6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Swadini loshande Forever Swadini of ATKV… wessels -4 years ago
Ek neig om te verskil Forever Swadini of ATKV… Chris Boucher -4 years ago
Eiland Spa Forever Swadini of ATKV… wessels -4 years ago
Eiland / Swadini Forever Swadini of ATKV… Servaas -4 years ago
Gou n ander oord ook bespreek Forever Swadini of ATKV… Josef Willem -4 years ago
Tshipise ... Forever Swadini of ATKV… Willem Brits -4 years ago

Die Noorde wink alweer

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Die Noorde

Hoekom is ek (as 64-jarige) dan altyd so opgewonde soos 'n kind as die langpad aangevat word? Ek is al sedert gister aan die inpak vir my reis wat môre begin.

Een van die voordele van aftrede en deeltydse werk is dat jy werk en plesier soveel makliker kan kombineer. Ek moet kliënte in Orkney, Rosslyn en Bethlehem gaan sien, asook 'n verskaffer in Brits. Nou neem ek sommer vir Ralie saam en ons gaan lekker kuier-kuier ry tot uiteindelik in Shingwedzi.

Ons reis begin môre tot Drie Susters waar ons by Travalia oornag - een van ons gunsteling oorslaapplekke wanneer ons nie sleep nie. Vandaar Sondag met die N12 tot Warrenton waar ons op die oewer van die Vaalrivier by Fish Eagle's Call oorbly.

Ek sal 'n bietjie terugvoer gee oor die volgende 3 weke.

pretoria

pieterc

Sat, 14/11/2020 - 21:31

Ek het nog net een keer Swartwitpense in die Wildtuin gesien. Dit was iewers in die laat 1980`s en ek kan nie eers onthou waar presies ons hulle gesien het nie.

Ons het ook eers later besef hoe gelukkig ons was om hulle te sien.

Hier is die enigste 2 fotos wat ek het. Die kwaliteit is maar swak, maar ek het my bewyse......

.

.

Vaalpark

Johann L

Sun, 15/11/2020 - 07:03

Amen.

Ek kan nie help om te wonder wanneer wetenskaplikes weer tot die teenoorgestelde besluit gaan kom, dat drinkplekke tog noodsaaklik was vir sekere wildspesies wat in 'n ingehokte area ge-akkommodeer moet word nie omdat hulle natuurlike migrasie-roetes afgesper is met heinings nie.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 16/11/2020 - 09:33

Ek glo weer wetenskaplikes sal terugkeer na die vorige bedeling mits nuwe navorsing bewys hulle was verkeerd. Sanparke was geweldig gekritiseer met die nuwe benadering, maar intussen het hordes onafhanklike navorsers Sanparke se besluit gesteun  -  veral met betrekking tot habitat-bewaring en die moontlike uitsterf van die skaarser bokspesies. Hopelik sal die goeie voorspelde somerreën meer natuurlike drinkwater beskikbaar stel en nuwer generasies sal mettertyd ophou om droë drinkplekke te besoek. Ek is vas oortuig daarvan dat die Kruger Wildtuin tot 'n sekere mate 'n ingeperkte gebied is, maar ek twyfel baie sterk dat die wetenskaplikes dit uit die oog verloor het in hul jare-lange navorsing,.

Ek glo maar in deeglike, wetenskaplike navorsing.

 

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 22/11/2020 - 07:46

Ons is gister uit die wildtuin uit en tans in Tzaneen, van waar ons vandag ry na Sun City vir 2 aande. Ek sal poog om daar 'n bietjie meer te vertel van ons ervarings tydens ons 9 nagte verblyf in die wildtuin. Al wat ek op hierdie stadium wil sê is dat die wildtuin se temperature in November, nie vir hierdie Bolander bedoel is nie. 41°C is nou nie juis wat ek "sports" noem nie.

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 22/11/2020 - 07:49

Nee Shaun - ons het laas reën gesien toe ons op 10 Nov tussen Pretoria en Bela-Bela gery het. Die noorde van die wildtuin (rondom Shingwedzi en Bateleur) was baie droog.

Kleinmond

Chris Boucher

Sun, 22/11/2020 - 17:53

Hier waar ek nou rustig by Sun City is, kyk ek toe gou-gou na die onlangse bydraes (myne en andere s'n) op dié draad. Ek wil myself nie herhaal nie en wil nie vrae onbeantwoord laat nie.

So kom ek toe o.a. by Len se vraag uit t.o.v. my "cope" met die afpakkery en terug-pakkery. Ek moet sê dat dit tot dusver verbasend goed gegaan het. Ek vind al hoe meer pakplek in die Hilux soos wat die wynvoorraad begin krimp. Dit is darem nie net ek en Ralie wat die voorraad skrikmaak nie - ons gashere/vroue by wie ons nou-al 2 aande (van die 17 wat al verby is van die totaal van 24) word darem ook op ordentlike Bolandse wyse bedank vir die beddens wat ons kan omkrap, en die kos wat ons verorber en, en, en ....

En hier sit ons nou in ons hotelkamer met 'n sondonnertjie van ons eie voorraad wat ons saamgebring het. En na 16 van die 17 aande wat ons gebraai het (lam, vark, steak en hoender) smag hierdie visvoet (wat gewoond is aan 2 keer per week vis eet) na 'n stukkie seekos. Dus is restaurantkos vanaand ons voorland (en môre-aand). 

Ek praat weer.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Sun, 22/11/2020 - 19:00

Chris, ek wag geduldig vir (veral) jou Wildtuin-vertellinge.

Dis jammer die jaarlikse gholf in Novembermaand wat hierdie jaar gekanselleer moes word, loop jy mis.  In my arbeid dae was ek gelukkig om 'n paar toernooie by Sun City te kon bywoon en dit was altyd 'n belewenis.  Geniet dus maar die baie doen-dinge daar en ek hoop die restourant stel jou nie met hulle seekos aanbiedinge teleur nie.

Worcester

Wildehont

Mon, 23/11/2020 - 06:30

die wildtuin se temperature in November

Ek sal verkies om die hele jaar daar te wees. Toe ek in Botswana gebly het, was dit so lekker om die veld en die diere en die hemelruim te ervaar met al die seisonale veranderinge. ‘n Besoek van ‘n paar weke bring maar net ‘n snapshot van die totale skildery. Dis egter al wat my beskore is, en ek moet ‘n seisoen kies. My keuse is die winter. Ja, die veld is droog en die trek voëls is weg. Die temperature is egter aangenaam, en wildbesigtiging puik.  

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 23/11/2020 - 14:04

Kom ek probeer vir die derde keer. Ek het al 2 keer hier probeer sê wat ek graag wil deel, saam met foto's, maar ek druk verdomp elke keer 'n verkeerde knoppie op die selfoon tydens die aflaai van die foto's - dan's alles weg.

Ek het al by Mopani gesukkel om foto's af te laai weens 'n swak sein, maar by Shingwedzi en Bateleur het ons absoluut geen sein gehad nie. By Shingwedzi was dit egter net Vodacom wat probleme ervaar het, maar by Bateleur is daar niks - soos in pokkol.

Dit maak nie saak watter ingangshek dit is nie, maar as ek so aankom en die hek verskyn voor my, ervaar ek 'n gevoel van welgeluksaligheid. En hierdie een het 'n spesiale plek in my hart, want Phalaborwahek was die heel eerste waar ek as 11-jarige die wildtuin ingegaan het. Ek onthou (soos gister) elke oomblik van daardie dag. Die hek was destyds net baie anders as vandag - net 'n klein kantoortjie op die middelman van die ingangs- en uitgangkant.

Wildtuin

Op pad na Letaba ry jy by etlike klipkoppies verby, waarvan die bekendste sekerlik Masorini is. Terloops, as jy nog nie 'n staptoer saam met die gids by Masorini (wat natuurlik ook 'n piekniekplek is) onderneem het nie, sit dit op jou "to do" lysie. Nogals interressant. Ons het dit jare gelede gedoen.

Maar ons het voor Masorini weggedraai op die H14 en grotendeels met die ou gruispad (S131) na Letaba gery. Langs die H14 staan hierdie baken, Shikumbu.

Wildtuin

Ons het gesoek vir Klipspringers (Ralie se gunsteling bok), wat ons al voorheen hier gesien het, maar hierdie keer het die geluk ons ontbreek.

Ek het reeds genoem van die teleurstellende toestand wat ons in Letaba beleef het. Hier is enkele foto's - wat ongelukkig nie die ware beeld van verwaarlosing weergee nie.

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Die afgebrande winkel het natuurlik ook 'n verdere bydrae gelewer tot 'n gevoel van verwaarlosing.

Wildtuin

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 23/11/2020 - 14:39

Die paar kilometer wat die hoofpad langs die Letabarivier loop wanneer jy noord uit Letaba vertrek, is na my mening een van die beste paaie in die Letaba-omgewing - en die kort S95 ompad net voor die brug oor die rivier, is hierby ingesluit. En om op die brug, tussen die twee geel lyne te mag uitklim, is 'n voorreg. Daar het ons al menige koppie oggendkoffie gestaan en drink terwyl jy wild langs die rivieroewer soek.

Dit is nogal ontstellend om te sien hoedat waterhiasinte die Letabarivier "ingeneem" het. En die hiasinte staan nou vol in die blom.

Wildtuin

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 23/11/2020 - 15:06

Toe ons in Mei 2019 in Tsendze gekamp het, was Mooiplaas piekniekplek die hele tyd gesluit omdat al die grasdakke herdek is. Dit is 'n plek wat baie nostalgiese herinneringe uit my Tzaneen-dae (gedurende die vroeë 80's) herroep. Ons Letaba-naweke is afgesluit met 'n Sondagmiddag-braai by Mooiplaas alvorens ons huiswaarts verkeer het.

Ek was toe baie bly om Mooiplaas weer oop te vind. Maar ek was tog teleurgesteld om die eens pragtige grasdaklapa, wat op die oewer van die Tsendzerivier is, met slegs 'n verflenterde skadunet bedek te sien.

Wildtuin

Daar moet seker 'n rede voor wees, maar dit maak 'n swak indruk. Vanaf hierdie afdak het ek al olifante en selfs 'n maanhaarleeu dopgehou. Die res van Mooiplaas lyk egter goed onderhou en netjies.

Om terug te kom by my nostalgiese herinneringe van dié mooi plek - daardie jare is daar nog houtvure met groot boonstompe gemaak. Eenkant het die swartgebrande ketel met kookwater op die vuur gestaan en die opsigter het vir jou kole met 'n langsteel-graaf geskep en na jou braaiplek gebring.

Mooiplaas, o Mooiplaas - ek kan inderwaarheid liries raak oor dié ou plek. Daarom was ek aanvanklik baie ontsteld toe ek destyds, met die beplanning van die nuwe Mopani kamp, lees dat Mooiplaas as Mopani se kampeerterrein ontwikkel gaan word. Ek was een van vele wat vertoë gerig het dat dit nie moet gebeur nie. Etlike jare later is die wyse besluit toe geneem om eerder die aangrensende Tsendze te bou.

Wildtuin

 

Ek het so 2 jaar terug met my besoek aan die Wildtuin (Satara) en verskeie ander kampe gemeld van die verval in die park.

Kyk maar na ons buurte waarin ons bly, betaal vir diens lewering wat jy nie kry nie.

Dis hartseer.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 23/11/2020 - 18:00

Ek reken dit is maar 'n handjievol mense wat heeltemal geneë is met die struik-mopanieveld - wat 'n noemenswaardige persentasie van die wildtuin beslaan. Dit is gewoonlik taamlik ruig, veral wanneer daar goeie reënneerslae was (soos tans tussen Phalaborwa en Letaba en 'n aansienlike gedeelte verder noord). Mense se misnoë wat hul soms oor struik-mopanieveld uitspreek is ook verstaanbaar, gesien uit 'n wildverskeidenheids-oogpunt. Maar ek vind juis die struik-mopanieveld as van die mees interressante omgewings omdat baie van jou skaarser spesies amper slegs daar gesien word.

Roofdiere is uiteraard skaarser omdat wildpopulasies (tradisionele prooisoorte veral) yler is. Maar ten spyte daarvan, sien ons gereeld roofdiere wanneer ons in 'n area soos Mopani/Tsendze kuier. En hierdie keer was geen uitsondering nie.

Ek het nog nooit die voorreg gehad, ten spyte van 55 jaar se besoeke aan die wildtuin, om klein leeuwelpies te sien nie. En op ons eerste dag, tussen Tsendze en Mopani, kom die geluk na ons kant toe met hierdie wyfie en haar twee welpies.

Wildtuin

En soos jy kan sien, tussen die mopanies. Van ons ander leeu, jagluiperds en hiëna "sightings" vertel ek later verder.

Afgesien van Mopani se indrukwekkende ingang, is die chalets in hierdie pragtige kamp gerieflik en die meeste (let wel 'die meeste) op so 'n wyse geplaas dat jy bykans nie weet van ander mense nie - wat ongelukkig nie hierdie keer vir ons beskore was nie.

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Wildtuin

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 23/11/2020 - 18:53

Ek het eintlik rééds verslag gedoen gedoen oor ons draai wat ons op die Capricorn Loop gaan ry het. Dit was altyd, altans wat my aanbetref, die beste roete om in die Mopani/Tsendze-omgewing te gaan ry. Tihongonyeni-suiping op die S143 het groot getalle wild in 'n andersins droë omgewing gelok. Bontkwaggas, wildebeeste en olifante was gereeld te sien. Tsessebe's en elande is ook meermale naby Tihongonyeni waargeneem. 

Ek wil nie in 'n debat betrokke raak oor die sluiting van sekere waterpunte nie. Maar ek sukkel wel om die kloutjie by die oor te kry t.o.v. die kriteria wat gebruik word tydens sulke besluite. Waarom word sommiges dan nié geraak deur die wetenskaplikes se besluite nie (waarvoor ek as toeris dankbaar is). Wat dan van die menigte damme in die wildtuin wat in gebruik bly. Sommige is gebreek (soos Nhlanganzwane) en ander is nie weer herbou na vloede die walle vernietig het (Kanniedood en Rabelais). Maar waar kom die meriete van ander bestaande damme in. Ek (as leek) byt moeilik aan sommige van die redenasies - maar ek aanvaar dit maar gelate.

Waarom dan kunsmatige waterpunte in Kgalagadi en ook Etosha. Sonder hierdie mensgemaakte suipings sou beide genoemde parke dit nie oorleef het nie.

Dan dink ek aan Punda Maria se mensgemaakte suiping wat al sóveel probleme opgelewer het. Almal wat gek is om in Punda te gaan kamp is gaande oor die wild wat deur die watergat gelok word. Maar praat van iets onnatuurliks wat mense al traumatiese ellende laat beleef het met (veral) buffels wat daarin vassit asook olifantkalfies - waar is die wetenskaplikes dan?

Soos reeds genoem, wil ek nie graag hieroor in 'n redenasie betrokke raak nie - maar ek sal altyd bly wonder.

Om terug te kom by 13 Nov se besigtigings - dit was 'n bra gemiddelde dag.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus