Forums
Middag vriende
Nou wag ek maar dat die besprekings oopmaak vir Junie 2024. Gister gebel en kan eers van 24 Julie af bespreek.
Ons finale datums vir Julie'24 in Kruger is as volg;
Tsendze 9 tot 15 Julie
Satara 15 tot 21
Onder Sabie 21 tot 27
Berg en Dal 27 tot 29 Julie
Voëlboeke en bokkies
Ons ry ewe 2 boeke saam, maar soms is ons te bedagsaam om by die voël in die veld, te staan en naslaan. Dan skarrel ons net om af te neem. Terug by die wa en die huis oorval die luiheid my om met fotos en boek te sit en te identifiseer.
Dan het ons ook nog 'n veel kleiner bokkie gekry, so vinnig soos kwiksilwer, en hy's weg. Wie het 'n foto van 'n Soenie??
Oorbietjies
Neef - ek wou nou met jou stry oor die voorkoms van oorbietjies in die wildtuin, maar gelukkig het ek nie. Jy's heeltemal reg - oorbietjies kom in die wildtuin voor. Ek het nou die "Veldgids tot die Soogdiere van die Nasionale Krugerwildtuin" nader getrek en daar staan dit duidelik dat "Oorbietjies in die wildtuin is beperk tot die hoërliggende gebiede in die heel suidwestelike dele rondom Pretoriuskop". Dit is dus nog 'n wildsoort wat ek graag sal wil sien in die wildtuin - ongelukkig kom ek selde in die Pretoriuskop-gebied.
Om terug te kom na die klipspringer op Wessel se foto. Ja - onse klipspringers in die Kaap is 'n bietjie donkerder van kleur en bonkiger (soos dié een op die foto hieronder wat ek in Karoo Nas Park afgeneem het):
Die Karoo se steenbokke is ook heelwat donkerder (en groter) as dié in die wildtuin.
Verskillende visvangers
Nee...dis interesant. Ek het nooit so gekyk nie. Ons is nie eintlik groot voëlkykers nie....so nou het ek ook weer iets geleer waarna om te kyk. Wel toevallig dat foto's op dieselfde plek geneem is
Wessel ...
... waar het julle die klein bokkie gesien? As dit in die mopanieveld was, was dit baie waarskynlik 'n Sharpe's grysbok - oftewel in Afrikaans 'n tropiese grysbok.
Soenies is nog net in die verre noordooste, kort duskant Pafuri, in die sogenaamde "sandkamhout-ruigtes" bevestig. Maar tropiese grysbokkies is nogal geredelik algemeen in die mopanieveld. Ek het hulle al so ver suid as tussen Olifants en Balule gesien.
Chris B
Daai bokkie is afgeneem by die laagwaterbrug oor Tsendze.
Ek neem my fotos uiteraard in volgorde deur die wildtuin, met fotos van ons kampplek as merker, soos ons beweeg.
Visvangers op die brug
Ek vermoed die visvangers het maar net agtergekom dat die brug ‘n handige uitkykpunt is. Dis nader aan die water as die bome op die wal, en dis reg bo die water.
Hier buite Worcester is ‘n bruggie oor ‘n stroom waar mens afdraai Scherpenheuwel toe van die R43 af. Ek ry nie gereeld daar nie, maar het al meer as een keer ‘n reuse visvanger op die bruggie sien sit. By die brug oor die Olifants by Balule het ons ook al ‘n bont visvanger op die brug se rant sien sit.
Wat die “makheid” betref het die in die wildtuin waarskynlik agtergekom die voertuie pla hulle nie. Dus vlieg hulle nie sommer weg nie. In Nieu-Seeland is die voëls baie “mak”. Daar is geen roofdiere nie, so as jy stap sit hulle sommer op jou vlak reg langs die voetpad en vlieg nie weg as jy verbystap nie. Daar is een wat as jou met jou skoen in die grond krap naderkom om te kyk of jy nie iets te ete oopgekrap het nie. Ek het iewers op ‘n hardeskyf foto’s daarvan wat ek geneem het toe ons op die Milford staproete gaan stap het.
Wessel ..
... ek is bykans oortuig daarvan dat dit dan 'n tropiese grysbokkie was, want dit is mopanieveld-ongewing waarvan jy praat.
Steenbokkie???
Menere, google bietjie steenbokkie. Is die ene wat ek afgeneem het nie dalk maar net 'n steenbokkie nie??
Wessel ...
... nadat ek nou weer na jou foto gekyk het en dit vergelyk het met foto's in "Die soogdiergids van Suider-Afrika", is ek nog meer oortuig dit is 'n klipspringer op jou foto. Ek weet nie waar jy dit geneem het nie. Gewoonlik is hulle naby of op koppies. Ek het al by geleentheid 'n klipspringer oor die pad sien loop op die H14 (die pad tussen Phalaborwa in die rigting van Mopani/Shingwedzi). Ek was as't ware verstom waar ek die klipspringer gesien het, want daar was nie 'n koppie in sig nie.
Maar die een op jou foto het die tipiese kort bonkige horings van 'n klipspringerram. Steenbokke se horings is aansienlik dunner. Die streeppatroon in die oor wys ook die duidelike dwars donker streep terwyl die steenbok se oor meer van 'n vertikale streep het. Steenbokke se ore is ook langer en puntig aan die bokant - teenoor klipspringers se meer geronde oor.
Ek wonder net altyd waar kry elke nuwe klipspringer-aanwas 'n koppie om te beset. Gewoonlik is daar 'n ram en 'n ooi op hulle koppie en baie keer sien jy die lam ook saam met sy ouers. Maar wat gebeur met die lam as die ouers hom/haar na 'n tyd verjaag? Koppies in die wildtuin is net sóveel. Ek het in die Karoo Nas Park gesien hoedat 'n ram sy "seun" jaag om vir hom nuwe weiveld te gaan soek.
Chris B
Ek het die bokkie afgeneem by die laagwaterbrug/hide by Tsendze. Daar is wel koppies naby.
Dieselkoste vir Kruger vakansie
Ek het gou opgetel, die 3000km uit en tuis het my ongeveer R6450 gekos aan diesel.
Ek is heel tevrede, volgens Grompie se rekenaar het dieselverbruik gewissel tussen 8km/l tot 10km/l op die ooppad, met Kavango. In wildtuin met woonwa was dit so ~ 12,5km/l.
Slegste verbruik was van B&Dal tot by Milly's, Schoemanskloof deur. Die 10km/l was van Pietersburg tot by P Borwa, mos lekker afdraende deur Magoebaskloof.
Klapgeluid op Kavango
Jis vriende, word ek nou die aand in Onder Sabie wakker met so 'n klapgeluid daar van doer onder die Kavango. Gelukkig niks ernstig nie. Dit was net die nuwe skokbrekers wat ontspan het nadat al die vloeibare proviand, beskuit, melk, gevriesde poedings, groente terte ensovoorts omtrent alles opgebruik was.
Ek sal nou ook maar moet gewig afgooi, want my skokbrekers is nou onder drukspanning.
Wessel ...
... ek het ook al klipspringers in daardie koppies naby die Shipandane-skuiling gesien. Het julle dalk die swartriethaantjies by die laagwaterbrug by Shipandane gesien? Dit is selde dat hulle nie op of langs die laagwaterbrug is nie.
Chris B
Naand, nee nie gesien nie. Ons het wel die swart voël op die brug by Onder Sabie afgeneem. Dit is sekerlik volgens my boeke nie 'n swartriethaantjie nie.
Die manne moet maar weer help identifiseer
Swartriet.
Swartriethaentjies...............Chris, wil jy nie asb die gewone naam vir die voëltjies ook skryf nie.
As ons moet so streng Afrikaans skryf, dan gaan neef sy bek moet hou. Wat te fop is ń swartriethennetjie. Sasol se boek lê nie langs die stoel nie.
Neef ...
... dit is maar soos ek daardie oulike voëltjie met sy rooi bene en neon-groen bek leer ken het. In Engels 'n Black Crake.
Wessel ...
... nee, daardie rietduiker is seker 4 - 5 keer groter as die swartriethaan.
Swartriethaan.
Redelik algemeen in SA, kenmerkend lemmetjie geel snawel en rooi bene.
So leer ek ook...
....die voëls se name ken. Onthou is 'n ander saak natuurlik.
Herman--- ek is nog meer in die duister as dit by die engelse benaminge kom. Ek ken darem 'n berghaan, visarend mossie, spreeu en geelvink. ,
En dan kry jy nog streeksname ook
Ek ken ook 'n vink, maar die voëlboeke gee dit aan as 'n wewer (verskillende soorte). Nog voorbeelde:
Tiptol - Bottergat; Berghaan - Stompstertarend; Geelbekwou - Slapstertvalk; Spekvretertjie - Dagbrekertjie; Janfrederik - Jan Tatarat ens.
Sommige name is regte boerename wat eintlik baie beskrywend is.