Soos gister op die ou gesprekslyn (Roemenië 2022) genoem, het ons baie skielik besluit dat ons vir ons ver kinders wil gaan kuier. Dinge het in plek begin val vandag. Ek het 'n bietjie rond ge-"shop" t.o.v. vlugte se pryse en uiteindelik vasgehaak by ons voorkeur redery, naamlik Turkish Air. Afgesien van hulle goeie pryse versus die Wes-Europese rederye soos KLM, Air France, British Air en Lufthansa, vind ons dit baie gerieflik. Ek is inderwaarheid verstom oor die hoë tariewe van die ander genoemde rederye. Qatar bied ook baie mededingende pryse, maar ek het sekere kriteria waaraan vlugte verkieslik moet voldoen.
Beide Turkish en Qatar laat jou 2 x 23 kg ingeweegde bagasie in die ekonomiese klas toe, terwyl meeste van die ander rederye slegs 1 x 20 kg toelaat. Ons vind die groter bagasie-toelating gepas omdat die kinders gewoonlik bestellings vanuit Suid-Afrika het. En dit pas ons ook om dingetjies vandaar af terug te bring.
Maar die grootste vereiste is die "lay-overs" by jou aansluitings-lughawe. Ek verkies 'n minimum van 2 uur en 'n maksimum van 3 uur. As jou vertrek vertraag word in bv. Kaapstad, dan kos dit soms hardloop om 'n aansluiting by die volgende lughawe betyds te haal. Só het ons bv eenkeer net-net ons aansluiting by Schiphol in Asterdam gemaak, maar ons bagasie het agterweë gebly - nie lekker nie. En dan het ons eenkeer 7 uur op Zürich gewag vir 'n aanluiting en eenkeer 5 uur op Charles de Gaulle in Parys. O donkie - dan gaan tyd darem stadig verby en jou gatvol-metertjie loop hoog in die rooi.
Gevolglik vind ons Turkish baie gerieflik. 10 Uur 25 minute nadat ons uit Kaapstad vertrek het, land ons in Istanbul waar ons 'n 2 uur 30 minute "lay-over" het. En die vlug vandaar na Bucharest is slegs 1 uur 15 minute. Met die terugkeer is dit net so gerieflik. Dit pas ons soos 'n handskoen.
Noudat die vlugte bespreek en betaal is, is dit nog net die visum-aansoek formaliteite wat gedoen moet word. En gelukkig het Roemenië 'n konsulaat in Kenilworth, Kaapstad wat dinge baie vergemaklik. Nou is dit net die nodige dokumentasie se bymekaarmaak waarvan die een 'n bietjie tyd vat, naamlik 'n uitnodiging wat my dogter aan ons moet rig. Dit moet opgestel word deur 'n notaris.
En voila - as alles volgens plan verloop vertrek ons Maandag 14 Augustus vanuit Kaapstad 17:05 en arriveer in Bucharest die volgende oggend om 08:15 - vir 6 weke by ons ver kinders. O.a. is ons daar vir my kleindogter, wat daar gebore is en grootgeword het, se 17de verjaarsdag. Ouma is kinderlik opgewonde.
Bly dis nie................
.............die blik-inhoud wat jou op jou sy laat lê nie !
Lekker tradisie
Die ouballe sit aand na aand só en kuier. Elke ou bring sy stoeltjie en hulle kuier lekker om 'n paar biere.
Hier werk dit ook so, maar in die “lokasies”. Hulle leef baie meer na buite, en ons na binne ons erwe en huise. Ek wonder wat maak die ou ballies in die winter. Dan kan hulle sekerlik nie so buite sit en beraadslaag nie.
Mooi so Romenië
Hulle is lief vir hulle bier, so lief dit word as kos beskou en nie so swaar belas soos hier nie. Wat kos ‘n bier daar?

Ek weet nie ...
... wat om jou te antwoord nie Chris WH. Hier is só 'n groot verskeidenheid van bier handelsname dat ek aanvaar dat sommige seker afkomstig is van onafhanklike brouerye. Ek weet dat twee van die populêre biere is in die SAB-stal, oftewel nou (is dit?) Ambev - naamlik Ursus en Timisoarana. Ek het vir etlike jare op laasgenoemde vasgehaak - 'n lekker bier! Maar in 2018 het ek omtrent al wat 'n bier is gekoop en stelselmatig deur die lot "gewerk" en sodoende by Bucegi uitgekom (uitgespreek Boe-tjets).
Die ouballe wat saans hieronder sit en kuier drink deur die bank Timisoarana. By ander plekke let ek weer op drink almal Bergenbier (ook 'n lekker bier wat ek in die beginjare hier gedrink het).
Hulle brandewyn (Alexandrion) is drinkbaar, maar nie so lekker soos ons brandewyne nie. Omtrent al die bekende Whisky's is hier beskikbaar - maar vrek duur.
Plaaslike wyne is ook algemeen beskikbaar, maar in die algemeen in 'n duurder prysklas wat ek gewoonlik in Suid-Afrika betaal. Witwyne is van gemiddelde kwaliteit, maar hul rooiwyne is uitstekend.
Bucegi kos 3.09 Lei per 500…
Bucegi kos 3.09 Lei per 500 ml - ongeveer R12.50.
Ja - dié mense lief hulle bier. Ek en Ralie gaan vroegsoggens stap om die hitte vry te spring. 08:00 sit die manne al en kuier met hulle bier. Hier is baie van die handelsname in 2.5 liter plastiekbottels beskikbaar. Vroeër jare was die ouballe hieronder lief om só 'n bottel in die rondte te stuur en sommer direk uit die bottel te drink. Deesdae (seker na Covid) drink elkeen egter sy eie bottel (500 ml) bier.
Die lekker van reis
Dis altyd lekker (en interessant) om in ander wêreld dele te sien hoe en wat mense doen. Dit lyk ook gewoonlik so lekker, veral sulke tradisies soos die omies wat sit en saam kuier elke middag. Ek aanvaar daar is hulle darem beskaafd genoeg om die bier wat deur die sisteem is iewers af te laat wat geskik is vir die doel.
Ek dink dis net in Afrika wat mans hulself sommer so in die openbaar verlig. In 1998 is ek besig met ‘n toer van Johannesburg na Nairobi. Net na ons oor die brug by Victoria valle gery het stop ek by die Zambiese grenspos en is besig om al my dokumente reg te kry. Toe kom daar ‘n offisier en sê hy het een van my gaste homself sien verlig langs my vragmotor, en dit is onaanvaarbaar want hulle het openbare toilette in die gebou. Die man, ‘n Noorweër, was baie gebelgd. Hy sien dan orals langs die pad dat plaaslike mans dit doen, en het aangeneem dit is die aanvaarde gebruik. Maar as mens in Rome is moet jy nie alles doen wat die Romeine doen nie. Tensy jy self ‘n Romein is.
Daarop sal ek jou nie ...
Ek aanvaar daar is hulle darem beskaafd genoeg om die bier wat deur die sisteem is iewers af te laat wat geskik is vir die doel.
.... kan antwoord nie, maar ek het darem nog glad nie gesien dat die manne so onbeskaafd optree nie. Ek aanvaar hulle glip seker maar gou weg, elkeen na sy woonstel toe. Ek glo dit is maar almal ouballies wat in woonstelle in die omliggende omgewing bly. Dit is maar 'n manier van uitkom uit die kleinerige woonstelle.
Oral in die dorp, in die areas waar die woonstelle geleë is, is ook speelparkies vir die kinders. Vir die groter kinders is daar mini sokkervelde en basketbalbane. Andersins is die kinders totaal woonstel-gebonde.
Een ding wat uitstaan hier is die veiligheid waarmee groot en klein tot ounag in die strate kan stap. Misdaad is 'n absolute rariteit. Die enigste gevaar is hoedat sommiges in die strate jaag met hul voertuie. As jy egter die strate kruis by 'n voetganger-oorgang (sebra kruisings) wat volop is, sal geen motoris dit waag om nie stil te hou as daar mense is wat die straat wil kruis nie. Hier word jou lisensie vir 2 maande opgeskort as 'n polisieman sien dat jy nie by 'n voetoorgang stilgehou het nie. My skoonseun het dit oorgekom. Hulle het ook 'n zero-toleransie beleid t.o.v. alkohol. Daarom stap die ouens maar na hulle kuierplekke toe of neem 'n taxi, wat volop is.
As jy met die snelweg Bucharest toe ry is daar kort-kort toiletfasiliteite langs die pad - ek skat so elke 20 - 30 km. Maar as jy deur die klein dorpies ry moet jy maar knyp. Die meeste vulstasies het darem ook sulke fasiliteite.
Ouballies se gekuier
As die ouballies so kuier-kuier sit en bier drink, wat doen hulle vrouens dan ? As 'n mens al van 8vm sit en bier drink moet hulle seker al vroegerig goed gekoring wees, of hoe ?
Ek raai maar
As die ouballies so kuier-kuier sit en bier drink, wat doen hulle vrouens dan ?
Seker maar huis skoonmaak en kosmaak.
As 'n mens al van 8vm sit en bier drink moet hulle seker al vroegerig goed gekoring wees, of hoe ?
Ek moet erken dat ek nog nie een ooglopend beskonke mens gesien het nie.
Ek glo dat ....
... die meeste deelnemers aan hierdie forum is sekerlik bewus dat my dogter en skoonseun sendingwerk doen onder die armste van arm sigeuners hier in hulle kontrei. Hier in Calarasi is 'n sekere woonbuurt (Carimidar) waar hierdie arm mense grootliks woon. Afgesien van ander aktiwiteite, hou hulle Sondagaande kerkdienste by 'n spesifieke huis in dié buurt.
Ek en Ralie het reeds twee van die dienste bygewoon. In die warm maande (soos tans) vind die dienste buite plaas. My skoonseun hanteer die diens en preek in Engels met my dogter wat as tolk optree.
Die kinders het om een of ander rede 'n groot "liking" in my en Ralie gekry - waarskynlik omdat ons heelwat aandag gee aan hulle, alhoewel ons nie 'n woord met hulle kan kommunikeer nie. Ek dink dit is maar 'n geval van aanvoeling dat daar liefde en omgee aangebied word. Dit is amper 'n bakleiery om op ons skote te kom sit.


Hier tolk my dogter (Nelia) vir die mense Terence se preek.

Dankie ChrisB
Jou kinders is beslis iets om baie trots en dankbaar op te wees. En die Romeense kindertjies, op "Oupa en Ouma" se skote : dit sê beslis ook iets van ons Suid-Afrikaners.
Mooi man !
Halfpad
Môre sal dit 3 weke gelede wees wat ons hier in Roemenië arriveer het. En vandag oor 3 weke klim ons in die ystervoël om huiswaarts te verkeer.
Ons kinders is bedrywig. Elke dag het hulle 'n vol program. Gevolglik is ek en Ralie maar huisgebonde. Nietemin geniet ons dit om hier in die dorp rond te loop. Dit is ons 9de besoek aan Calarasi, Roemenië sedert 2005. Intussen het ons 'n liefde vir die dorp ontwikkel en geniet ons dit elke keer on deur middel van handgebare inkopies te doen. Kassiere moet vir ons in baie gevalle die totales bedrag verskuldig neerskryf (as daar nie 'n kasregister is wat die bedrag vertoon nie) - maar dit is alles deel van die "fun" wat ons ervaar.
Tydens verskeie van ons vorige besoeke het ons verskillende dele van die land besoek, maar hierdie keer is die kinders se programme van só 'n aard dat hulle ongelukkig nie 'n wegbreekkansie kan benut nie. Ek, Ralie en Nelia beplan egter wel om eerskomende Donderdagaand in Bucharest te gaan oornag en die stad bietjie rooi te verf. Ons het 'n gunsteling-winkel (Ikea) wat ons o.a. graag besoek. Nelia het nie heeltemal die selfvertroue om in die stad rond te ry nie, maar sien darem kans om tot by Ikea te ry. Die gedagte is om die kar daar te los op die parkeerterrein en vanaf 'n naby-geleë moltreinstasie tot by ons verblyf in die ou deel van die stad te ry. Ons pak sommer net 'n ekstra stel klere en die nodigste toiletries in 'n rugsak. Die ou deel van die stad het die wonderlikste straatkafees waar jy jou amper kan verbeel jy's in Parys. Bucharest staan nie verniet bekend as Klein Parys nie.
Maar kom, "let's face it", jou huis bly jou huis - al is beurtkrag op Fase 5. Ek is net dankbaar dat ek die solarstelsel laat installeer het en oor die "app" beskik om van hier af te kan sien wat gaan aan op die steksel. 6 Weke hier (al is dit by jou kinders) is nie gelykstaande aan 6 weke in die wildtuin nie. As ek in laasgenoemde kuier het ek nooit 'n sweempie van verlange huistoe nie.
Bucharest
Ons moes ons aanvanklike plan, om verlede Donderdag vir 'n aand of twee Bucharest toe te gaan, verander. Ons het toe eers Maandag vertrek en keer eers weer vandag terug Calarasi toe. Nelia het maar 'n vrees om in hierdie stad se verkeer te bestuur en daar is toe besluit om die tog per trein te onderneem - 'n uur se rit.
Aangesien daar aan die spoorlyn vanaf hulle dorp gewerk word, moes ons vanaf 'n ander stasie, sowat 20 minute per motor vanaf hulle, vertrek. Omdat ons eers Maandagoggend ons kaartjies gekoop het, was daar slegs staanplek- kaartjies beskikbaar. Ons het besluit dat ons sien kans om 'n uur lank op die trein te staan. Dit sou 'n eerste keer vir ons op 'n trein in Roemenië wees en ons het uitgesien na die ervaring.
Ons vertrekstasie, waar Terence (my skoonseun) ons gaan aflaai het - Ciulnița, met 'n redelik vervalle ou gebou wat uit die kommunistiese tyd dateer:

Die trein was absoluut betyds, naamlik 14:51 en het presies op tyd in Bucharest stilgehou om 13:52 - soos wat aangedui word. Die elektriese lokomotief het maar gehawend voorgekom, maar die drie passasiers-waens was heel netjies. Ons drie moes saam met nog drie ander mans in 'n klein spasie staan - in stomend-warm omstandighede. Elke minuut was omgewens. Ek het seker in my rugbydae laas soveel gesweet. Maar dit is 'n unieke herinnering wat ek vir altyd sal onthou. En kan daardie ou lokomotief laat waai. Volgens Nelia se Google Maps het ons op 'n stadium teen bykans 160 k.p.u. beweeg.
Hier staan die twee oumense in hulle bekrampte spasie op die trein:

Bucharest se stasie was 'n miernes van bedrywigheid:

Vandaar is ons per moltrein na die stasie naaste aan ons blyplek - 'n selfsorg 2-slaapkamer-woonstel in die populêre "ou stad"-gedeelte. Maar hiervan 'n bietjie later.
Wêreld reisigers van formaat…
Wêreld reisigers van formaat.
Ek self vrek oor treinry.
Geniet dit
Bucharest vervolg.
Ons is intussen terug in Calarasi nadat Terence ons vanmiddag in Bucharest kom haal het. Die gebou waarin ons woonstel was, lyk van buite inderwaarheid baie afgeleef. Maar die woonstel self is heel netjies van binne en goed toegerus.
Ons woonstel:


Sommer net 'n paar foto's:



Die "view" vanuit ons woonstel het maar veel te wense gelaat:

Maar die menigte gesellige restaurante in die nabye omgewing maak deur en deur daarvoor op. Ons het by die gesellige St Patricks ingeval. Maar al wat jou daar aan Ierland laat dink is die Guinness - waarvoor ek nog nie 'n smaak ontwikkel het nie. Nietemin het ons 'n lekker aand beleef.





Rugsak-reisigers
Ons het elkeen net 'n rugsak met die noodsaaklkkste items saamgeneem tydens ons Bucharest-ekskursie. Behalwe vir klere en toiletries, het ons net 'n potjie Nescafé saamgeneem - sodat ons darem soggens kan op-"start". "Brunch" is beide oggende sommer by 'n nabygeleë Burger King genutti. 'n "Bacon" burger het mos darem 'n element van ontbyt in.

Bucherest het voor die tyd van die kommunistiese diktator, Nicolae Ceausescu, vir jare lank bekendgestaan as Klein Parys. Die vele straatkafees herinner jou nogal aan Parys, maar Bucharest beskik selfs oor 'n kleiner weergawe van die Arc de Triomphe.

Bucharest is 'n mooi boomryke stad. Dit is amper ongelooflik hoe pragtig die stadsvaders die stad ontwikkel het sedert ons in 2005 die eerste keer hier was. Groot boomryke parke is oral tot die inwoners en besoekers se beskikking. Ons het deur een van dié parke gestap op pad na 'n museum van Roemeense huis-boukuns uit verskillende dele van hierdie baie mooi land.


En jy stap nie ver nie, dan kry jy 'n plekkie waar jy 'n goue koue kan geniet. En in die hitte wat ons hier beleef, is dit gewoonlik 'n welkome lafenis waarvan (veral) ek nogal gereeld gebruik gemaak het.
Ek plaas net enkele foto's van Roemeense huise, waarvan nog etlikes in die plattelandse dorpies nog soortgelyk lyk en nog bewoon word.



Die Roemeens-Ortodokse kerkies was destys grootliks met hout gebou.

Die oumense het dedtyds daarna verwys as "blikners gery" as jy lank in 'n perdesaal was. Maar ek dink ons was aan die einde van die dag blikners gestap. Ek het amper daarop aangedring om die aand eerder 'n pizza te bestel, maar het later darem tog besluit om eerder weer die "ou stad" se straat-restourante aan te durf - want wie weet, gaan ek ooit weer die vooreg hê om hier te kom.
Na nog 'n lekker Burger King "brunch" gisteroggend, het ons die moltreine aangedurf om in verskillende dele van die stad te gaan "shopping" doen. Ek was immers in die minderheid (saam met 2 vrouens) en moes noodgedwonge saampiekel. Hier sit hulle hoogs in hulle skik in die moltrein omdat hulle demokratiese meerderheid-stem gewen het.

Gisteraand is daar sommer vroeg in die kooi geklim. Twee dae van ernstig rondloop het sy tol geëis.
Daardie eerste huisie
Dit lyk soos van die ouer hutte in die Kruger wildtuin. Lyk na ‘n lekker uitstappie (behalwe vir die inkopies).





'n Paar foto's ...
... van die buurt waar my dogter-hulle woon. Tipiese woonstelblokke vanuit die kommunistiese era.
Die ouballe sit aand na aand só en kuier. Elke ou bring sy stoeltjie en hulle kuier lekker om 'n paar biere.
En ek sit nou met my eie goue koue. En daar lê die blik op sy sy.