Ek begin maar die gesprekslyn, want die slapies raak nou min. Ons is twee gesinne wat saam toer. Almal ken my kombinasie van 2008 Prado en 2008 Kavango. Ons vriende Riël en Jacolien se kinders is byna presies so oud soos ons twee, maar hulle het twee dogtertjies en sleep ‘n 2005 Penta met ‘n 2017 Everest 2.2. Vir die toer leen hulle ‘n vriend se nat nuwe Conquerer Commander. Hulle huur ook ‘n 4x4 Fortuner by Kgalagadi Lodge vir die eerste paar dae in die park. Hier is ons program:
31 Maart: Worcester tot by Oranjerus in vaste verblyf. ‘n Baie lang dag.
1-3 April: Kalahari Trails Eco Camp kampering 36km buite Twee Rivieren hek.
3-5 April: Polentswa kampering ‘n uur noord van Nossob. Die eerste dag ook ‘n lange
5-9 April: Rooiputs kampering. Die eerste dag ook ‘n lange.
9 April: Vaste verblyf buite Brandvlei. Ook ‘n redelike lang dag.
10 April: Worcester. Omtrent ewe ver as die vorige dag, maar sonder om kamp op te pak die oggend.
ChrisS.................
............dankie vir jou jaloers-maak plasing hierbo.
Lyk na 'n lekker, interessante besoek aan die Kgalagadi - voorspoed met die verdere voorbereiding en die bladveer-herstelling.
Kgalagadi ...
Dit is nog een van my begeerte besoeke wat waar moet word. Daarom mis ek niks al plaas ek niks weens my begeerte.
Die Prado se diagnose
Die Prado het gister teruggekom van die internis af, en is in uitstekende gesondheid volgens hom. Daar is geen speling op die waterpomp nie, die pype na en tussen die petroltenks is gesond, geen van die pulleys voor op die enjin toon enige geraas nie en die olies is almal mooi skoon en op die regte vlakke. Dit sluit in enjin, diffs, ratkas en oordragkas. Hier onder is twee voorbeelde. En die beste van alles, is dat Pierre Nolte my nie ‘n sent vra vir die ondersoek nie! Nou moet net die busse op die vering nog vervang word volgende week.


T-minus 5 slapies
Vrydag na werk het ek die stuk hoekyster wat ek in 2020 gemaak het om aan die Everest se sleepstang vas te bout en vragmotor modderflappe aan te hang om die opspat van klippe teen die Kavango te keer, verander om op die Prado te pas. Ek het ook die vervoerband wat Riël vir my gekry het by ‘n vriend wat by Breërivier Bottelering werk, gemeet en gesny om aan die hoekyster vas te bout. Desember 2020 het die klippe die vragmotor modderflappe flenters geslaan, en die vervoerband is aansienlik ligter. Ek het genoeg gehad dat ek sommer voor aan die Kavango ook twee flappe gaan hang vir ‘n dubbele laag beskerming.
Gister het ek die Kavango se pyp wat warm water na die kraan by die yskas se laai voer langer gemaak, sodat dit nie moet skeef trek by die hidroliese koppelstuk by die geyser wanneer die yskas se laai oop is en dalk lek of kraak nie. Ek vermoed dis waarom dit by Houdenbek gekraak het. Ek het ook die Kavango se wielmoere getorque en al die boute wat die hoekstutte en die wa se dop op sy raam hou en die yskas se laai se spore aan die wa vashou vasgedraai en die gewaste grondseile opgevou en in hulle sakke gesit.
Die week moet die Prado se vering se busse vervang word en die Kavango se bladvere. Dan is dit nog net pak. Salomien en Jacolien het vanoggend spyskaart beplan, en ek het my maar met iets ander besig gehou sodat ek nie hoor wat hulle alles wil inpak nie.
Klippe en vervoerband
Hello Chris S
Waar het jy so erge grond/gruis-pad gesleep dat die opspat klippe so geniepsug was?
Ek het 2021 tot by Mata Mata gery, en ook halfpad Nossob toe, en kan net sand, sand en fyngruis onthou.
Moenie bekommer oor die kosvoorraad nie, julle gaan lekker eet, en jy kan die Prado se kussings oppomp tot 3 bar, en Kavango het nuwe stywe vere.
Dalk van reën?
Ons het die driehoek gedoen van TR na Nossob, Mata-Mata en terug TR toe. Dalk het die donderstorm ons laaste aand by Nossob die klippe oop gespoel of in die pad in gespoel. Ek onthou ‘n stuk pad tussen Kamqua piekniekplek en Mata-Mata wat baie klippe gehad het. ‘n Paar het deur/verby my vragmotor modderflappe gekom en die Kavango ‘n paar gaatjies in die veselglas gegee.
Ons het nog 35 slapies…
Ons het nog 35 slapies voordat die tone in die Rooi sand is. Moet se as ek nou nog moet rubbers en vere ruil, k@k ek my vol. Hier is nuwe battery ingesit, en die Cruiser gepolish. Shopping lys halfpad deur. 4 de is die Onkoloog afspraak in George, dan kry ons die Rump en ribbes by Van Rensburgs, seker een van die beste slaghuise in die land.
By die huis gekom, word die agterseat uitgehaal en die drawers ingesit. Nou pak oupa met mening. Giep is ingeboek by die kennels Vrydag die 28ste, maak tenk dan vol. Saterdag 29 ry ons tot by Prieska se River view, sowat 500km. Sondag 30ste tot by 2 Rivieren.
Nee wat
Moet se as ek nou nog moet rubbers en vere ruil, k@k ek my vol.
Die Kavango se vere is ‘n onverwagse gebeurtenis, maar ek gaan nie met ‘n geruste hart kan gaan daarsonder nie. Die busse op die Prado se vering weet ek lankal van, en dis die laaste ding wat aan die voertuig gedoen moet word. Dit vat vier ure en dis nie nodig om ‘n afspraak te maak daarvoor nie. Ek neem dit môre in.
Wat my eerder onrustig maak is alles wat ek nog by die werk moet afhandel voor Vrydag.
Rooiputs leeus
Ek is nie op Facebook nie, maar kan sien wat die mense in Kgalagadi sien en daar plaas. Ek hoop die menere wag tot ons oor bietjie meer as ‘n week daar is.

Wildehont moet praat as ek…
Wildehont moet praat as ek sy gesels besoedel en hy dit eksklusief wil hou.
Persoonlik hou ek van waar die inligting op een bespreking gedeel word. Maak dit maklier vir weer oplees, en vir ander om die inliging te bekom.
Ek meen die hele Prado V6 het hy op n ou plasing van my gesit, en dit het n lekker bespreking geword.
Geensins
Wildehont moet praat as ek sy gesels besoedel en hy dit eksklusief wil hou.
Nee, laat loop. Ek gaan van volgende Maandag af stil raak hier, want ons gaan geensins sein hê in Kgalagadi nie. Maar gesels gerus verder!
Ek meen die hele Prado V6 het hy op n ou plasing van my gesit, en dit het n lekker bespreking geword.
Dis mos nie nodig om elke keer ‘n nuwe een te begin nie. Oom Neef het syne verkoop, en ek het een gekoop - iemand op die forum moet die petrolbedryf aan die gang hou.
ChrisS..................
Wat my eerder onrustig maak is alles wat ek nog by die werk moet afhandel voor Vrydag.
............ek sien jy hou ons ou klompie hier by die huis op die hoogte met jou Kgalagadi voorbereidings - baie dankie daarvoor want dit is lekker om alles "saam te doen". Die tyd raak nou bitter min en ek raak ook nou onrustig - miskien moet jy nou maar eers daardie take by jou werk gedoen kry en voorlopig van ons ou klompie vergeet.
Gaan nou die Prado haal
Ek het dit vanoggend ingevat om die busse op die vering te laat vervang. Ek wou nie ‘n kans vat met die ou, gekraakte busse op Kgalagadi se sinkplaat paaie nie. Alles is nou nagegaan en vervang waar nodig, en ek voel gerus oor die voertuig. Tot op hede het dit my R176 000 gekos (koopprys en onderhoud ingesluit) en alles werk soos dit moet. Dit ry ook soos ‘n droom en sleep ‘n bars hou.
Die Kavango se vere moet nog gedoen word, ek wag vir die kwotasie daarvoor. By die werk sit ek meestal in vergaderings en sorteer tussendeur kwessies uit. Ons is ook besig met herstrukturering wat baie tyd opneem. Ek werk dus die afgelope drie weke saans tuis, want hier kry ek amper niks gedoen nie.
Nuwe draad gemaak vir los battery se sonpaneel
Ek moes voorheen die 10m verlengkoord gebruik wat ek eintlik gemaak het om die Kavango se sonpaneel in die son te sit as die wa in die skaduwee staan of die silwer seil op het. Die een het 6mm kabels wat nie aan mekaar vas is nie, toe sit ek dit in die pyp (weet nie wat mens dit noem nie).

Dekselse Lumeno
Hulle proppe lyk nes ander BH proppe, maar pas nie op lg nie. Dit is nou glad nie vir my amusant nie. Ek sal môre wraggies twee BH proppe moet gaan koop anders is my nuwe draad nutteloos. ![]()
Vere gekry
Ek het vanmiddag bietjie senuagtig geraak toe ek vir Louis bel en hy sê hy sukkel om ‘n geskrewe kwotasie uit die verskaffer van die bladvere vir die Kavango te kry. Hy het darem nou-nou laat weet hy kon dit kry, en die vere kom môre. Saam met arbeid en BTW gaan dit R3150 kos om die Kavango se vere te vervang. Ek gaan dit môre laat doen, en die wa sommer buite los hier voor die huis sodat dit Donderdag gepak kan word.
Onthou die kleur!!!!
Chris, onthou om regte kleur te koop. Net soos in politiek is kleur baie belangrik by BH-proppe.
So op die hond se stert
Baie bly vir jou part. Die prys klink baie goed. Laat weet tog waar hy dit gevind het.
Pak julle altyd binne die garage, maar mense kan elkgeval sien as julle hak en die perseel verlaat. Ek bly maar sensitief oor die adverteer dat ek weggaan, maar dis soms onvermydelik.
By my weet die rampokkers nie rerig watter huis se mense gaan met vakansie nie.





Die gesprek....
....gaan ek intens dophou en opslurp.
Jy is voorwaar in 'n fanatastiese vriendekring. Ek vra myself af, sal ek my Kavango vir iemand beskikbaar stel, vir so 'n vakansie.
Wees nou asseblief beleefd, en MOENIE vir die Everest wegry nie, gehoor.!!! Dink tog aan die minderbevoorregtes