6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Het die rooi kadotjie gesien… Forum Herstel en terugvoering neef Herman -45 minutes ago
Jan... Vakansiebeplanning 2026/27 Wessel Strydom -1 hour ago
Privaat Boodskap Opsie Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -2 hours ago
Foto neem Vakansiebeplanning 2026/27 Geert -3 hours ago
100de by mekaar. Vakansiebeplanning 2026/27 neef Herman -3 hours ago
Dankie Geert Vakansiebeplanning 2026/27 Jan Meyer -4 hours ago

Die wildtuin wink alweer

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Môre-oggend hierdie tyd wil ek al bykans agter die Hilux se stuurwiel ingeskuif het. Die grootste deel van die pakkery is klaar. Na vanaand se kant toe moet net die laaste items ingelaai word. My mikpunt is om ongeveer 08:00 te vertrek. Die eerste beplande stop is Aan De Doorns kelder duskant Worcester om bietjie op te "stock" met die noodsaaklike Bolandse voggies - Ralie se voorraad BC Bacchanté (Brandvlei kelder) is klaar gelaai.

'n Lekker "brunch" by Veldskoen padstal in die Hexvallei (waar ook druiwe gekoop sal word), koffie by Laingsburg se Wimpy, stop by Rietfontein padstal naby Leeu-Gamka vir bene-rek en volmaak met diesel by die Engen Truck Stop by Beaufort-Wes is alles deel van môre se beplanning.

Ons wil môre-aand twee van Travalia, waar ons oornag, se braaipakke aanskaf. Dit bestaan gewoonlik uit twee lamstjops, 'n stukkie boerewors, braaibroodjie en aartappelslaai.

So opgewonde soos 'n kind wat vir die eerste keer sirkus toe gaan.

Brits

Wessel Strydom

Thu, 14/03/2024 - 07:45

Jis my maat, dit voel skielik of ek agter in jou trokkie sit. Julle moet versigtig en veilig reis, onthou die slegte oorgang by Over Hex stasie, oor die besige R60. 

Is daar pakplek oor vir gaste se bagasie??? 

Pretoria

Geert

Thu, 14/03/2024 - 10:38

Met so n lekker beplanning en vooruitsigte kan ek glo dat jul baie opgewonde is. Veilig ry....ons sal die rit saam met julle hier geniet

Worcester

Wildehont

Thu, 14/03/2024 - 12:12

Een van die wynmakers by Aan de Doorns kelder is ‘n kennis van ons. Hulle is nog besig met die pars, hy het Sondag by die kerk gesê hulle is omtrent halfpad. Sy hande en vingers is gebars en die krake is donker pers gevlek van die sap. Dink maar aan die arme man terwyl julle die voggies geniet.
 

En ry veilig. As ek so na al julle stoppe kyk by plekke waar allerhande dinge gekoop gaan word, dink ek julle sal ‘n paar aande ekstra in die Krugerwildtuin kan bekostig as julle minder stop. Dis seker ‘n luukse van afgetree wees - om tyd te hê om so rustig te toer en gereeld te stop en bene te rek. Ek probeer so min as moontlik stop. Gelukkig is my gesin gewoond daaraan. Dis maar hoe ons toer. 
 

Ek is nuuskierig, ry julle so stadig as julle nie sleep nie ook?

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 14/03/2024 - 12:54

Ek sleep teen 90 kpu as ek sleep en 100 kpu as ek 'bloots' ry (beide GPS spoed). Karavaansleep het my gekondisioneer tot stadiger ry.  En mensig - geniet ons dit om stadiger te ry. Ons voel veiliger omdat dit voel of jy makliker kan reageer op een of ander potensieële krisis-situasie en ons neem meer in van die omgewing waardeur ons ry.

Nou praat ek nie eens van my spoed in die wildtuin nie. Sodra my deurslotte outomaties sluit weet ek dat ek my gewenste spoed oorskry. Die deure sluit outomaties sodra ek 25 kpu oorskry.

Worcester

Wildehont

Thu, 14/03/2024 - 13:13

Gaan julle oor geel streep toe as ‘n ongeduldige spoedvraat op julle agterste buffer kom sit? As mens ‘n wa sleep sien jy dit nie, en ek dink meeste mense aanvaar dat sommige mense stadiger ry wanneer hulle sleep. Ek sê sommige mense, want ek sien veral mense wat Bushlapas sleep ry maklik 140 en kom verby mens asof jy stilstaan. 
 

As ek egter nie sleep nie, en iemand kom sit op my stert al ry ek die maksimum spoed wat toegelaat word, irriteer dit darem die grond uit my uit. Ek sal nie dan moedswillig wees en stadiger ry nie, maar tensy die pad plat en reguit is en ek vir kilometers ver kan sien gaan ek nie geel streep toe nie. Ek ry reeds so vinnig as wat mens mag, en as die pad besig is gaan daar ‘n trein by jou verby as jy geel streep toe gaan en sukkel jy om terug op die pad te kom. Soms stap daar mense op die skouer, staan daar voertuie of ry ‘n patrolliekar stadig daar. As jy dan nie kan terugkom in die wettige baan nie word jy gedwing om vinnig spoed te verminder of te stop. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 14/03/2024 - 13:29

..............90 en 110 kpu sal ek oorbeweeg in die geelbaan op voorwaarde dat ek ver vooruit kan sien dat daar geen obstruksie in hierdie baan is nie.  Ek hou voortdurend die verkeer op my tru-kamera se skerm dop en sodra 'n voertuig nader kom, beweeg ek outomaties oor na die geelbaan.  Ek poog om nie bestuurders agter my te frustreer nie terwyl ek stadiger as die betrokke spoedgrens ry.  Meestal kry ek 'n dankie-groet van sodanige verby-kommers.

Sodanige optrede laat my goed en ontspanne voel, veral as ek die waardering van ander padgebruikers op dié manier ervaar.

Oudtshoorn

neef Herman

Thu, 14/03/2024 - 13:58

Maak net soos jy Len. Dit laat mens goed voel, en bietjie bedagsaam wees, is daar niks mee fout nie.

Sou ek bv agter ń trok beland, en dit duidelik is dat n verbygaan geleentheid nie gou gaan kom nie, sal ek sodra die verkeer agter my opbou, terugsak en links in my baan hou sodat daar n gaping is vir hul om my verby te gaan, en dan volgende die trok.  Nie by my en trok eenmalig verbysteek nie. Maak die lewe bietjie veiliger vir ons almal.

Brits

Wessel Strydom

Thu, 14/03/2024 - 14:00

Nou bemors ons alweer Chris B se gesprek.

As ek nie sleep nie, sal ek net onder provokasie in geelsteep/baan gaan ry. Ek ry gewoonlik vinniger as 120km/hr, dus "vertraag" ek nienand wetlik nie.

As ek egter sleep, en ek kan gelukkig by die Kavango verby sien in spieëls, sal ek in geelstreep gaan ry, mits ek  kan sien die baan is skoon.  Ek haat dit, wanneer party motoriste dink dat hulle teen jou moet skuur, sonder om effe oor middellyn te gaan. 

Net so by die kort stukke dubbelbane op N1 veral. Jy gaan ry daar, en dan wil die ouens jou daar inboks, om in geelstreep te bly. Baie plekke is die noodbaan net smaller as gewone baan, en boonop is daai "raas" strook ook daar, wat my baie pla.

Moet darem noem, ek is BAIE dankbaar as trokke vir my oorgaan in geelstreep. Dit maak sig soveel beter, en die windeffek is ook minder.

Len, Chris B, let bietjie op, die trokke ry deesdae heelwat stadiger [minder as 100km/hr]. Ek dink hulle spaar diesel. Dit maak dit makliker om hulle verby te gaan.   

Brits

Wessel Strydom

Thu, 14/03/2024 - 14:03

....deesdae maak ek ook so. Seker maar iets te doene met oud en groot word.laugh

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 14/03/2024 - 14:10

Ek beweeg gereeld links van die geelstreep as dit veilig lyk en ek 'n goeie afstand voor my kan sien. Met my spoed kan ek dalk die witwaks uit ander motoriste frustreer. Dit is selde dat ander voertuie stadiger ry as ek, behalwe dalk vir sommige groot vragmotors. En beweeg hulle links sodat ek kan verbygaan, sê ek graag dankie deur my noodflikkers 3 keer te flits.

Dit gebeur soms dat jy dalk vir 'n wyle nie die truspieël dopgehou het nie en dan gebeur dit soms dat iemand van agter letterlik in jou voertuig se gat kom kruip. Of jy reken dit is nie veilig om, vir watter rede ookal, links van die geelstreep te hou nie - dan kom kruip 'n gefrustreerde spoedvraat ook in jou gat. Dan kom hierdie ouballie sy hardegatgeid na vore en weier ek om links van die geelstreep te hou.

Maar as 'n reël hou ek graag links van die geelstreep en waardeer as andere dit vir my ook doen. Ek bestuur egter nie intimiderend nie en kan dit nie verdra as andere dit met my doen nie.

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 14/03/2024 - 14:21

Nog net die kleretasse wat môre-oggend gelaai moet word. Die vrieskas is ook gelaai en loop tans op 220 V agterin die bakkie. Die vrag lyk maar bietjie vol, maar ek reken ek sal nog die uitlanders se bagasie kan laai.

Nog net vir Stoffel papegaai later vanmiddag na sy vakansiebestemming neem. Hy (of liewer 'sy' - nadat sy na meer as 20 jaar uit die kas geklim het deur te begin eiers lê) gaan by die eienaar van die plaaslike "pet shop" se huis bly terwyl ons weg is.

Ek vanaand eet die Bouchers sommer vis en tjips - ons laaste vis vir meer as 16 aande (om diegene wat soos Wessel en Len voel tegemoet te kom om nie die bosveld met visreuk te besoedel nie).

Worcester

Wildehont

Thu, 14/03/2024 - 14:56

Het julle kappie ‘n dakrak? Klink of dit dalk gaan nodig raak vir die uitlanders se baggasie na julle môre by die kelder aangedoen het. 
 

Net vir interessantheid; die gebruik om in die geel streep te ry om vinniger voertuie kans te gee om verby te kom (en die dankie sê deur lg met die noodligte) is ‘n Suid-Afrikaanse gebruik. Toe ek overland toere gedoen het met ‘n Mercedes 1617 vragmotor wat ipv ‘n bak ‘n kajuit agterop gehad het met 16 sitplekke, lockers vir die passasiers en laairuim onder die vloer vir droeë proviand, tente, gereedskap, spaarwiele, stoele en matrasse, het ek as ‘n reël oorgegaan na die geel streep wanneer dit veilig was. Oorseese toeriste was telkens verbaas daaroor en het my uitgevra oor die gebruik.
 

Uit die aard van die saak is dit eintlik onwettig om in die geel streep te ry. Maar ‘n boer maak ‘n plan. Dis een van die redes waarom ek nie in ‘n Westerse land sal wil bly nie. So ‘n innoverende samewerking om verkeer beter te laat vloei sal nie daar toegelaat word nie. Dit kan egter baie gevaarlik wees, en dis waarom ek dit net doen as ek ver voor my kan sien en nie ‘n voertuig wat in die geel streep is verbygaan as dit teen ‘n opdraende is nie.

My inwonende skoonsuster se skoonseun is so sewe weke gelede in ‘n ongeluk dood. Hy was besig om aan ‘n vragmotor te werk wat in die geel streep gestaan het, toe een van die vragmotors wat nuwe voertuie vervoer agter in die vragmotor waaraan hy gewerk het vasry. Lg is toe bo-oor hom, en het sy bakkie wat voor dit gestaan het 10m gskuif. 
 

Verder Noord in Afrika, waar daar nie ‘n skouer is om in te ry om vinniger verkeer te laat verbykom nie, is daar ‘n ander gebruik. As ‘n ander voertuig jou van voor af nader, sit jy en hy julle regter flikkerlig aan. Dan weet die voertuig agter jou daar kom verkeer van voor af, en as dit donker is kan jy die aankomende voertuig se rand beter sien. Die paaie is soms so nou dat twee vragmotors net-net by mekaar verby skuur. Dit was nogal senutergend om in lande soos Tanzanië teen 100kph verby ‘n groot vragmotor te ry wat van voor af kom.
 

As jy sien daar is iemand agter jou wat wil verbykom, sit jy jou linker flikkerlig aan wanneer daar geen verkeer van voor af kom nie. Dan weet hulle dis veilig om verby te steek. Die plantegroei is gewoonlik tot teen die rand van die pad (wat geen skouer het nie) en die gras word nie gesny nie. En dit is hoe die nasionale paaie lyk.
 

In Zim het hulle strip roads gehad. Dis basies ‘n tweespoor wat geteer is. As ‘n voertuig van voor af kom moes albei voertuie met die linkerwiele van die strook aan hulle linkerkant af beweeg en dan net met die regterwiele op die linkerkantste strook aan hulle elkeen se kant verby mekaar ry. 
 

Jammer vir die besoedeling, môre as die foto’s van julle reis begin val praat ons nie meer oor ander goed nie. 

Dullstroom

Rona du Plessis

Thu, 14/03/2024 - 20:13

Weet nie of ek moet naand of goeiemôre sê nie. Al is ek waarskynlik laaste, glo ek dat julle 'n baie voorspoedige reis en onvergeetlike vakansie gaan hê. Ek sien uit na elke dag se vertellings met fotos.

Geniiiiiet!!

Vaalpark

Johann L

Thu, 14/03/2024 - 20:53

Veilig ry en geniet die ver kinders 'n hond uit 'n klont, ken daai opgewondenheid van die ver kinders kom kuier, en dit nogal in die wonderlikste plek suid van die noord pool.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus