Soos gister op die ou gesprekslyn (Roemenië 2022) genoem, het ons baie skielik besluit dat ons vir ons ver kinders wil gaan kuier. Dinge het in plek begin val vandag. Ek het 'n bietjie rond ge-"shop" t.o.v. vlugte se pryse en uiteindelik vasgehaak by ons voorkeur redery, naamlik Turkish Air. Afgesien van hulle goeie pryse versus die Wes-Europese rederye soos KLM, Air France, British Air en Lufthansa, vind ons dit baie gerieflik. Ek is inderwaarheid verstom oor die hoë tariewe van die ander genoemde rederye. Qatar bied ook baie mededingende pryse, maar ek het sekere kriteria waaraan vlugte verkieslik moet voldoen.
Beide Turkish en Qatar laat jou 2 x 23 kg ingeweegde bagasie in die ekonomiese klas toe, terwyl meeste van die ander rederye slegs 1 x 20 kg toelaat. Ons vind die groter bagasie-toelating gepas omdat die kinders gewoonlik bestellings vanuit Suid-Afrika het. En dit pas ons ook om dingetjies vandaar af terug te bring.
Maar die grootste vereiste is die "lay-overs" by jou aansluitings-lughawe. Ek verkies 'n minimum van 2 uur en 'n maksimum van 3 uur. As jou vertrek vertraag word in bv. Kaapstad, dan kos dit soms hardloop om 'n aansluiting by die volgende lughawe betyds te haal. Só het ons bv eenkeer net-net ons aansluiting by Schiphol in Asterdam gemaak, maar ons bagasie het agterweë gebly - nie lekker nie. En dan het ons eenkeer 7 uur op Zürich gewag vir 'n aanluiting en eenkeer 5 uur op Charles de Gaulle in Parys. O donkie - dan gaan tyd darem stadig verby en jou gatvol-metertjie loop hoog in die rooi.
Gevolglik vind ons Turkish baie gerieflik. 10 Uur 25 minute nadat ons uit Kaapstad vertrek het, land ons in Istanbul waar ons 'n 2 uur 30 minute "lay-over" het. En die vlug vandaar na Bucharest is slegs 1 uur 15 minute. Met die terugkeer is dit net so gerieflik. Dit pas ons soos 'n handskoen.
Noudat die vlugte bespreek en betaal is, is dit nog net die visum-aansoek formaliteite wat gedoen moet word. En gelukkig het Roemenië 'n konsulaat in Kenilworth, Kaapstad wat dinge baie vergemaklik. Nou is dit net die nodige dokumentasie se bymekaarmaak waarvan die een 'n bietjie tyd vat, naamlik 'n uitnodiging wat my dogter aan ons moet rig. Dit moet opgestel word deur 'n notaris.
En voila - as alles volgens plan verloop vertrek ons Maandag 14 Augustus vanuit Kaapstad 17:05 en arriveer in Bucharest die volgende oggend om 08:15 - vir 6 weke by ons ver kinders. O.a. is ons daar vir my kleindogter, wat daar gebore is en grootgeword het, se 17de verjaarsdag. Ouma is kinderlik opgewonde.
Mannemarak ...
... kyk hoe lekker eet so 'n Suid-Afrikaanse klong nou aan (wat ek dink) 'n tipiese Suid-Afrikaanse lekkerny is- vetkoek met kerrie-maalvleis. My braaitande is nou wel getrek, maar lekker-eet hier in die vreemde het nie agterweë gebly nie. Afgesluk met 'n Roemeense Sauvignon Blanc - eerste klas.
Geniet dit Chris. Ek dink…
Geniet dit Chris. Ek dink daai braaivleis onttrekkings simtome is besig om in te skop.
Darem bees?
Is die maalvleis darem van ‘n bees afkomstig? Ek weet maalvleis is weggooi vleis, en dis waarom dit gemaal word. Maar solank dit die laagste moontlike vet inhoud het, geniet ek ‘n maalvleis gereg. Hier is bv ‘n baie lekker bobotie resep. Dalk kan jy jou dogter en haar gesin bederf deur iets eg Suid-Afrikaans op te dis. Ek kan nie onthou of blatjang een van die plaaslike produkte was wat jy moes saamvat vir hulle nie. Anders sal appelkooskonfyt maar moet instaan.
Dit is waar Hennie - die ou…
Dit is waar Hennie - die ou lyf verlang na 'n stukkie braaivleis. In die verlede het ek op die woonstelbalkon gebraai, maar nie meer nie. Sedertdien is daar nuwe intrekkers in die woonstel bo hulle (hulle woon op die derde vloer van 'n vierverdieping gebou). Die destydse boonste bure was tegemoetkomend wat die rook aanbetref, maar die huidiges het dit laat verstaan hulle hou nie van die rook nie - verstaanbaar.
'n Suid-Afrikaanse vriend van my kinders wat eens in Bucharest gewoon het (nou in Zagreb - Kroasië) het vertel van toe hy die eerste keer op sy woonstelbalkon gebraai het, het die sekuriteitswagte van die kompleks waar hy gewoon het, hom onder van die grond af "gevloek" toe hulle die rook sien (hy het op die boonste vloer gewoon). Hy't gesien die ouens wys na hom en skree iets in Roemeens, maar o.a. het hulle baie duidelik "fok" geskree. Hy't eers later uitgevind dit is die Roemeense woord vir vuur.
Dit is darem beesmaalvleis
My dogter is erg vol strooi as dit kom by vleis. Die algemene vleis is vark en hoender - indien laasgenoemde kwalifiseer as vleis. Hier in Calarasi is darem 'n netjiese slaghuis wat net beesvleis hanteer. Sy soek haar snitte van absolute "skoon" vleis uit - menende dat daar nie 'n teken van vet aan die vleis moet wees nie - en laat dit daar maal.
Ons het nie hierdie keer Mrs Balls blatjang saamgebring nie, want haar voorraad is nog goed. Ons het wel appelkooskonfyt gebring, maar sy kook ook haar eie. Sy't genoem dat sy o a. bobotie op die spyskaart het as twee van hulle Amerikaanse medewerkers volgende week hier is. Ek moet sê, my dogter is nogal 'n knap kok. Sy't o.a. voedseldiensbestuur aan die destydse Kaapse Technikon Hotelskool studeer, waar hulle uiteraard baie praktiese tyd in die kombuis deurgebring het.
En ja - hulle praat Roemeens. Hulle het dadelik 'n privaat "tutor" gekry toe hulle meer as 20 jaar gelede hier kom woon het. My dogter het die taal vinnig geleer, my skoonseun het aanvanklik bietjie gesukkel maar praat nou goed. My kleindogter is hier gebore (sy word eerskomende Dinsdag 17) en het amper in Roemeens grootgeword. Alhoewel hulle huistaal Afrikaans is, is Roemeens eintlik maar haar eerste taal.
In goeie hande
Nee wat, julle is in goeie hande en gaan aanhou lekker eet. Wat kos beesvleis per kg daar in Rand terme?
Beesvleis word by genoemde…
Beesvleis word by genoemde slaghuis in "hompe" (vakuumverpak) verkoop. Jy soek jou spesifieke pak vleis (jy moet die hele een koop) en die slaghuis sny dit of maal dit vir jou. Net beesskenkel (shin) is reeds in skywe gesaag en individueel vakuumverpak.
Die gemiddelde prys is sowat R140/ kg, maar dit is puik gehalte vleis. My dogter koop ook haar beesvleis daar as sy biltong maak. Sy gebruik Suid-Afrikaanse Freddy Hirsch biltongspeserye en hang dit in 'n klein biltong "box" wat my skoonseun prakseer het met waaiers wat lug insuig en uitsuig. My kleindogter is gek oor biltong. Wanneer hulle in SA kom kuier moet oupa sorg dat daar ten alle tye biltong en droëwors in die huis is. En nie wildsbiltong nie - dit moet beesbiltong sonder vet wees.
20 jaar !
20 jaar in Romeniē Chris. So hulle het seker al lankal burgerskap. As ek mag vra, is hulle langtermyn planne om permanenent daar te vestig. Veral nou met die kleindogter wat n Romeen is. Moeilike een, maar Chris en Ralie kan dalk n paar van hulle stoepsit jare daar gaan bly, op die 4de vloer bokant hulle. ![]()
Is té warm en té koud
dalk n paar van hulle stoepsit jare daar gaan bly, op die 4de vloer bokant hulle.
En dan ongehinderd braai sonder om mense bo jou met rook te pla. Nee - die 4de vloer sal nie werk nie. Hier's nie 'n "lift" nie - jy klim dus trappe. As ek voel hoe voel drie stelle trappe soms, dan weet ek nie of ek kans sien vir nog 'n stel nie - die ou rugbyknieë wil nie meer lekker saamspeel nie.
En buitendien - hulle somers is te warm en hulle winters te koud.
Nee Neef - hulle het nog nie burgerskap nie, net permanente verblyfreg. As sendelinge het hulle nie 'n vaste inkomste nie en dit is 'n vereiste. My kleindogter kan egter as Roemeens-geborene op 18 wel aanspraak maak op burgerskap. Die "association" waarby my kinders betrokke is, het my dogter nou as sekretaresse aangestel. Sy sal dan 'n salaris verdien wat haar kanse op burgerskap mag bevoordeel. Hulle het nietemin besluit dat dit hulle land van die toekoms is en alhoewel hulle terugverlang na baie aspekte van Suid-Afrika (o.a. die wildtuin), het hulle geen begeerte om terug te keer SA toe nie.
Die kleindogter begin nou met haar Graad 12 jaar en beoog om daarna in Frankryk by 'n "Culinary School" te gaan studeer. Haar kop staan ook, soos haar ma s'n, in 'n voedselrigting.
As ek sien hoe veilig dit hier is, kan ek verstaan hoekom hulle hier wil bly. Hier loop ons saans tot wie weet watter tyd ongehinderd in die strate rond - sonder enige vrees. Ek wil nie eens saans in Kleinmond in my eie straat gaan loop nie.
Ek wil nie eens saans in…
Ek wil nie eens saans in Kleinmond in my eie straat gaan loop nie.
Nou wat moet ons sê van hier in "bobbejaansberg". Kan dit nie eens waag in die dag.
ChrisB, ek is baie bly julle geniet die kuier..............
..............by julle kinders in veilige omstandighede - en daar is nog baie dae na die einde van julle kuiertjie. Veiligheid is soos ons almal weet, 'n helse probleem in Suid-Afrika. Jy kan enige tyd van die dag die radio aanskakel en in die eerste nuusberig word daar vertel van 'n tromp-op doodskietery iewers.
Ons woon in 'n sekuriteitskompleks en gelukkig was hier nou al vir die 18 jaar wat ons hier woon, geen geval van misdaad nie. Kinders ry op hul fietse en skaatsplanke in die strate rond, stappers en hardlopers is oral te sien, enige tyd van die dag en ma's met stootwaentjies stap heerlik rond. Minister Koebaai (of soiets) wil egter kompleks besture in 'n ander rigting dwing om verskillende kulture toe te laat om hul kultuur te beoefen. Sy wil 'n bok op haar perseel in 'n sekuriteitskompleks aanhou en dit ook daar slag sonder dat die reëls dit verbied ! Wil jy nou meer, maar ek verstaan dis sommer net 'n verkiesing-foefie en sal nooit slaag nie.
Ns. Ek hou van veilige, omheinde komplekse en daarom is ek ook so lief vir die Wildtuin !
Graffiti
Ek sien vanoggend tydens my en Ralie se oggendstappie die volgende stukkie graffiti op 'n muur: "I asked God for a bicycle, but I know that is not how God works. So I stole a bicycle and asked God for forgiveness."
Dit laat my toe sommer dink aan 'n ander stukkie graffiti wat ek jare gelede op 'n winkelmuur in Grabouw gesien het: "Ek is 'n kind van Gam. Daarom is steel oraait."
Gasontploffing
Ek sien vanaand oor die nuus daar was 'n reuse gas-ontploffing in Romenië en 60 mense is ernstig beseer.
Enige nuus ChrisB ?
Len ...
... my dogter het gou op Google geloer. Dit was 'n ontploffing, inderwaarheid 2 ontploffings, by 'n gas-vulstasie in 'n dorp naby aan die hoofstad Bucharest. Twee persone is dood en 58 ernstig beseer, waaronder 35 brandweermanne wat opgedaag het vir die eerste ontploffing en toe verras is deur die tweede ontploffing. Hier in hulle dorp is ook verskeie gas-vulstasies. Hier is 'n klein persentasie voertuie wat op LPG loop wat blykbaar aansienlik goedkoper is as petrol of diesel.
Daar is nie vanaand plaaslike nuus gekyk nie, want hier het 2 Amerikaners kom eet wat van môre af kom teëls lê in die gebou wat hulle inrig vir hulle "ministry" werk.
Só dankbaar ...
... dat ons ook 'n bietjie koeler weer hierdie kant het - die voorspelling is slegs vir 30 grade vandag. Hier was gisteraand 'n taamlike donderstorm met lekker reën wat die omgewing afgekoel het. Ek en Ralie gaan stap soggens, maar vroegoggend is dit gewoonklik sommer al warm sodat jy weet jy gooi sweet af. Vanoggend se stap was egter verfrissend.
Vanaand is dit hierdie ou se beurt om vir die twee Amerikaners wat hier kom teëls lê het kos te maak. Bobotie en geelrys met pampoenkoekies is op die spyskaart vanaand.
Koeler weer
Is die humiditeit hoog daar? Ek gee nie om vir hoë temperature nie, maar dan moet die lug droog wees. Eerder 40 met lae humiditeit as 25 met hoë humiditeit. Lekker kook vanaand!
ChrisB, pasop vir doodwerk.................
...........want jy is eintlik met vakansie.
Humiditeit
Ek vind nie Calarasi se humiditeit-voorspelling nie, maar Bucharest word aangedui vir 70% vandag en Constanta (teen die Swartsee) se voorspelling is vir 71% vandag. Calarasi is naastenby presies halfpad tussen genoemde twee.
Hier trek tans so 'n welkome ligte briesie, die deur na die balkon staan oop en dit voel nog nie nodig om die lugreëling aan te skakel nie.
As ek kyk na die langtermyn-voorspelling blyk dit dat die temperature darem nou gaan begin afneem. Vanaf Maandag (4 Sep) tot en met Donderdag (14 Sep) wissel die temperature tussen 21 en 30 grade. My kinders is nie baie "happy" dat die einde van die somer begin aanbreek nie, want hulle winter is die teenoorgestelde met uiters straf koue en sneeu. Minus-temperature is dan aan die orde van die dag.





Nie net daar nie
Plaaslik is dit ook maar so. Die mandjie waarop inflasie syfers bereken word is vir seker nie dieselfde mandjie as wat ons gesin koop nie.