Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Dankie Geert & Wessel Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -8 hours ago
Motorhome hoogte Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -8 hours ago
Wessel Oktober 2026 saam gesels Geert -10 hours ago
Exclusive hoogte Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -11 hours ago
Klipdraai in die mark Klipdraai Geert -11 hours ago
Simpel antwoord Oktober 2026 saam gesels Geert -11 hours ago

Die wildtuin wink alweer

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Môre-oggend hierdie tyd wil ek al bykans agter die Hilux se stuurwiel ingeskuif het. Die grootste deel van die pakkery is klaar. Na vanaand se kant toe moet net die laaste items ingelaai word. My mikpunt is om ongeveer 08:00 te vertrek. Die eerste beplande stop is Aan De Doorns kelder duskant Worcester om bietjie op te "stock" met die noodsaaklike Bolandse voggies - Ralie se voorraad BC Bacchanté (Brandvlei kelder) is klaar gelaai.

'n Lekker "brunch" by Veldskoen padstal in die Hexvallei (waar ook druiwe gekoop sal word), koffie by Laingsburg se Wimpy, stop by Rietfontein padstal naby Leeu-Gamka vir bene-rek en volmaak met diesel by die Engen Truck Stop by Beaufort-Wes is alles deel van môre se beplanning.

Ons wil môre-aand twee van Travalia, waar ons oornag, se braaipakke aanskaf. Dit bestaan gewoonlik uit twee lamstjops, 'n stukkie boerewors, braaibroodjie en aartappelslaai.

So opgewonde soos 'n kind wat vir die eerste keer sirkus toe gaan.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 30/03/2024 - 17:26

... 17:30 veilig by Travalia arriveer vir ons laaste aand se oorslaap. Dit smaak my mens moet eerder jou N1-reise beplan om op die Saterdag van Paasnaweek op dié pad te wees. Dit was een groot plesier om die N1 te ry met net so hier-en-daar 'n groot vragmotor op die pad. My skatting is dat daar nie meer as 5 - 10% van die normale vragmotor-verkeer op die pad was nie. Ek vertrou dat die situasie môre tydens ons laaste skof dieselfde sal wees.

0
Brits

Wessel Strydom

Sat, 30/03/2024 - 19:21

Seg ek netnou vir Marie---wonder wat braai julle vanaand by Travalia. 

Julle moet lekker rus en veilig laaste skof klaarmaak môre.

Later moet jy tog vertel waarom Malelane onder jou vel ingeklim het. Ek het nog net 1 keer daar vir 1 aand oornag, en het gehou van ablusie uitleg, en die kombuisie vir kampeerders.

0
Dullstroom

Rona du Plessis

Sat, 30/03/2024 - 19:38

om te hoor dat julle bietjie "afslag" gekry het op die verkeer. 

Lekker aand, en ek hoop dat die pad ook môre so 'n plesier sal wees.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sat, 30/03/2024 - 19:59

...............terwyl ons wag op ChrisB om op jou vraag te antwoord sal ek solank vertel waarom hierdie kampie onder my vel ingekruip het.  Eerstens, die gevoel wat jy kry as jy daar inry dis 'n "no nonsense", outydse kampie wat jou dadelik laat terugdink aan hoe al die Wiltuin kampe dekades gelede gelyk het, weg van die gejaag van selfs destydse stede en dorpe. Die vragmotors op die N4 het my nog nooit gepla nie terwyl ek gereeld die seekoeie se gesnork in die nabygeleë Krokodilrivier, duidelik, veral in die nag, gehoor het. Ek weet nie of dit is omdat ons altyd in Meimaand daar rond is nie, maar ek het nog nooit die suikerriet-meule gehoor nie.  Daar is dikwels luiperds en/of leeus in die omtrek van die kampie.  Tot dusver het ons nog altyd met die ingaan Wildtuin toe by Malelane oornag en hierdie keer doen ons dit weer, maar ons gaan nou ook met die uitgang weer daar oornag want ons moet die 150km vanaf Satara nog op ons laaste dag aflê. 'n Ander belangrike rede om altyd tydens ingang of uitgang by Malelane te oornag, jy rek die tydperk in die Wildtuin tot die maksimum !

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 01/04/2024 - 06:55

Die 2 ou Bouchers is terug by die huis na hulle kort wildtuinkuier. Ons het gister vir 'n tweede dag 'n stil N1 beleef wat vragmotors aanbetref - wat 'n plesier om dan dié roete te ry. Maar dit was warm, alhoewel ons dit nie in die Hilux beleef het nie danksy 'n lugreëlaar. Selfs in die Hexvallei was dit 35°C - aldus die Hilux se termometer wat buite temperatuur aandui.

Ek is dankbaar om te kan sê dat ek nooit oor die afgelope net meer as 4 800 km wat afgelê is, nie die geringste teenspoed ervaar het nie. Ook die Snomaster het hom uitstekend van sy taak gekwyt. A.g.v. ons kort verblyf by die onderskeie plekke, is dit nooit uit die bakkie gelaai nie. 'n Elektriese koord is elke aand aan dié vrieskas gekoppel en terwyl ons gery het, het die bakkie se battery die takie verrig. Die kas was pal op -17 tot -18°C.

Ek wil my plaaslike slagter komplimenteer. Hy't die smaaklikste en sagste lamstjops, varktjops, "pork rashers" en "sirloin steaks" vir my verskaf - alles netjies vakuum-verpak. En Joey's se boerewors was weereens voortreflik, alhoewel ek alte duidelik besef het dat (met die uitsondering van die pa) dit 'n vreemde smaak vir Noorweërs is.

Van Noorweërs gepraat - watter aangename huisgesin om voor gasheer te wees. Hulle kon nie genoeg van die wildtuin kry nie en het elke denkbare oomblik rondgery op soek na wild - en gelukkig gewees om meeste van die "graag-wil-sien" wild te kon beleef. Maar rondom Skukuza, en selfs Onder-Sabie was wild maar skaars. Die Sabierivierpad (H4-1) was die stilste wat ek dit ooit beleef het. Toe ons egter Donderdag, nadat ons die kinders en Noorweërs op Skukuza lughawe afgesien het, weer suid in die rigting van Malelane begin beweeg, het die wild meer volop begin word.

Ietsie anders - die gruispaaie in die suide is een en elk in 'n horribale toestand. Ek praat nie van sinkplaatpad nie, maar gate wat tydens nat toestande a.g.v. plasse water op die paaie ontwikkel het. Almal lyk soos 'n klomp dronk bestuurders soos wat mense links en regs beweeg om die gate te vermy. Ek raai dat daar eers gewag word dat die reënseisoen tot 'n einde kom alvorens dié paaie geskraap gaan word. Ek is eerder 'n gruispad-ryer in die wildtuin, maar hierdie keer het ek dit grootliks vermy.

Die N1 ry grootliks baie lekker alhoewel daar so hier en daar 'n gedeelte is wat bietjie voos getrap is deur die swaar voertuie. Daar is veral 'n deel tussen Richmond en Hanover wat redelik ongelyk is. Ek het die idee gekry dat die dele wat "gelap" is met swak vakmanskap gedoen is. Heelwat dele is (en word) herbou. Die dele wat klaar herbou is, ry soos 'n droom.

Ek word tans nog redelik besig gehou met my Noorweegse gaste, wat môre vir 4 aande na Hartenbos vertrek en Sondag terugvlieg. Maar ek gaan uit my pad uit om hulle te bederf, want wat ek gehoop het, het reeds gebeur. Ons is genooi om met ons volgende besoek aan Roemenië vir hulle in Noorweë te gaan kuier. Sy "mountain cabin" en 'n voertuig om die land te verken is aangebied. Met dié dat Roemenië van vandag af deel van die Schengen-state word, skakel dit ook toekomstige visum-probleme tot 'n groot mate uit.

Ek het 'n paar video clips wat ek graag op die forum wil laai en dan sal Wessel hopelik o.a. sien waarom ek half liries raak oor Malelane-kampie. Intussen het Len dit mooi raakgevat in sy kommentaar.

En Wessel - verskoon my gebrek aan wildsfoto's. My ou selfoontjie is nie 'n watwonderse kamera vir sulke foto's nie - daarom neem ek maar net "pansy" foto's (soos jy dit stel), alhoewel ek nou nie juis weet wat 'n "pansy" foto presies behels nie.

Tot later.

0
Brits

Wessel Strydom

Mon, 01/04/2024 - 07:13

Môre Chris B, dankbaar julle is veilige terug by die huis. Sien uit na detail van vakansie met foto's/videos. 

Ek het sommer gegrap met die mooi Pansy skulpdiertjie] foto's wat Chris S afgeneem het by Dwarswegstrand.

Die Kruger se gruispaaie is dus in dieselfde toestand as NoordWes en Brits se teerpaaie. Ou Grompie het gelukkig 'n ingeboude slinger "mode". Standaard funksie op alle Hiluxe wat plaaslik verkoop word.

0
Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 01/04/2024 - 08:37

Dankie vir die terugvoer tot dusver.

Wat die gruispaaie in die Kruger Wildtuin betref, word dit wyd bespreek deur toeriste dat dit veral in die suide, in 'n haglike toestand is.  Die rede is blykbaar dat die betrokke kontrakteur se kontrak eindig einde April maar om een of ander rede het die werk gestaak waarvoor niemand 'n verklaring kan kry nie.  Verder is die tenderproses vir 'n nuwe kontrakteur nog nie afgehandel nie en ek raai hier is 'n bestuursprobleem want 'n nuwe tender moes lankal reeds aan 'n nuwe kontrakteur toegestaan gewees het.

Ons is juis oppad na die suide van die Wildtuin, maar ek gaan my nie daaroor verknies nie en sal maar soos jy gemaak het, vernaamlik op die teerpaaie bly.

Ek sien uit na die beloofde video clips en fotos wat nog gaan kom.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus