6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Goeiedag Lede.    EK het… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -16 minutes ago
Twee Rivieren [TR] Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -44 minutes ago
Wessel - Almega Oktober 2026 saam gesels Geert -7 hours ago
Koningskop Oktober 2026 saam gesels Goeie Hout -8 hours ago
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -17 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -17 hours ago

Smalle na Oom Paul se tuin Julie ‘23

Worcester
Submitted by Wildehont on
Forums

Dis nog nie naby genoeg om slapies te begin tel nie, maar oor vier weke is ons DV oppad Potchefstroom toe van Kambro af. Ons vriende wat saam was Kgalagadi toe het gister kop uitgetrek. Riël wil nie sy Penta so ver sleep nie, en dit gaan te duur wees om ‘n wa te huur. Dit is dus net ons vier Smalletjies.  
 

So lyk ons program:

29 Junie Worcester na Kambro

30 Junie Kambro na Potchefstroom 

2 Julie Potchefstroom na Phalaborwa 

3 Julie Phalaborwa na Shingwedzi 

9 Julie Shingwedzi na Tsendze 

14 Julie Tsendze na Potchefstroom 

15 Julie Potchefstroom na Victoria-Wes

16 Julie Victoria-Wes na Worcester 

Worcester

Wildehont

Fri, 02/06/2023 - 10:12

Shingwedzi se kampdraad-staanplekke staan my nie aan nie. Teen die draad kyk jy in elk geval in die rigting van die kampong wat net 'n paar honderd meter weg is.

Ek haal sommer Mnr Boucher se kommentaar aan uit ‘n ander gesprekslyn. Ons bespreek weer elke keer teen die heining. Ek geniet dit om terwyl ons in die kamp is uit te kyk veld toe. Dit laat my meer voel asof ek in die natuur is. Die staanplekke wat na die personeeldorp toe kyk het andersins ‘n mooi uitsig, en daar stap nogal diere verby. Die personeeldorp kan wel lawaai oor naweke. 
 

Verlede jaar het ons teen die heining tussen die swembad en die hek gestaan, en dit was baie lekker. Die swembad kan bietjie raas, maar ons kinders is self lief vir swem. Ek probeer maar hulle geraasvlakke laag hou wanneer hulle daar swem. Die enigste nadeel van die staanplekke aan daardie kant, is dat hulle Wes kyk. As ons volgende maand weer daar plek kry sal ons weer ons 3m x 3m grondseil gebruik as ‘n skadunet om bietjie daarvoor te help soos verlede jaar. 
 

Ten minste kan jy teen die heining bespreek in Shingwedzi en verseker wees dat jy daar staanplek gaan kry. In Tsendze het ons weer nr 3 bespreek, wat ook teen die heining is. Daar speel die kinders lekker in die grond terwyl ons op die “stoep” sit en uitkyk oor die veld. 

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 02/06/2023 - 10:31

Die skool sluit al 23 Junie. Hoekom dan eers 29 Junie vertrek? Sommer nuuskierig.

My seun vertrek op die dag wat die skool sluit en arriveer reeds Sondag 25 Junie in die wildtuin. Hulle wil maar die volle skoolvakansie benut aangesien dit so ver uit die Boland is tot in die wildtuin. Hulle is egter suidelike wildtuin-mense. Vroeër jare het jy van die ouer mense gekry wat geglo het dat Skukuza is die wildtuin en die wildtuin is Skukuza. In hulle geval is dit amper ook van toepassing. Al verskil is dat hulle reken Berg-en-Dal is die wildtuin en die wildtuin is Berg-en-Dal.

Worcester

Wildehont

Fri, 02/06/2023 - 11:18

Hoekom dan eers 29 Junie vertrek? Sommer nuuskierig.

My seun vertrek op die dag wat die skool sluit en arriveer reeds Sondag 25 Junie in die wildtuin. Hulle wil maar die volle skoolvakansie benut aangesien dit so ver uit die Boland is tot in die wildtuin.

Ons was April is Kgalagadi, en ek beplan my verlof al meer as ‘n jaar vooruit. Dis maar hoekom ons net 11 aande in die Kruger wildtuin gaan wees.
 

Die Suide van die wildtuin het ongetwyfeld die beste wild oor die algemeen. Maar dis ook die mees toeganklike deel met die meeste verblyf. Gevolglik is dit die besigste, en ons hou nie daarvan nie. Daarom verkies ons die Noorde waar jy gereeld alleen by roofdiere is of dit met vier of vyf ander motors deel. En die lang ente wat mens geen ander voertuie sien nie is vir my wonderlik, selfs al sien ek “niks”. 

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 02/06/2023 - 12:23

.... ek deel jou sentimente oor die noorde van die wildtuin. Daarom is Tsendze en Shingwedzi ons ongetwyfelde gunstelinge. Punda was ook eens op my lysie van top 3 gunstelinge. Die Punda-omgewing is steeds op dié lys, maar my lus vir dié eens idilliese kampie is maar taamlik geblus tydens ons laaste twee besoeke daar.  Die bestuur van Punda, spesifiek verwysende na die kampeerarea, het maar veel te wense oorgelaat. Maar enigiets noord van die Letabarivier - dán is ek in my element.

Worcester

Wildehont

Mon, 05/06/2023 - 09:35

Oor vier weke is ons DV al goed oppad Shingwedzi toe en die vooruitsig tesame met Wessel wat vandag daar verby ry se vertellings veroorsaak dat ek al in my verbeelding daar is. Dit bly maar my gunsteling plek op aarde. 
 

Voorbereidings het reeds begin, en ek hoop dat ek hierdie week die Prado terug kry. Dit is twee weke gelede paneelkloppers toe. Ek het nog nie vertel van my dom fout nie. Die hoekyster waaraan ek vervoerband vasgesit het om klippe wat opskiet op Kgalagadi se paaie weg te keer van die Kavango af het gedeeltelik voor die uitlaatpyp gesit. Die hitte wat gevolglik teruggeslaan het op die buffer het dit laat kraak en verkleur.
 

Toe ek dit vir ‘n kwotasie vat na Worcester Bakwerke, sien hulle dat daar agter die spaarwiel ‘n duik in die deur is. Dit lyk of iemand teen iets vasgery het met die spaarwiel, en dit die duik veroorsaak het. Ek het dit nie voorheen opgemerk nie, want mens moet jou gesig amper teen die deur hou en agter die spaarwiel in kyk om dit te sien. So dit word sommer ook nou reggemaak. Gelukkig dek die geel sambreel dit en ek het nie ‘n bybetaling nie. 

Wanneer ek die Prado terugkry moet ek die Kavango uit die motorhuis trek om ‘n lekkasie in die stort reg te maak. 

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Mon, 05/06/2023 - 11:28

................jy sal aan die werk moet spring om die foutjies te herstel.  Maar dit is lekker om dit te doen met die vooruitsig van 'n Wildtuin-kamp wat voorlê.

Worcester

Wildehont

Mon, 05/06/2023 - 11:45

Ek weet Oom Len. Ek sit met ‘n voertuig tekort. Ek wou al verlede naweek die Kavango gediens en die lekkasie reggemaak het. Dit kan egter nie in die motorhuis gebeur nie, en die RAV het nie ‘n haak nie. Die Everest het ek vir ‘n kennis wie se Pajero gebreek het geleen. Ek wag dus vir die Prado om terug te kom. Hopelik hierdie week. 

Sedgefield

Jan Meyer

Mon, 05/06/2023 - 14:03

Ai het my weerhou...............................om kommentaar te lewer uit afguns maar is bly dat julle in die Kruger kan wees.

Ons kan weens omstandighede nie datums vasmaak nie maar hoop om die eerste week in Augustus hierdie jaar by die Kruger in te klok. Sal maar kyk wat beskikbaar waar is en dan daarvolgens besluit. Plan is om van die Suide - waarskynlik Skukuza - en by Pafuri uit gaan want ons wil bietjie by Tshipise gaan vertoef. 

Worcester

Wildehont

Tue, 06/06/2023 - 05:49

hoop om die eerste week in Augustus hierdie jaar by die Kruger in te klok. Sal maar kyk wat beskikbaar waar is en dan daarvolgens besluit. Plan is om van die Suide - waarskynlik Skukuza - en by Pafuri uit gaan want ons wil bietjie by Tshipise gaan vertoef. 

Wat ‘n wonderlike vooruitsig. 

Worcester

Wildehont

Tue, 06/06/2023 - 07:46

Dis darem nog nie tyd vir my om paniekerig te raak nie. Volgende naweek is ‘n langnaweek, en ons gaan vir die eerste keer in ‘n lang tyd nêrens heen nie. Ek moet dus net die Prado terugkry voor dan, en hoop die weer is nie onplesierig nie. Na Kgalagadi wil ek die wa diens, seker maak alles is mooi vas en seker maak daar is nie speling op die laers nie. Ek wil sommer kyk in watse toestand is die remskoene. En dan is daar die lekkasie in die stort. Dis agter ‘n paneel wat met klinknaels vas is. So ek het ‘n dag met die wa buite die motorhuis nodig. En dan moet die Prado ook gaan vir ‘n ondersoek om seker te maak alles is reg, vas en gesmeer na Kgalagadi. Dalk moet die olie sommer afgetap en vervang word ook. Met die petrolprys deesdae lyk olie nie meer so duur nie. 

Worcester

Wildehont

Tue, 06/06/2023 - 08:14

Ek het maar weer by Victoria-Wes hotel bespreek vir die laaste aand oppad terug Worcester toe. Ons het verlede jaar ook daar geslaap. Dit kos bietjie agteruitstoot deur ‘n knap hek en langs ‘n muur af waarteen ek verlede jaar moes draai om die kombinasie 90 grade tot die ingang te parkeer, maar daar is darem veilige parkeerplek. Die kamer was ook heel skaflik en die kos gangbaar. 

Worcester

Wildehont

Wed, 07/06/2023 - 18:49

Worcester Bakwerke het vandag laat weet die Prado is gereed en daar is geen bybetaling nie. Ek is bly want ek het vanoggend besef ek moet nog die bedrading van die battery af na die kattebak regtrek. Daar was ‘n tweede battery met ‘n NL solenoïde in die enjinruim, en daar is ‘n draad met ‘n BH prop van die tweede battery (wat nie meer daar is nie) na die kattebak toe. Ek moet nou net besluit of ek my WRND laaier direk van die hoof battery af gaan gebruik om my tweede battery te laai, of die NL solenoïde.  Lg sal beteken ek het meer plek in die kattebak. Maar dan kan ek nie met die WRND laai van die sonpaneel af nie. In Shingwedzi is dit ‘n faktor. In Tsendze word die sonpaneel saam met die Kavango s’n ingespan om meer sous in die Kavango se batterye terug te sit. Met so drie ure se wildrit in die oggend en twee in die middag behoort die battery seker voldoende te laai. 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 07/06/2023 - 21:22

... ek kan saamgesels met hierdie tegniese dinge. Ek wonder net by myself - is dit vir hierdie ouballie die moeite (koste) werd om nog uitgawes aan te gaan vir die enkele kere (indien ooit weer) wat ons sonder elektrisiteit gaan kamp.

My seun het pas 'n uitgawe van ongeveer R13k aangegaan vir die kere wat hulle moontlik sonder elektrisiteit gaan kamp. Ek neig om dan eerder by die huis te bly waar ek lekker ingerig is vir die nuwe Suid-Afrika.

Worcester

Wildehont

Wed, 07/06/2023 - 21:33

Ek het dit al hier iewers genoem, maar my tweede battery en laaier (sonkrag en via sleepvoertuig se hoof battery - ek het dit selfs al aan die Kavango gekoppel wanneer ons staan en lg het 220V) het my nie so duur gekos nie. Dit het tans ook die voordeel dat dit nie permanent ingebou is in my sleepvoertuig nie. Boonop het ek ingeboude laai infrastruktuur vir ‘n tweede battery saam met die Prado gekry in die vorm van ‘n NL solenoïde en die nodige bedrading na die tweede battery, waarvoor daar ‘n staanplek is in die enjinruim. Daar is ook bedrading daarvandaan na die kattebak om bv ‘n yskas te voer van die tweede battery af, sonder om die hoof battery te ontlaai. 
 

Ek het ook lank geskop teen die koste van ‘n tweede battery, maar vandat ek dit het - is dit ‘n absolute plesier om die ekstra kapasiteit te hê vir verkoeling - en dit boonop in my sleepvoertuig. Geen meer gesukkel met koelhouers en ys of blou bakstene nie. En die Engel in die sleepvoertuig is meestal net vir drankies, met die Snomaster in die Kavango vir vleis vries en kos koud hou. 

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/06/2023 - 11:51

Hoe klink dit nou vir my dat Chris B al begin dink aan permanent kamp, by sy huis??

Maar 'n bietjie afskaal is gewis. Ek wil nie nóg geld spandeer op kamptoerusting nie - veral nie op solartoerusting nie. Dit is onwaarskynlik dat ek weer met die "ou lady" in Tsendze sal gaan kamp, maar ons het in die verlede gemaklik oor die weg gekom om elke keer 7 dae daar te kamp sonder elektrisiteit (of solar). Ek sal maar die kraglose plekke vorentoe vermy.

My seun het 'n inverter-trollie vanaf Solar Warehouse aangekoop. Dit bestaan uit twee gel-batterye en die inverter - moenie vir my vra t.o.v. tegniese spesifikasies nie. Dit staan tans 24/7 op laai hier by my (dit word so aanbeveel). Dit is maar net om saans lig te verskaf as hulle beurtkrag het waar hulle die eerskomende wintervakansie gaan kamp. By Eiland Spa behoort dit nie 'n probleem te wees nie, want hulle het kragopwekkers verskaf elektrisiteit aan die hele oord. Meeste Nasionale Park ruskampe wat oor kragopwekkers beskik, voorsien slegs aan die vaste akkommodasie elektrisiteit. Daarom het hy maar voorsiening gemaak vir die 9 aande in die wildtuin.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Thu, 08/06/2023 - 14:23

..........."ons het in die verlede gemaklik oor die weg gekom om elke keer 7 dae daar te kamp sonder elektrisiteit (of solar)".

Hoekom die nie-elektrisiteit kampe vermy terwyl julle voorheen gemaklik reggekom het by Tsendze ?

Ek sien ook nie kans om verdere uitgawes aan te gaan met solars en omsetters nie, maar ons gas toerusting (insluitend ys- en vrieskas) maak kuiertjies by Tsendze en Balule heel gemaklik en normaal.  En die LED ligte in die Exclusive trek bitter min krag van die karavaan-battery en selfs al sou hierdie battery faal het ek 'n koord beskikbaar om die Pathfinder se battery aan die karavaan te koppel.

Kleinmond

Chris Boucher

Thu, 08/06/2023 - 14:45

... dit is baie onwaarskynlik (ek wil nie die woord "nooit" gebruik nie) dat ek weer die "ou lady" na die verre noorde sal sleep nie. En Tsendze is maar die enigste plek waar ons sonder elektrisiteit gekamp het.

Ek voorsien dat ons in die toekoms eerder nader aan die huis met die "ou lady" sal kamp - grotendeels in die Wes-Kaap. En die plekke wat ons gewoonlik in die Wes-Kaap kamp, is deur die bank kampplekke met elektrisiteit. Die "geen-krag" kampplekke in die Wes-Kaap is in elk geval bykans almal plekke wat slegs per gruispad bereik kan word. En ek sleep nie sommer gruispad met die "ou lady" nie - 2 km maks en dan moet dit 'n baie goeie gruispad wees. 

Jammer Chris WH dat ek jou gesprekslyn so kaap. Nietemin moet jy lekker voorberei en ek wens julle in alle opsigte 'n uitstekende gesinsvakansie toe.

Worcester

Wildehont

Fri, 09/06/2023 - 06:08

My seun het pas 'n uitgawe van ongeveer R13k aangegaan vir die kere wat hulle moontlik sonder elektrisiteit gaan kamp.

Ek was onder die indruk dis ‘n dubbel battery stelsel. Wel dit is seker soort van want klink my dit het twee batterye:

My seun het 'n inverter-trollie vanaf Solar Warehouse aangekoop. Dit bestaan uit twee gel-batterye en die inverter 

Is die gedoente nie groot en swaar nie? Een so battery weeg in die omgewing van 30kg. En hoeveel plek vat dit? Dis juis een van my oorwegings met die Prado; om my tweede battery enjinruim toe te skuif, omdat dit reeds die NL solenoïde in het en ‘n staanplek in die enjinruim vir ‘n tweede battery. Dan is daar meer laaiplek in die kattebak.
 

Ek het egter begin wonder oor die effektiwiteit van die solenoïde vs my WRND DC-DC laaier. Toe ek begin navorsing doen blyk dit dat dit afhang of die Prado ‘n sg slim alternator het. Die solenoïde is dan minder effektief. Ek plaas ‘n artikel daaroor op die relevante gesprekslyn. 

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus