Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
GOOGLE aanteken Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -1 hour ago
Hennie... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -2 hours ago
Wessel, ek kan nie "thumbs… Oktober 2026 saam gesels HennieBo -2 hours ago
Dankie Geert & Wessel Oktober 2026 saam gesels Rona du Plessis -12 hours ago
Motorhome hoogte Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -12 hours ago
Wessel Oktober 2026 saam gesels Geert -14 hours ago

Roemenië - 2023

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Soos gister op die ou gesprekslyn (Roemenië 2022) genoem, het ons baie skielik besluit dat ons vir ons ver kinders wil gaan kuier. Dinge het in plek begin val vandag. Ek het 'n bietjie rond ge-"shop" t.o.v. vlugte se pryse en uiteindelik vasgehaak by ons voorkeur redery, naamlik Turkish Air. Afgesien van hulle goeie pryse versus die Wes-Europese rederye soos KLM, Air France, British Air en Lufthansa, vind ons dit baie gerieflik. Ek is inderwaarheid verstom oor die hoë tariewe van die ander genoemde rederye. Qatar bied ook baie mededingende  pryse, maar ek het sekere kriteria waaraan vlugte verkieslik moet voldoen.

Beide Turkish en Qatar laat jou 2 x 23 kg ingeweegde bagasie in die ekonomiese klas toe, terwyl meeste van die ander rederye slegs 1 x 20 kg toelaat. Ons vind die groter bagasie-toelating gepas omdat die kinders gewoonlik bestellings vanuit Suid-Afrika het. En dit pas ons ook om dingetjies vandaar af terug te bring.

Maar die grootste vereiste is die "lay-overs" by jou aansluitings-lughawe. Ek verkies 'n minimum van 2 uur en 'n maksimum van 3 uur. As jou vertrek vertraag word in bv. Kaapstad, dan kos dit soms hardloop om 'n aansluiting by die volgende lughawe betyds te haal. Só het ons bv eenkeer net-net ons aansluiting by Schiphol in Asterdam gemaak, maar ons bagasie het agterweë gebly - nie lekker nie. En dan het ons eenkeer 7 uur op Zürich gewag vir 'n aanluiting en eenkeer 5 uur op Charles de Gaulle in Parys. O donkie - dan gaan tyd darem stadig verby en jou gatvol-metertjie loop hoog in die rooi.

Gevolglik vind ons Turkish baie gerieflik. 10 Uur 25 minute nadat ons uit Kaapstad vertrek het, land ons in Istanbul waar ons 'n 2 uur 30 minute "lay-over" het. En die vlug vandaar na Bucharest is slegs 1 uur 15 minute. Met die terugkeer is dit net so gerieflik. Dit pas ons soos 'n handskoen.

Noudat die vlugte bespreek en betaal is, is dit nog net die visum-aansoek formaliteite wat gedoen moet word. En gelukkig het Roemenië 'n konsulaat in Kenilworth, Kaapstad wat dinge baie vergemaklik. Nou is dit net die nodige dokumentasie se bymekaarmaak waarvan die een 'n bietjie tyd vat, naamlik 'n uitnodiging wat my dogter aan ons moet rig. Dit moet opgestel word deur 'n notaris.

En voila - as alles volgens plan verloop vertrek ons Maandag 14 Augustus vanuit Kaapstad 17:05 en arriveer in Bucharest die volgende oggend om 08:15 - vir 6 weke by ons ver kinders. O.a. is ons daar vir my kleindogter, wat daar gebore is en grootgeword het, se 17de verjaarsdag. Ouma is kinderlik opgewonde.

 

Worcester

Wildehont

Mon, 14/08/2023 - 07:59

Daar breek die dag aan as ek dit nie mis het nie. Julle moet veilig reis, en die besoek baie geniet. Ek hoop alles verloop glad, en dat daar geen gesondheids uitdagings sal wees nie. As ek reg onthou is die kat weg, so hooikoors gaan onder beheer wees. 

0
Jeffreys baai

Lapskag

Mon, 14/08/2023 - 08:29

Veilig reis julle 2 ou bejaardes en gaan geniet die kuier, vergaat van die lank sit in die vliegtuig, jy kan weer kom rus wanneer julle eendag terug is. Is net 10 ure op 'n slag, kon langer gewees het. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 14/08/2023 - 08:39

... jy's heeltemal korrek. As alles volgens plan verloop dan lig Turkish Air - Vlug TK 45 om 16:20 sy wiele vanmiddag van Kaapse bodem af en land weer môre-oggend om om 03:35 (SA tyd) in Istanbul, vanwaar ons weer 06:00 (SA tyd) vertrek om 07:15 (SA tyd) in Bucharest te arriveer. Daarvandaan is dit ongeveer 2 uur se ry tot my dogter-hulle se dorp (Calarasi) langs die Donourivier op die grens met Bulgarye.

Alles is gepak en ons wag vir ons seun om ons 11:00 te kom oplaai.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 14/08/2023 - 09:51

Ons het vanoggend vroeg gewikkel - dalk te vroeg. Want nou's ons klaar ge- sh&#, shave & shampoo, klaar gepak en alles wat daarmee gepaardgaan. En nou wag ons vir ons "lift" lughawe toe.

Roemenië

Lapskag - ek "battle" om vir langer as 'n uur en 'n half op 'n slag in my voertuig te wees. Dan wil ek stop en uitklim. Nou wat nou te sê van vanaand se 11 uur en 15 minute. O nee - amper vergeet ek. Jy klim minstens 'n halfuur voor vertrektyd al in die vliegtuig en as jy gelukkig is, nie voor 15 minute na landing uit die vliegtuig nie. Dus vir alle praktiese doeleindes lê daar ongeveer 12 ure van ongemak voor. Maar dit was my eie keuse - dus het ek seker geen rede om te "moan" nie.

0
Jeffreys baai

Lapskag

Mon, 14/08/2023 - 13:38

Hi Chris, jy kan seker opstaan en in die vliegtuig loop ook om te help, stoot die tee trollie dan is jy besig vir 'n rukkie.. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 16/08/2023 - 08:04

Ons het gisteroggend hier in Roemenië arriveer na 'n lang, maar tog nie só 'n moeisame, reis - ek dink dit kan toegeskryf word aan 'n goeie slaappil wat gesorg het dat ek darem 'n paar uur se lekker vaste slaap ingekry het.

Op Kaapstad lughawe staan 'n man agter ons in die ry om in die vliegtuig te klim. Hy vra sommer terloops waarnatoe ons vlieg. Toe ek sê dat ons bestemming Bucharest is, sê hy dat hy ook Roemenië toe gaan om by sy dogter te gaan kuier. En daar sit ons 3 toe wraggies in 'n ry langs mekaar in die vliegtuig. So drink ons in Istanbul saam koffie op die lughawe en hy sit net een ry agter ons op die vlug na Bucharest. Dit was lekker om al die pad 'n gespreksgenoot te hê. Johan Neveling, woonagtig in Brackenfell, se dogter (getroud met 'n Roemeen) woon in Brasov - en ons paaie skei toe eers op Bucharest lughawe.

Nietemin - ons is veilig by ons kinders in 'n warmrige Calarasi. Vir die res van die week is die voorspelling elke dag vir meer as 30 grade met so hoog as 36 later in die week. Gister was 'n vakansiedag in Roemenië - St. Mary's Day. By die die plaaslike sokkerstadion het daar 'n feestelike atmosfeer geheers met 'n groot tydelike verhoog waar o.a. hul tipiese volksdanse uitgevoer is. Hierdie mamparra laat toe sy foon by die huis en kon ongelukkig nie foto's neem van die kleurryke geleentheid nie. My dogter het wel 'n video-clip met haar foon geneem, maar ek weet nie hoe om 'n video hier te plaas nie.

Ons het sommer die sowat 2 km na die stadion gestap in die soel aandluggie. Hoe lekker om totaal veilig te voel terwyl jy in die donker strate stap. Die nagenoeg 4 km se stap, na die lang vlug, het bygedra tot 'n uitstekende nagrus. Watter lekker gevoel om hier in jou dogter se woonstel wakker te word met die wete daar lê nog 6 weke van lekker kuier voor.

0
Brits

Wessel Strydom

Wed, 16/08/2023 - 08:15

...die dat foon by huis vergeet is. Bedoel jy in jou dogter se plek, of op Kleinmond????

Moenie bekommer, ons sal dit nie teen jou hou nie, geniet jy net die vakansie. Moet nou net nie naby 'n landsgrens gaan staan en tong uitsteek vir Putin of sy trawante nie. laugh

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 16/08/2023 - 09:11

... nee, darem net hier by haar woonstel gelos.

Toe ons gister vanaf Istanbul oor die suidelike deel van die Swartsee ('n klein oseaan) vlieg, kon ek beswaarlik dink wat gaan alles in die noordelike deel aan wat Putin en sy trawante dag na dag, vir meer as 500 dae reeds, k@k aanjaag. Die ou sal darem nie ligtelik iets in Roemeense gebiedswaters aanvang nie, want Roemenië is deel van NAVO.

Die dorp in Oekraïne (Reni) waar my kinders baie betrokke is en onlangs 'n troue gaan bywoon het, se hawe langs die Donourivier, is gisteraand weer gebombardeer. Mag Putin 'n ernstige kramp in sy gat kry.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 16/08/2023 - 13:41

Ek kom gisteraand agter dat my dogter-hulle se internetspoed is soos blits. Ek doen toe gou 'n spoedtoets. Die resultaat lyk as volg:

Roemenië

Hulle betaal R340 p.m. vir 'n "uncapped" pakket. Dit sluit hulle volle TV-pakket in wat gelykstaande is aan ons DSTV Premierpakket plus 'n telefoon met onbeperkte plaaslike oproepe.

My "fibre" pakket is ook onbeperk, maar het 'n aflaaispoed van 30 Mbps en 'n oplaaispoed van 15 Mbps en kos my R499 p.m. My DSTV kos my tans R799 p.m. en my foonkontrak beloop R821 p.m. wat 400 minute en 5 GB data insluit. M.a.w. my totale pakket beloop meer as R2000 p.m. vir genoemde dienste. En hulle internetspoed is 21 keer vinniger as myne.

Ons word gerook met bogenoemde kostes in SA.

 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 18/08/2023 - 20:13

Dit grens aan onsmaaklik warm hier in Roemenië. Temperature bly in die mid-30's, maar vir eerskomende Maandag word selfs 37 grade voorspel. Maar die feit dat hier geen beurtkrag is nie maak op vir die warmte.

Danksy my skoonseun se "slimgeid" kan ons darem môre die toets tussen die Bokke en Wallis kyk. In SA kan ek DSTv op my rekenaar en my selfoon ook kyk, maar nie hier nie. Die probleem is opgelos toe ons 'n VPN App op my rekenaar en selfoon aflaai. Nou kan ons alle DSTv kanale kyk. En ek projekteer dit via Bluetooth na sy slim-TV. Tegnologie??? Ongelooflik!!

0
Worcester

Wildehont

Sat, 19/08/2023 - 07:44

Ons het nog ‘n dom TV wat ons vir ‘n trou geskenk gekry het amper 14 jaar gelede. As mens baie TV kyk kan ek dink ‘n slim TV is lekker. Geniet die rugby en die hitte. Ons het eergister lekker reēn gehad. Maandag kom ‘n groot front onder die kus verby en sal ons seker nog kry. 

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 20/08/2023 - 12:06

Vandag se voorspelling (al la YR.no) is 37 grade. As jy wegstap uit die woonkamer, waar 'n lugreëlaar is en waar ons ook slaap, is die res van die woonstel sommer behoorlik warm. My ander helfte is egter 'n baie kouelike mens en die lugreëlaar moet nie snags aangeskakel wees nie. Ek slaap dus maar met 'n waaier wat direk op my waai (nie op haar nie).

Ons kon darem gister die toets tussen die Bokke en Wallis kyk op hulle grootskerm TV. Maar dit was nie sonder frustrasies nie. Ek weet nie of dit toegeskryf kan word aan die VPN nie, maar kort-kort het ons die beeld verloor. Ons kon darem die grootste gedeelte van die wedstryd volg. Ek hoop maar dit werk beter met eerskomende Vrydagaand se wedstryd teen die All Blacks op Twickenham.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 20/08/2023 - 14:28

.... die humiditeit is tans laag. As dit hoog moes wees sou dit seker baie onsmaaklik gewees het. Soggens vroeg is maar die beste tyd om buitentoe te gaan, maar hierdie ouballie het lui geraak om vroeg op te staan. Ons gaan dus maar na skemeraand se kant toe uit om bietjie te gaan stap. Dan wemel die strate van mense wat almal bietjie koeler omstandighede soek na die dag se hitte. Maar jy waag dit nie dan buite alvorens jy jouself goed gesmeer het met muskietweerder nie - andersins vreet die goed jou op. Die ouballe is lief om dan bymekaar te kom rondom 'n bier of twee. Die skaduryke sypaadjie reg onder my kinders se woonstel is o.a. een van dié gewilde kuierplekke. Ek wens ek kon verstaan wat die ou lotjie praat met hulle luidrugtige geselsery. My dogter sê hulle is baie lief om politiek te praat. Hierdie foto het ek eergisteraand vanuit die kombuisvenster geneem.

Roemenië

0
Oudtshoorn

neef Herman

Mon, 21/08/2023 - 07:20

Dit is vir my regtig n wonderlike instelling om so by mekaar te kom vir n geselsie. Selfs die Engelse met hulle pubs waar die omgewing se inwoners mekaar gereeld raakloop moet lekker wees. Ons hier is nie sosiaal genoeg na my mening nie, en hopeloos te min vriende. Wel ek is beslis so.

0
Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 21/08/2023 - 08:27

Ja Neef, ek is ook nie só 'n sosiale dier nie, maar dit lyk tog só lekker as die klomp ouballe so saamkuier. Ek het al verskeie kere vir Ralie en my dogter gesê dat ek dit nogal sal geniet om so saam te kuier. Maar nie een van hulle kan Engels praat of verstaan nie. Stap ek daar verby en groet hulle in Engels, kyk hulle my met sulke verdwaasde uitdrukkings aan. Ek was vroeër die week verbaas toe Ralie in die klein supermark naby ons, vir 'n kort vroutjie wat nie 'n sekere item op die rak kan bykom nie, vra of sy kan help (natuurlik in Engels) - en die vrou reageer ook in Engels. Dit is amper ongekend in hierdie deel van Roemenië dat iemand Engels verstaan of kan praat. In Bucharest is dit 'n egter 'n ander situasie - daar kom jy redelik goed oor die weg met Engels.

Ek het intussen agtergekom dat pryse van alledaagse items aansienlik duurder geword het. My dogter bevestig dit. Maar ons Rand het ook intussen (sedert verlede jaar dieselfde tyd) met sowat 16% verswak teenoor die Roemeense RON. Jy koop beslis aansienlik minder met jou Rand as 'n jaar gelede.

0
0
Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus