glentana, Outeniequastrand, Dwarswegstrand, Bothastrand, Pienaarstrand en wat nog. Toe gou vir Ralie op haar senuwees gehad deur oor die smal bruggie na die Groot Brak eiland te ry.
Ek het gou gaan loer waar die Wildehonte verlede naweek gebly het. As jy hier lees Chris WH - is dit daardie houthuis met 'n opslaan-springmat op die gras?
'n Lekker groot Wimpy burger by De Dekke het gevolg. Dit was een van daardie droomdae by die see - heerlike sonskyn, matige temperatuur en nie 'n teken van 'n briesie nie.
Lekker patats in foelie op die kole, saam met Joey's se "pattie's" was die hoofbestanddele vir gisteraand se ete.
Vandag beplan ons om o.a. na Die Punt by Mosselbaai te ry. My ou vroutjie verbeel haar dat sy nie in dié wêreld kan kom draai sonder om by Die Punt uit te kom nie. As ek iewers 'n lekker vis & tjips keffie sien, sal daar beslis gestop word. My vislus hang uit en hier waar ons tans bly is nie lekker braaigeriewe om 'n kabeljou-filet te braai nie.
Dan, met die terugkomslag sal ek gou by Hennie Botha se aanbeveling, De Oude Pastorie, gaan inloer vir koffie en ietsie gebaks wat daarmee saamgaan.
Dit is bietjie bewolk vandag, maar daar word darem nog 21° voorspel





Chris B
Naand sê, ek hoop julle twee kry geslaap vanaand. Opgewondenheid gee aanleiding tot plesierige kussinggevegte.
Aloe Ferox, is dit 'n aalwyn parfuum aanleg, of 'n woonwa handelaar. Indien laasgenoemde, kyk na die Striata model. Dis 'n lekker grondpad wa.