TO
Drie Berge
mabalingwe
galago private bush lodge
Alloutgear
Sionbergh

 

superbrulekker reseptenuwe onderwerpgraderingsarrowartikels buttonkompetisiessaamtrekkemeningspeilingskamp diyarrowarrow

62606 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Johann, die "payslip" laat… Lag 'n slag Dusty -18 minutes ago
Arie, hoe gaan dit daar by… Geduld. Dusty -24 minutes ago
Goeie môre almal. 
Desember 2019 - Koffiekroeg Dusty -29 minutes ago
Vat hom Kamp met.....reen.. Sleep nou -1 hour ago
Warren gaan groot Silly season again... I'… Sleep nou -1 hour ago
Petrol dorp Reën.............. Sleep nou -1 hour ago
Ek sien dit Ontgroening? Sleep nou -1 hour ago

Hoe braai jy vis ?

Brackenfell, Weskaap
Submitted by Len Loader on Sat, 13/05/2017 - 17:23
Forums

Glo dit as jy wil, ek is die afgelope 33 jaar (met die uitsondering van 'n paar jaar tussen-in Johannesburg, Harare en Luanda) 'n Kapenaar en het nog nooit 'n vis gebraai nie !  Ek laat hierdie takie aan een van my twee seuns oor.

Ek wil graag leer hoe braai 'n mens 'n vis as jy kamp ?  Vertel my nou mooi vandat die vuur gemaak word, tot die voorbereiding van die souse en presies hoe lank wat gedoen moet word.  Moet dit op foelie gebraai  word of nie ?  Ook hoe dien jy die gereg dan op.

Goed, ek luister.

Albemarle

DK

Sat, 13/05/2017 - 19:11

Die vuur moet half aan die dooie kant wees.

Snoek,  foelie met kwas, appelkoos konfyt, suurlemoen sap met gesmelte botter.

Sodra die outjie kleur kry, begin verf met die mengsel.

Skep hom so van die rooster af.

Galjoen, is my geheim tot eendaglaugh

Klerksdorp

Frans Pretorius

Sat, 13/05/2017 - 20:38

Len, die BESTE resep wat ek kan gee, sonder om twee keer te dink, is GOOGLE visbraai resepte, maak nie saak hoe jy hom spel!!!!

Ek het baie resepte tuis, vir snoek, en paar ander, maar het nou deurgeblaai op tannie Google ( sy weet mos altyd alles!) en daar sulke lekker resepte gesien, ek gaan sommer loop en soek so by Dinsdag daar in Groot Brak of Mosselbaai vir vars vissie - lyk my Freda hou vir Colin te besig om te gaan VISVANG!!!

 Gelukkig is andere so gaaf om te deel op Internet!!!

Soek daai resep, beproef hom en kom deel hier!!

 

 

Albemarle

DK

Sat, 13/05/2017 - 21:58

In reply to by Frans Pretorius

Galjoen braai jy met dennebolle.

Meng uie, tamatie met verkieslik oorspronklike botter.

Ek gebruik knoffel saam met Herbs botter.

Vul die duursame vissie met uie, tamatie, mushroom saam gesmelte bogenoemde botter.

Vou toe in foelie sodat alles mooi smoor.

Haal hom uit en laat hom oor denbolle bietjie "Stir"

Klerksdorp

Frans Pretorius

Sun, 14/05/2017 - 08:14

Agge nee jinne Dennis, Ek het maar my inset gaan redigeer, maar Ek dink nie Ek, van alle mense, het met daardie inset en antwoord aan Len ENIGE iemand te na gekom nie. Of onwelkom laat voel nie!

Baie jammer!!

 

Centurion

Voortrekker

Sun, 14/05/2017 - 08:33

DK jy het daardie resep 100%.   Ek gooi my appelkooskonfeit / suurlemoen sap / botter mengseltjie sommer van die begin af oor en laat die foelie 'n damwal maak.    Laat hom loop totdat die wit oral mooi deurkom, dan is hy reg.  Natuurlik vereder met appelkooskonfeit op 'n wit pot broodjie of tuisgebakte brood.

Waar my wa staan

Arie

Sun, 14/05/2017 - 09:24

Ek braai my snoekie ook soos Voorie oopgevlek op foelie bak, maar op 'n warm vuur. 

Sit so 500 gram botter in die bak, let wel BOTTER nie margarien nie, verf die snoek met Marmite, ek gebruik so klein botteltjie heeltamaal op.

Sodra daai botter lekker gesmelt is en so begin skei, sit ek die snoek op, vel kant onder, bly hom die heel tyd met Marmite verf. Sodra die botter deur die snoek gekook het en bo begin uitkom is die snioekie gaar. Sit niks anders as Marmite op nie, dit gee lekker smaak en het genoeg sout. Ek braai nogals soms my Fillets ook net so met Marmite en niks anders?

Len, ek verstaan daar in die Kaap eet julle glo net die snoek se ko, die res stuur julle vir ons. Blykbaar is die snoek kop met pattats die in ding daar?

 

 

Port Elizabeth

Antie

Sun, 14/05/2017 - 11:36

Lennie, as mens vis net so (sonder foelie) op die kole braai.  Gebruik 'n toeklaprooster.  Vryf sout en/of speserye op die vis.  Terwyl dit braai, verf jy dit met 'n sous.  Botter, suurlemoen, knoffel.  Sommige mense gebruik die Knorr slaaisouse, dis ook lekker.   Die kole moet nie te warm wees nie, maar darem so dat die vis braai.  Draai gereeld om en bly verf met die sous.  Moenie lank braai nie, sodra die vis se kleur wit is, is dit gaar.  Maak jou rooster oop, sit 'n groot genoeg bord oor die vis en keer die rooster om sodat die vis op die bord lê.

Snoek in foelie.   Vat twee groot stukke foelie opmekaar, groot genoeg om snoek heeltemal toe te vou.   Smeer botter en/of olyfolie op die foelie.  Lê die snoek, velkant onder, op die foelie neer.   Speserye op vis en smeer met 'n sous.   Ek hou van mayonaise en appelkooskonfyt wat gemeng is.  Vou die snoek heeltemal toe.  Sit op toeklaprooster en plaas oor kole met gevoude kant van foelie na bo.  Los dit net so vir omtrent 20 minute.  Maak die rooster oop en vou die foelie heeltemal oop.  Die vis sal nou in heelwat vloeistof lê.  Verf die sous lekker oor die bokant van die snoek.  Maak die rooster weer toe en draai dit om sodat die oop deel van die snoek oor die kole is.  Die sous gaan uitloop in jou kole in, maar moenie daaroor worry nie.  Braai die snoek nou net tot dit bietjie bruin is.  Druk suurlemoensap oor die vis uit en bedien net so uit die foelie.

 

Ek is nou nie n kenner van vis braai nie om die waarheid te se ek is nie n visserman se gaai nie .Ek gaan maar gewoonlik vismark toe ek koop n vis daar en vra dan die man om die vis vir my te gooi .Dan lieg ek mos nie as my vrou vra Waar het jy die vis gekry .Dan antwoord ek gewoonlik Hom gevang natuurlik

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 14/05/2017 - 19:52

Nouja, daar het ons dit !  Baie dankie aan almal se bydrae hoe om 'n vissie te braai.

Dit was interessant dat net Freda het 'n metode voorgestel  hoe om 'n vis sonder foelie te braai.  Twee van my vriende hier in die Kaap (gebore Kapenaars) braai altyd vis sonder foelie, netso op die rooster.

Port Elizabeth

Antie

Sun, 14/05/2017 - 20:08

Lennie, my oorlede man was 'n Kapenaar en groot visserman.  Hy kon regtig vis goed braai.  Ons het meeste van die vis net so gebraai, veral galjoen, want hy het baie vet van sy eie.  Snoek was die enigste vis wat ons toegedraai het want dit is net die pensdeel wat nie droog is nie.  Die metode wat ek verduidelik het, verseker dat die droër kantdele ook sappig bly.  Hy het ook geglo as jy 'n vis wil stop en "toegevou" gaarmaak, moet jy dit in die oond doen sodat die hitte goed kan deurtrek.  As jy dit op die kole doen, dan is die buitekant van die vis soms redelik oordoen, terwyl die binnekant sukkel om gaar te word met die vulsel daarin.  Behalwe as jy dit in foelie toedraai sodat dit amper gaar stoom, sal dit werk.   Ek en hy en ons twee seuns het 'n baie groot snoek "gepolish" sonder enige moeite.yes   Ons het nie eers bykosse gehad nie, net die snoek.    En ons Staffie het die ruggraat geëet, glo my.  Dit is mos sag, nie soos ander grate nie.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 05/01/2019 - 12:41

Ek weet die vraag is: "Hoe braai jy vis?" Maar die voorbereiding is krities belangrik.

Ek gaan my bepaal net by een vis, want dit is die een wat ek die meeste braai, naamlik galjoen. Dit laat my nou sommer dink dat my komende trippie Hentiesbaai toe (eerskomende Maart), sal nou vinnig moet kom want daar is nog net een galjoen oor in die vrieskas en die Suid-Afrikaanse seisoen is nog gesluit.

Ek het grootgeword met galjoen wat nie gekrap word nie. Maar dan kan jy nie die vel eet nie. Deesdae krap ek 'n galjoen se skubbe sodat die lekker vet vel ook geëet kan word.

Ek reken dat 'n suksesvolle galjoenbraai begin reeds met die vlek van die vis - vanaf die rugkant, dwarsdeur die kop sodat die twee helftes aan die penskant aanmekaar gehou word. Die een helfte het dus nog die hoofgraat en die ander helfte is dus uiteraard dunner (sonder die hoofgraat).

Gooi die dikker kant dik toe met growwe sout. 'n Kwartier later word die res van die vis toegegooi met growwe sout. En ek bedoel "toegegooi". Na 'n verdere halfuur word die sout afgespoel. Met 'n groot galjoen verleng jy die onderskeie tye na 20 en 40 minute - m.a.w. 'n uur in totaal.

Ten einde die vel te kan eet, word die gevlekte galjoen met die velkant op foelie (wat met Spray & Cook gespuit is) geplaas. Die vleiskant word met gesmelte botter of margarien, waarby 'n bietjie suurlemoensap gevoeg is, gesmeer. Daar is niks wat vis komplimenteer soos suurlemoensap nie.

Waar ek vroeër jare oor matige kole gebraai het, doen ek dit deesdae oor behoorlike giftige warm kole. Die foelie voorkom dat die vel brand. Gevolglik kan jy dit sommer etlike minute op die velkant op die kole laat - totdat die kante van die vleis tekens begin toon dat dit na 'n gaar kleur verkleur.

Dan draai jy die vis om en braai vinnig aan die vleiskant tot mooi goudbruin, maar nog sappig.

Die grootste fout wat mense met vis maak is om dit té lank te braai omdat hulle bang is die vis is nog rou. Enigiets langer as 8 - 10 minute is té lank vir vis.

Ek besef dat smaak verskil, maar as ek vis eet soek ek vissmaak - nie enige ander souse en megheftes nie.

Inderwaarheid kan jy dieselfde metode vir snoek gebruik.

Die grootste sukses van 'n lekker vis, is 'n VET vis. Dit geld vir galjoen, snoek, harders en hotnotsvis. Die visspesies wat nie sommer vet in die pens het nie, soos kabeljou en steenbras, is meer ideaal vir bak-doeleindes. Alhoewel, 'n kabeljou-filet is darem ook koningskos oor die kole.

Ek reken dat 'n suksesvolle galjoenbraai begin reeds met die vlek van die vis - vanaf die rugkant, dwarsdeur die kop sodat die twee helftes aan die penskant aanmekaar gehou word. 

Nee Chris, nou moet jy help, hierdie stukkie verstaan ek nie. Die penskant word dan oopgesny om die binnegoed uit te haal? Hoe kan die penskant die twee helftes aanmekaar hou?

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 06/01/2019 - 07:40

Johan, ek sal maar 'n foto of twee moet plaas. Dit is maar dieselfde met snoek. Dit word ook van die rugkant af gevlek en die twee helftes word deur die pens aanmekaar gehou. Sodoende lê die hele vis oopgevlek, maar steeds een geheel. In die geval van snoek word die hoofgraat egter losgesny (nog steeds geheg aan die vis) en ook verder na buite uitgevou.

Port Elizabeth

Antie

Sun, 06/01/2019 - 09:37

My man het galjoen ook so gevlek.   Die pens is waar die meeste vet is, soos met snoek.  Die vet braai dan as't ware in sy eie bakkie.laugh   Ek dink ek het dit al op die draad gesê, te lui om nou terug te kyk.  Die pens van die snoek is darem koningskos!yes

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 06/01/2019 - 09:54

Snoekpens - nou praat jy Freda. En snaaks genoeg, as jy ongelukkig is om 'n pap snoek te koop, is die pens die enigste deel wat gewoonlik nie pap is nie.

Port Elizabeth

Antie

Sun, 06/01/2019 - 10:18

Chris, jy het my nou so lus gemaak vir snoek.  Ek moet regtig een gaan kry hier op ons hawe en iemand nooi om dit saam te kom eet.   Saam met lekker soetpatats.  Ek het dit bitter lanklaas geëet.