Wil nou nie Mnr Boucher se draad kaap nie, so begin eerder ander ene. Ons beplande Junie/Julie Scotties kamp kom vinnig nader, bespreek vanaf 14 junie tot 31 Julie. Wat die jaar bykom is 'n kuier by die kinders in Ierland. Ons het hulle en die twee kleinkinders meer as 3 jaar gelede gesien en slegs per video oproepe gekommunikeer op verjaardae en ander spesiale dae soos Kersfees. Jongste kleinkind was maar 6 maande oud toe hulle hier vertrek het, so hy ken sy Ouma en Oupa net as 'n vriendelike ou tannie en oom op 'n video skerm! Tans beplan ons om rondom 17 Aug hier te vertrek en weer 7 Sept daai kant huis toe te vertrek. Maar dalk verleng ons die trippie met 'n week om sommer met die terugkomslag bietjie by ons ou Britse vriende in Wootton Bedfordshire te kuier, hulle ook meer as 10 jaar gelede gesien. (Ons het vanaf Sep '91 tot Okt '94 ook in Wootton Bedfordshire gewoon toe ek besig was met studies by Cranfield Universiteit). Pas begin met die visum aansoeke vir Ierland....wat 'n gedoente. Lyk asof hulle 'n hele opstel van 'n motiverings brief, 6 maande se bank state en nog 'n klomp goed nodig het. Dan moet my seun ook nog 'n lang brief skryf wat ons uitnooi om die tyd by hulle te bly met motiverings, en en en....lyk nou makliker om Trompie te gaan besoek! Gelukkig het net die Goewerment 'n visum nodig en sy kry dit gratis en verniet agv my Germaanse paspoort..en as die gedoente klaar is wag die VK sinne ook nog vir haar. My BA lugmyle wat ek al lank in plek hou begin nou hulle waarde wys, lyk asof ons nie juis veel hoef in te betaal vir ons vlieg kaartjies met BA nie. Soos Turkish Airlines Chris B se gunsteling is, is BA ons sinne. Hulle het my nog altyd goed en profesioneel behandel...meer as wat ek van SAL kan sê. Vanaf Junie gaan ons 'n besige tyd hê, 6 weke Scotties, 2 weke herstel verlof by die huis en dan gallavant ons weer oorsee.
Vordering met visums
Die einde van die jong papier geveg is naby. Gister ten einde laaste al die nodige papier werk deurgestuur aan die mense wat die aansoeke vir ons fasiliteer. Ma moet beide 'n Ierse asook 'n Britse visum kry en ek slegs 'n ETA (Electronic Travel Authorisation). Lg het vanoggend deurgekom so dis in plek. Ma het nou komende week afspraak met die Iere en later dieselfde dag met die Britte. Die berg dokumentasie is nogal erg maar die is gedoen, slegs gestempelde bank state kry om te bewys dat ons nie 'n las op enige een van die twee lande se burgers sal wees nie en dat ons self kan betaal dan is dit slegs die twee onderhoude wat oorbly vir vroulief. En dan wag ons...gelukkig is alles in Pretoria.
Ek is bly ...
... vir jou onthalwe Grootwind. Visum-aansoeke bly maar 'n schlep
Grootwind...
....versigtig tog met bankstate. As engelse dit sien, gaan hulle jou met ope arms, ballone en rooitapyt inwag, hulle kort 'n nuwe aanvals fregat!!!
Nee wat Wessel, as hulle die…
Nee wat Wessel, as hulle die state sien huil hulle sommer kliphard saam met ons!
Gister het vroulief haar onderhoude gehad met die Iere en die Ingelse, gelukkig net 2 ure uitmekaar, Iere in Brooklyn en die Ingelse in Menlyn. Kon darem ietsie vinnig eet en koffie drink tussenin. Alle papierwek en vorms is darem nou in, betalings gedoen en nou wag ons, Hopelik net so 4 weke vir die Ingelse en sowat 6-8 weke vir die Iere. Met bietjie geluk is die visums gedoen net voor ons afsleep Scotties toe.
Heng, die Ingilse is darem…
Heng, die Ingilse is darem maar effektief, Kwessie van 'n dag na my aansoek vir 'n ETA (Electronic Travel Authorisation) wat ek nodig het vir my Germaanse paspoort, was dit elektronies uitgereik (en vir 2 jaar geldig). Vroulief se Ingilse visum vir haar SA paspoort) is Dindag laas week gedoen tydens haar onderhoud, en vanmiddag is haar eVisum reeds uitgereik en aan haar ge-epos. Nou wag ons nog net vir vroulief se Ierse ene wat sekerlik bietjie langer sal duur. Dan kan ons vliegkaartjies koop en begin fokus op Scotties wat voor die Ierse avontuur sal geskied.
die Ingilse se effektiwiteit....
...moet dus nie gemeet word aan hulle deelname aan Trompie se Iran manewales nie![]()
Trompie se bende het mos…
Trompie se bende het mos hier rondom 1776 die Ingilse op hulle herrie gegee. Sedertdien, sal mens kort-kort hoor as die Yanks die Ingilse onder druk plaas die Ingilse spog met hule "special relationship" met Trompie se mense!
Trompie se bende het mos…
Trompie se bende het mos hier rondom 1776 die Ingilse op hulle herrie gegee. Sedertdien, sal mens kort-kort hoor as die Yanks die Ingilse onder druk plaas, die Ingilse spog met hulle "special relationship" met Trompie se mense!
Ek sien GW....................
...................maak seker ons neem kennis van sy inset oor die Yanks en die Ingelse.
Nee Len, het bloot gehakkel…
Nee Len, het bloot gehakkel toe ek "Save" kliek! ![]()
Laaste visum goedgekeur
Al 'n ruk terug my ETA en Ma haar VK visum gekry. Die Ierse visum vir Ma was nogal 'n lang gewag. Pas epos ontvang dat Ma se Ierse visum ook nou goedgekeur is. Neem haar paspoort Maandag oggend na VFS in Brooklyn om die visum in te plak. Nou nog net vlieg kaartjies bespreek. Wat die Scotties voorbereidings aanbetref wag ons vir die gemodifiseerde tent wat komende Vrydag behoort te realiseer. In tussentyd word die Sensasie die komende week gewas en stadigaan gepak.. Volgende naweek begin ons besigste tyd hierdie jaar, 6 weke by Scotties, 3 weke terug by die huis en dan 3 weke by die kinders en kleinkinders in Ierland. Beide kleinkinders asook hulle pa verjaar die tyd wat ons daar is...sien verskriklik daarna uit!
Duur vakansie...
...met pa en kleinkinders wat tydens kuier verjaar. Oupa sal moet uithaal!!!
Vanoggend Ma se visum in…
Vanoggend Ma se visum in haar paspoort laat invoeg, sommer ook 'n verrassing, dis vir meervoudige in/uit trips vir die volgende amper 4 jaar, ons het slegs 'n enkel in/uit ene verwag. Vliegmasjien sitplekke ook bespreek en betaal, ons vlieg oor Londen na Dublin toe met die Britse Lugdiens. Nou nog die Scotties kamp doen en dan kan ons beginne regmaak vir die besoek aan die Ierse kleinkinders.
Weggeloop.....
sonder om koebaai te sê? Volgens wat hier bo geskryf is sou Groowind gister in Scottburgh aangeland het. Ek hoop dit was 'n veilige rit saam met al die Comrades-verkeer. Verder sien ons uit na foto's (Germaanse vlag ingesluit).
Geniet dit - hoop die weer speel saam vir 'n heerlike see-vakansie.
Dankie Wessel...
vir die reghelp. In die eerste skrywe was die datums nog 14 Junie - 31 Julie (skryf dit maar toe aan opgewondenheid). So wag ons om te hoor van vordering en hou duim vas dat die tent aan die vereistes voldoen![]()
Jammer vir die stilte, was…
Jammer vir die stilte, was maar 'n gedoente om Trokkie te pak en alles in te kry, alles wat bekend was met die Fleetline is nou anders...besluite besluite, wat pas, wat nie, wat bly, wat nie. Darem Dinsdag oggend sowat half ses die oggend innie pad geval, heel voorspoedig gery, Sensasie het haar goed gedra. Natuurlik net nadat ons haar staangemaak het mbv die movers besluit die battery se Dometic slim laaier om op te pak...lang storie maar ek sal later die week meer vertel. So ook is die tent verandering gedoen en uiters netjies ook, ook meer om te vertel later!
Grootwind...
se regop tent

Dis sommer baie netjies. Net jammer julle het nie die sykante en voorste afdak aaneen gemaak, soos 'n Jurgens tent nie.
Nietemin ek is baie jaloers





Oupa en Ouma....
....sien sekerlik meer uit na die Ierland vakansie, as Scotties toe..
Video oproepe is maar net nie "tasbaar" dieselfde nie.