Ek is sommer lus om oor my opgewondenheid oor ons uitgestelde Kruger Wildtuin besoek in Meimaand volgende jaar te gesels. Dis nou presies oor 159 dae wat ons by 'n Kruger Wildtuin-hek sal inry. Ons besoek in 2019 is deur siekte in die wiele gery en 2020 se besoek is deur Covid-19 se inperking beduiwel. Dit behoort dus vanselfsprekend te wees dat 2021 se Wildtuinbesoek iets besonders gaan wees.
Die plan is dat ons op Sondag 2 Mei uit Brackenfell, Kaapstad sal vertrek en die sowat 450km tot by Karoo Nasionale Park sal aflê om so teen middagete daar te arriveer. Ons gaan net rustig verkeer en miskien so 'n draaitjie of wat ry. Sou ons besluit om op die N1 te bly, is ons volgende stop 500km verder by Reyneke Park in Bloemfontein. (As alternatief kan ons die N12 ry tot by Riverside Lodge by Modderrivier, 30km duskant Kimberley). Vandaar is ons volgende stop Pretoria waar ons 6 nagte sal oorbly. Ons het heelwat vriende en familie in die omgewing en gaan hier 'n hond uit 'n bos kuier. Presies waar ons die wa in Pretoria gaan trek, is nog onder bespreking.
Ons ingangshek is hierdie keer by Orpen en ons sal eerder nie die N4 en dan oor Lydenburg ry nie, maar eerder met die N1 en dan oor Tzaneen, daarna met die R36 en R521 tot by Klaserie en daarna met die R531 tot by Orpen. Dis omtrent 470km se ry en ons sal seker eers laat die middag van 10 Mei daar arriveer. As iemand dalk onlangse, eerstehandse kennis het van 'n oornagplek by Klaserie, sal ons oorweeg om daar oor te slaap, andersins sal dit maar Maroela by Orpen moet wees. Ons het 'n klompie jare terug nie 'n goeie ervaring op 'n gasteplaas in die Klaserie-omgewing gehad nie.
Vir eers is dit genoeg.
Wie was.....
Wie was onlangs by Maroela ? Ons was 9 jaar gelede in 2011 laas daar en ek het iewers iets gelees van opgraderings. Is dinge nog daar soos van ouds....lekker!!!!!!!!!! ?
Ons en ons kampvriende het in die verste hoek, teen die heining gestaan, onder 'n apiesdoringboom.

Orpen en Maroela is in die Kingfisherspruit-area (links van die ligblou Satara-gebied) geleë.
Maroela
Ek kan glo dat jou lus vir die wildtuin behoorlik uithang. Dis erg om 'n besoek aan hierdie paradys vir só lank ontneem te word.
My ou Tzaneen-vriend is 'n gereelde Maroela-besoeker. Hy het, sedert die opheffing t.o.v. oornagbesoekers, nog nie weer gegaan nie aangesien Maroela tans nog gesluit is vir die herbou van 'n nuwe ablusieblok. Orpen (nie die hek nie) is ook nog gesluit aangesien die hutte se grasdakke herdek word.
Ons het verlede jaar ons lang kuier in die wildtuin afgesluit met 5 nagte in Maroela - lekker kampie. Ons was nie gelukkig om 'n kampplek teenaan die grensdraad te kry nie. As daar nou een kampie is waar hulle besoekers meer kan laat betaal vir 'n grensdraad-kampplek, is dit Maroela (ook Punda).
Die enigste negatief wat ek ervaar het van Maroela is dat jy beperk is t.o.v. jou keuse vir wildritte. Maar dit is egter 'n goeie wildomgewing.
Die enigste goeie kampeerplek naby Orpen (waaraan ek kan dink) is Swadini.
Lekker beplan. Ek vind nog eers weer my voete tuis na my afgelope kort besoek.
Maroela info
More Len
Jip, mens moet oefen vir die vroeg roer in die wille tuin.
Ek was seker 20 jaar laas in Maroela, maar ek gaan volgende jaar daar begin. Jy moet maar asb terugvoer gee sodat ek voorbereid daar aankom.
Ek het weer lus om N4 te sleep, Lydenburg, deur my tonnel en dalk eers 'n aand of 2 in Swadini Aventura oor te bly.
Groete
Opgewondenheid
Ek kan net dink hoe opgewonde Oom Len is oor die besoek. Vanjaar was die eerste jaar in my lewe wat ek nie die wildtuin kon besoek nie, en dit was vir my baie erg. Twee jaar na mekaar moet hel wees. Ek hoop van harte niks ry julle besoek die keer in die wiele nie. Ons sien self vreeslik uit na ons besoek in Julie.
Flenters
Lydenburg
Daardie pad van Belfast af tot Ohrigstad is al lank sleg, maar die laaste keer wat ons dit gery het in 2018 was dit flenters. Ek sou dit nie graag met ‘n karavaan op sleeptou wou ry nie. Dis jammer, want ek hou van die oorgang van hoëveld na laeveld wat mens ervaar, en daardie daling van Abel Erasmus deur die tonnel is darem maar heerlik. Die N1 is vervelig in vergelyking.
Lydenburg-roete
Ek het weer lus om N4 te sleep, Lydenburg, deur my tonnel
Ek het dié pad verlede jaar (in die teenoorgestelde rigting) gery - sonder om te sleep - maar ek sal dit beslis nie oorweeg met my karavaan daarlangs te ry nie. Die volgende is 'n uittreksel uit my terugvoering van verlede jaar:
Nou die pad na Dullstroom. Om in kort op te som - 'n ou wat oorweeg om die roete oor Abel Erasmuspas via Orighstad en Lydenburg na Dullstroom met 'n karavaan aan te pak, moet sy kop laat lees. Dit is 'n nagmerrie op plekke, selfs met net jou bakkie.
die pad aan die noordekant (m.a.w. waar jy afsak na Hoedspruit se rigting) is in 'n swak toestand. Van bo-af, in die rigting van Orighstad, is die padoppervlakte heel goed tot by laasgenoemde - selfs om 'n karavaan te sleep.
Vanaf Orighstad (rigting Lydenburg) is die eerste gedeelte swak. Tot waar jy die grens oorsteek na Mpumalanga. Daarvandaan is dit skrikwekkend tot in Lydenburg. Die strate in die dorp self is haglik. Die pad tussen Lydenburg en Dullstroom grens ook maar aan nagmerrie toestande. Beslis nie geskik vir 'n padkaravaan nie.
Ons is vanoggend uit Dullstroom weg onder uiterste digte mis. Die pad vandaar tot Belfast (en ook die strate in Belfast) is uiters treurig. Ek sal na my ervaring van gister en vanoggend nooit enigsins verder dink om dié roete te sleep nie. Ek sal dit nie eens weer wil ry net met die Hilux nie.
Jy moet maar mooi dink voor jy daardie roete ry.
Opgraderings by Maroela :
ChrisB, ek is bewus van opgraderings by die kampie en merk op die besprekingsplatform dat kampplekke wel reeds toegeken word. Ek sou egter graag wou hoor by iemand wat pas daar was of die verbouings klaar is en veral, hoe dit lyk. Ek kry nêrens amptelike inligting nie.
Opgraderings by Maroela :
Len - sover my kennis strek is hulle beslis nog besig by Maroela en Orpen. Iemand, wat ek op 12 Nov by Mooiplaas mee gesels het en wat deur Orpenhek ingekom het, het my vertel dat dit lyk glo woes in Orpen. Daar word gewerk aan die hutte, maar die gras groei omtrent kniehoogte.
Len,, baie mooi fotos, ek…
Len,, baie mooi fotos, ek sien sommer ook uit na jou wegbreek.
'n Swart-en-wit in 'n foto......
...............het darem ook sy eie bekoring :-

Len...
... as jy bly by jou beplanning, om via Tzaneen te ry na Orpen, sal ek voorstel dat jy nie vanuit Tzaneen met die R36 suidwaarts ry nie. 'n Baie beter opsie is om op die R71 te bly tot by Gravelotte. By laasgenoemde ry jy reguit aan, m.a.w. draai nie links na Phalaborwa nie. Hiervandaan word dit dan die R526 waarop jy vir net meer as 32 km ry totdat jy by die Phalaborwa/Hoedspruit-pad aansluit. Net meer as 57 km verder kry jy dan die R531 na Orpen. Hierdie roete is 8 km langer as die R36 vanuit Tzaneen, maar is in 'n baie beter kondisie as die R36. My ou vrien in Tzaneen, wat deesdae bykans eksklusief net in Maroela kamp, het hierdie roete aan my voorgestel. Ek het dit al twee keer gesleep en dit is 'n uitstekende pad.
Mica roete
Middag Chris
Ek maak 'n nota van die inligting. Ek ken myself, waarom moeilikheid soek as mens weet van 'n beter opsie.
Ons moet eintlik'n draad skep waar ons sulke pad/roete inligting versamel.
Groete
Baie dankie....
ChrisB, dankie vir die voorstel. Ek ken die pad baie goed tot by Gravelotte en het nog nooit reguit aan oor Mica gery nie. Dit gaan beslis in Meimaand so gedoen word.
Stupid vraag : As ek sou besluit om by Forever Resorts Swadini oor te slaap,
- hoe ry ek vanaf Hoedspruit om by Swadini uit te kom
- hoe ry ek vanaf Swadini tot by Orpen ?
Len ...
.... in Hoedspruit draai jy regs op die R527 (die pad wat na die JG Strijdomtonnel lei). Slegs 15 km verder draai jy links op die R531. 'n Verdere 11,5 km vanaf hierdie afdraai, kry jy Swadini se afdraai. Daarvandaan is dit 'n verdere 11,5 km tot by Swadini.
Dan keer jy terug na die R531, draai regs en 'n verdere 20 km kry jy die afdraai (ook R531) na Orpen. En net duskant 43 km is jy in Orpen.
Baie dankie.....
......Chris - het jou aanwysings uitgedruk en by my vakansie-dokumente gebêre. Dit lyk vir my absoluut die ideale roete en oornagplek voor ek Maroela anderkant Orpen bestorm.
Beplanning is lekker
Die beplanning en vooruitsien na 'n vakansie neig om soms amper lekkerder as die vakansie self te wees. Ek kan agterkom dat jy en ek in dieselfde kategorie val wat die beplanning aanbetref. Geniet dit!






Vanaf....
Vanaf Meimaand tot en met September maak die KNP hekke om 06:00 oop. Ek oefen dus solank om 05:15 op te staan, aan te trek en koffie te drink - ek wil nie met my broek op my knieë gevang word as ek in Meimaand daar arriveer nie.