So het Mei maand aangebreek. die maand waarna 'n klomp uitgesien het. Hoekom???? Ons is oppad na Krugerwildtuin toe!!!! Ander sleep weer KarooNP toe.
Kuier en klets gerus saam asb.
Thyspunt
Ek het reeds per ongeluk op die April saamgesels gevra of iemand al by Oyster Bay was. Dis nie ver van Thyspunt af, wat geöormerk was vir SA se volgende kernkragsentrale. Sê die artikel iets daaroor?
Ek het gou gesoek en voeg die artikel uit Nov 24 by. Daarvolgens wil hulle nog voortgaan met die projek by Thyspunt.
Getrek
Ek probeer so stadig weer by die normale leefstyl aanpas. Vir 'n paar dae was ek niks meer as net 'n flooou stemmetjie wat op en af geskarrel het tussen twee huise nie. Was ons maar "getrek"
(Wessel) sou dit waarskynlik nie so erg gewees het nie, maar aangesien dit op dieselfde perseel is, doen ons dit toe sommer self. Die detail sal ek iemand wat hier lees eerder spaar.... al wat ek weet is dat ek myself hierdie self inflicted injury nooit weer wil aandoen nie.
Ons huurders het by 'n silwerskoon huis ingetrek en ek voel goed om die plek aan hulle oor te laat. Intussen moes ek hier orde skep tussen chaos om dit ten minste 'n bietjie huislik te laat lyk en voel, want gister was ook Daan se verjaardag. Te kapoet om uit te stap vir ete het ek besluit om ietsie spesiaal vir hom hier bymekaar te sit. Dit was alles goed en lekker, maar vandag volg ek Chris se resep vir die dag - doen so min as moontlik.
kernreaktor terreine
Om Chris S se vraag te antwoord, vandag se artikel is net 'n positiewe/realistiese repliek van iemand op die aankondiging van energie minister, oor die moontlikheid van nuwe kernkrag reaktore.
Dis duidelik, en ek stem saam, die nuwe reaktore sal nie maklik weer konvensionele Koeberg tipes wees nie. Die oogmerk is om die SMR [Small Modular Reactor] tipes te gebruik. Indien dit gebaseer is op wat tevore plaaslik vêr gevorder was, die PBMR [Pebble Bed Modular Reator] tipe, dan kan dit eintlik enige plek geplaas word, veral daar waar nie tans ESKOM krag is nie. Bloot omdat die reaktore met gas as hitte ruiling medium werk, en nie grootmaat water benodig nie. PBMR was waar ons vriend Grootwind voltyds [?] betrokke was.
Dit geen tans aanleiding na 2 opsies;
a] die lang en moeilike pad. Om weer die vorige PBMR program te hervat, weer kundigheid op te bou, weer poog om die brandstof plaaslik [Necsa] te vervaardig, en dan natuurlik die reaktor ontwerp te voltooi en te bou.
b] die kortpad, koop alles in van ander lande en wek elektrisiteit op.
Nou die kwessie van terreine, as ek korrek onthou is daar tans behalwe Koeberg- en Necsa terrein, slegs Thyspunt wat ge-oormerk is vir 'n kernreaktor. Ek is nie seker of Thyspunt en Gourikwa reeds ten volle gelisensieer is nie.
Hier wag lekker projekte vir persone wat by projekbestuur en omgewingsimpakstudies 'n bydrae kan maak.
Dit is so donners hartseer dat die PBMR projek gesneuwel het, omdat politiek by moedertjie R...nd eerder konvensionele reaktore wou aangekoop het.
Die Koringkorrel reaktors…
Die Koringkorrel reaktors gaan dalk my volksgenote baasraak Oom Wessel. Waar sou die mense studeer en ervaring bekom het. Neef glo dat 10 000 uur, in die veld, net so paar jaar nog short vir gemaklik wees.
Los nou maar die brkommernis. Jy het self vertel dat jy nou werkloos is omrede op 65 verloor ń mens sy intellek en ervaring raak vergete. Hier kan ek stem hoor, ek soek elke oggend my morsdood oor waar ek my koffie neergesit het. Sien, so tussen die katte kosgee, elkeen op ń spesifieke plek, loop ek en slurp. Dan sit ek die beker neer, knoop ń geselsie aan met die kat, en gaan haal die volgende een se bakkie. Een na die ander.
Op ñ stadium onthou ek van die koffie ...Dân kos dit soek. Bly ek werk nie met atome nie, sou dalk gevaarlik wees. Dalk beter Oom Wessel is ook afgesit, ons is ewe oud.![]()
Herman...
....praat vir jouself ou mater!!!
Ek het blykbaar 'n lang halflewe en gloei nog geheel aktief.![]()
Het dalk al vertel;
die ioon loop by die Fisika kroeg in, en sê vir die barman----ek dink ek het 'n elektron verloor oppad.
Vra die barman---is jy seker?
antwoord die ioon----jip, ek is positief daaromtrent!!!
Afrikaanse naam vir ......
...Pebble Bed Reactor waarop toentertyd besluit was, is Korrelbedreaktor.
So jy is redelik naby met jou korinkorrel idee.
Die korrels is so 60mm in deursnit, en bevat ongeveer 60 000 klein korreltjies, met deursnit van 0.9 mm.
Die Duitsers het dit "kugels" genoem.
Is ek nog reg Grootwind???
Hmm Wildehont. Ek wil graag…
Hmm Wildehont. Ek wil graag saam gesels oor die Kugels, maar.. weet nie hoe om te doen nie. Tone trap en Range Rovers.
Jissie,...............
............julle praat in vreemde tale en ons ou gewone outjies voel skoon uitgesluit.
Chris S....
....o gaats, nou wonder ek of jou "kugels" ook oor 'n klomp potensiële energie beskik.
Ek weet wel dat korrelbed "kugels" oor baie skop beskik!!!
Meer oor kernkrag...
Wessel se oorsig hierbo is korrek, ek het dit net dat sowat 15 000 van die "coated particles" in 'n "kugel" is en nie 16 000 nie. Maar wat is 'n 1000 nou tussen vriende! As mens teruggaan na die onlangse geskiedenis van kernkrag in SA sal mens opmerk dat daar van tyd weer 'n vlaag van positiewe stories in die media verskyn wat meestal beweer dat ons binnekort weer me 'n kern program gaan begin....waarna dit weer stil word tot die volgende keer. Punt is dat (1) onse land nie (meer) die finansiële vermoë het om so iets aan te pak nie (die naweek weer 'n storie gesien dat so 'n program ons R60 miljard gaan kos...ek vind dit lagwekkend), PBMR het met sluiting van die mpy gereken dat ons 'n verdere R32 miljard benodig (bo en behalwe die R9.2 miljard wat tot en met laat 2010 reeds spandeer was om een reaktor te bou...selfs dit was 'n geweldige onderskatting van die werklike koste...). Om dinge in konteks te plaas....die twee nuwe steenkool kragstasies Medupi en Kusile was begroot om sowat R79 miljard en R81 miljard onderskeidelik te kos...agv swak projek bestuur en korrupsie is die huidige werklike koste vir Medupi sowat R234 miljard en vir Kusile sowat R233 miljard. Wat skedule aanbetref het die twee projekte rondom 2007 begin.
En (2), min van die oorspronklike PBMR mense is nog in die land en/of aktief in die kern bedryf, baie is reeds nie meer in die lewe nie of afgetree of in die buiteland. Die PBMR program het sowat 2000 hoogs kundige mense betrek...om so 'n span oor 'n klomp organisasies heen te hervestig gaan minstens 'n dekade of meer neem...en ons agbare minister van donkerte reken ons bou sommer vinnig 'n kern aanleg tussen nou en 2030! Hou in gedagte dat Eskom waarskynlik dieselfde "ervare" projek bestuurders gaan gebruik wat die reggekry het om na byna 20 jaar steeds nie Medupi en Kusile te voltooi nie (hulle is darem amper daar, maar die beplande skedule was voltooing teen 2015....). Kern aanlegte is boonop berug vir hulle projek skedule glip en koste groei...maar nou ja ons sit met "ervare" projek bestuurders wat nie eers steenkool aanlegte binne skedule en koste kon bou nie
Ek kan sekerlik boekdele skryf oor waarom nuwe kern aanlegte dalk nie meer so 'n goeie idee is as wat dit 20 jaar of so gelede was nie...toe ons nog die kundiges gehad het. Dis nou wat 'n volledige plaaslike program aanbetref. Uiteraard kan mens gaan vir 'n sg. Build, Operate, Tranfer (beter bekend as 'n BOT) kontrak met iemand soos die Sjinese, Russe, Amerikaners, Franse of Suid Koreane - van die lot sou my keuse die Amerikaners, Franse of Suid Koreane wees. Maw hulle verskaf die finansiering en bedryf die aanleg na voltooing en teen die einde van die aanleg se lewensduur word ons die "trotse" eienaars van 'n "ietwat gebruikte" kern aanleg of dan, die afbreek daarvan, hantering van kern afval, ensovoorts is ons probleem terwyl hulle wegstap. Dit kan werk maar dit vra ook vir 'n baie volwasse bestuursbenadering....
So Thyspunt is op ‘n mespunt
Dis wat ek aflei uit GW se plasing hier bo. Ek het dit oorweeg om ‘n erfie te koop in Oesterbaai met die idee om ‘n huisie daarop te sit en dit aan kontrakteurs te verhuur terwyl hulle Thyspunt kernkragsentrale bou en dit sodoende af te betaal vir gebruik na voltooiing van Thyspunt. Maar selfs as Thyspunt wel gebou word, sal dit waarskynlik nie voltooi word voor ek doodgaan nie.
Hou hierdie spasie dop
Ek weet nog self nie wat die uiteinde gaan wees nie. Daan het pas my bussie onder sy afdak uitgetrek. Ons het môre 'n dr's afspraak in Nelspruit en wat daarna gaan gebeur kan niemand raai nie (ek ook nie, maar miskien net....ek tref voorsorg deur alles wat mag nodig wees te pak, kos sal vorentoe uitgesorteer word.) Weet nie waarvoor ek wens nie, maar ek wens......
Hier is iets belangrik..............
..............besig om te gebeur en dit het niks met kernkrag te make nie. Ons hou met valkoë dop !
Klink vir my dat Onse eie …
Klink vir my dat Onse eie "Dola" (Rona) oppad wildtuin toe is, dalk om by die klomp Bolanders te gaan aanklop. Ons sal hier moet dophou soos Len noem, hier gebeur ietsie.






Kernenergie in SA
Vir almal wat belangstel. lees gerus die artikel in vandag se Citizen getiteld;
Guess who's woken up ....nuclear energy.
Ek moet seg, die skrywer opper 'n paar geldige besprekingspunte.