6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Goeiedag Lede.    EK het… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -29 minutes ago
Twee Rivieren [TR] Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -58 minutes ago
Wessel - Almega Oktober 2026 saam gesels Geert -7 hours ago
Koningskop Oktober 2026 saam gesels Goeie Hout -8 hours ago
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -17 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -17 hours ago

Kgalagadi Oktober 2026

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

My beplande Oktober-kuier in Kgalagadi begin al meer in plek val. Met die uitsondering van een aand waarmee ek nog nie geholpe kon raak nie, begin die toerplan al hoe meer vorm aanneem.

Ons skop af met 2 aande in Twee Rivieren gevolg met 4 aande in Nossob. Beskikbaarheid van akkommodasie in Nossob, 'n dag later as die datum waarop besprekings geopen het, is net so goed soos om wors te soek in 'n hondehok. Maar geduld en gereelde loer op Sanparke se webblad, het vrugte afgewerp.

Intussen kon ek, na nog 'n aand in Twee Rivieren, ook 2 agtereenvolgende aande se akkommodasie in 'n rivierfront chalet in Mata Mata bekom en drie aande in Kalahari Tented Camp (KTC). Ek benodig nog 'n nag tussen Mata Mata en KTC maar ek is positief dat ek met die benodigde nag (15 Okt) in hetsy Mata Mata of KTC gaan regkom. Ek sal maar geduldig voortgaan met my soektog.

Ek sou wat wou gee om 'n nag of twee in hetsy Gharagab of Bitterpan te bekom. Ek het mos nou 'n 4x4.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/09/2026 - 10:58

Len het ons verskeie kere op hierdie forum herinner hoeveel slapies daar oor is voordat hulle wildtuin toe vertrek. Nou ja, nou is dit my beurt om te sê: Nog net 22 slapies oor voor ons op 4 Okt die pad vat tot Vanrhynsdorp vir ons eerste oorslaap (van twee) voordat ons Kgalagadi aandurf.

Ek beplan om met die heenreis via Stellenbosch en Malmesbury te ry. Die blote feit dat ek op 'n Sondag vertrek maak dit 'n aanneemlike opsie, want Stellenbosch se verkeer kan 'n mens die mure uitdryf op weeksdae. En met die terugkom reken ek om aan die voet van die Piekenierskloofpas af te draai na Porterville en via Worcester terug te keer ten einde die Stellenbosch malhuis op 'n Vrydag te vermy.

My beplanning (en besprekings) is ook twee verskillende roetes tussen Vanrhynsdorp en Upington. Die heenreis sal via Calvinia, Brandvlei en Kenhardt wees. Die terugreis vanaf Augrabies sal via Springbok en die N7 wees. Die pad tussen Augrabies en Springbok het ek baie jare gelede laas gery.

Ek het ook intussen my oorslaapplek in Kamieskroon gewysig. Ons sou by Kroon Lodge oorbly, maar gaan nou by 'n meer gerieflike Lekkeslaap selfsorgplek oorbly (Lucas Family Cottage).

Brits

Wessel Strydom

Sat, 12/09/2026 - 11:19

....bly darem lekker. Ek kan ure met "google maps" sit en roetes uitwerk.

Ek het gou my ou SHELL padkaartboek nader getrek om na jou roetes te kyk.  Nou wonder ek, jy bedoel seker om by Piketberg weg te draai na Porterville. Piekenierspas is by Citrusdal, en dan lyk dit grondpad na Porterville.

Ek het die N14 van Springbok na Upington onlangs gesleep. Mensig dis 'n dooie pad met 'n woonwa. Sonder 'n wa, sal ek vrye teuels gee, en beweeg!!! In Pofadder is 'n vulstasie met 'n wegneem ete plekkie. Dit het rukkie se wag gekos, maar dit was lekker eetbaar. 

NS: Ek het gou gaan bevestig, ond het September 2023 die Upington na springbok pad gery. Sjoe, dis al 3 jaar gelede.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 12/09/2026 - 12:08

... tussen die voet van Piekenierskloofpas (Piketberg-kant) is daar 'n teerpad wat wegdraai  na Porterville. As jy van Porterville se kant kom, reg jy reguit deur die dorp (sonder om weg te draai Piketberg toe) en sluit by die N7 aan enkele kilometers vanaf die voet van Piekenierskloofpas.

Roete

Brits

Wessel Strydom

Sat, 12/09/2026 - 13:01

Dankie Chris, my boek "Map studio" 27ste uitgawe van "South Africa road Atlas" is dus duidelik verouderd.laughlaugh

Ek het soveel aantekeninge daarin gemaak, dat ek beswaarlik daarvan wil ontslae raak. Dalk maar 'n nuwe koop en maar net tydsaam alles oordra na die nuwe. Inligting soos padstalletjies, eetplekke, woonwaparke ensovoorts daarin opgeteken.

Brits

Wessel Strydom

Sun, 20/09/2026 - 12:23

...storm vinnig nader, of hoe Chris??? Ek aanvaar julle is besig met voorbereiding vir julle heerlike toer wat voorlê. 

Het jy 'n dakrak bo-op jou kappie?? Dan kan jy sommer ekstra spaarwiel saamneem vir 'n noodgeval. Ek is seker jy gaan sonder om 'n woord te rep tog van daai 4x4 roetes verken, soos Leeudrilwink

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 21/09/2026 - 07:59

... ja, 4 Okt lê om die draai. Môre oor twee weke moet ons die park betree by Twee Rivieren. Die bymekaarpak vir die groot inpak moet eersdaags begin. Vir daardie doel moet ek nog o.a. by Joey's se deli in die Strand uitkom om my boerewors-voorraad aan te vul. Gelukkig vat ek minder items saam, want dit is mos 'n witlaken-trip. Kaapse voggies is vanaf Van Loveren en Badsberg Kelder af bestel en behoort hierdie week afgelewer te word.

Die Kalahari het blykbaar goeie reën gehad. Die veld sal waarskynlik groen wees - iets wat ek nog nie daar beleef het nie.

Wat Leeudril 4x4 aanbetref moet ek nog besluite neem. Mammie klink geensins opgewonde oor dié idee nie. Ek is net bang dat daar soortgelyke uitdagings op dié roete is soos wat Neef beskryf t.o.v. die pad Gharagab toe. Dan is ek waaragtig in die spreekwoordelike dog box. 

Terloops - gepraat van witlakens. Ek voorsien dat die Ou Lady se wiele eers weer April 2027 gaan rol. Ons weer het nog nooit saamgespeel om die grondnette en stoeptent skoon te maak sedert ons op 31 Julie teruggekeer het nie. Vandag word egter 'n mooi dag voorspel en die tuiningenieur is hier. Die hoëdrukspuit sal dus vandag sy deel moet doen.

Brits

Wessel Strydom

Mon, 21/09/2026 - 08:20

Ek sien vanoggend koerantberigte dat die riviere loop. Die Kuruman rivier se water het selfs die 2de keer die jaar deur van Zylsrus gespoel!!! Die wêreld gaan geil staan en wag vir julle.

Brits

Wessel Strydom

Tue, 22/09/2026 - 09:29

Ek het die roete op Google maps gesoek, maar ongelukkig is daar geen fotos van die pad [?] nie. 

Onthou om elke keer die roete wat jy gaan ry, by die hekke te laat aanteken. Ook weer te gaan aanmeld aan einde van die dag. Ek het eenkeer vergeet, en die personeel het my kom opsoek in die kamp. Dit gee nogal gemoedsrus.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 22/09/2026 - 13:19

... ja, ek is bewus van daardie reëling wat hulle in Kgalagadi het dat jy moet aandui watter roete jy gaan ry en dat jy weer moet aanmeld as jy terugkeer.

Ek het al baie keer gedink dat so-iets in die wildtuin ook gedoen kan word. Dit het menigmaal deur my kop gegaan wat sal gebeur as jy gestrand is op 'n roete wat min gery word - veral laat in die dag. In Shingwedzi is ek baie lief om met my namiddagrit die S101 te gaan ry. Dit is uiters selde dat jy ander voertuie op daardie kry - veral laatmiddag. Sou jy een of ander teenspoed daar ervaar, is jy nie op 'n hoofroete met meer verkeer nie. Dan is jy waarskynlik gestrand vir die nag.

Of moet ek maar eerder die stiller roetes gedurende die laat-namiddae vermy?

Brits

Wessel Strydom

Tue, 22/09/2026 - 13:30

Chris, verwys jy nou na Kruger ef Kgalagadi??

Ek het ook al gewonder waarom daar nie so 'n roete reeling in Kruger is nie. Ek het egter nog nooit my bekommer oor laatmiddag se stil paaie ritte nie. Ek skakel egter baie selde my trokkie af in 'n wildtuin. Dis net 'n papwiel wat mens dan kan pootjie.

Ek dink mens moet doodseker maak dat mens die betrokke kamp se telefoonnommer wel het, en dat dit werk!!! 

Brits

Wessel Strydom

Mon, 28/09/2026 - 09:17

Hoe vorder die voorbereiding?? Kon jy al jou vleise en visse verwerk en weggepak kry?

Ek aanvaar die vrieskas agterop die trokkie loop die hele tyd oppad, of net saans??

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 28/09/2026 - 12:51

My kampvrieskas is aangeskakel en meeste van die bevrore items wat saamgaan is reeds in dié kas gepak. Die kas bly die hele tyd agter in die Hilux aangeskakel. Terwyl ons ry, natuurlik op 12V en by ons oorslaapplekke (waar ons net 1 aand oornag) sal 'n elektriese kabel na die Hilux aangelê word vir 220V oornag.  By al die plekke waar ons langer as 1 nag oorbly, sal die kas uit die Hilux gelaai word. Ek wil nie onnodig die kas blootstel aan Kgalagadi se paaie nie.

Ek het beplan om môre Strand/Somerset-Wes toe te gaan om o.a. my Joey's boerewors-voorraad aan te vul - ek het té min vir die saamneem. Ek wil ook by Honda in Somerset-Wes uitkom om te verneem of hulle my kan help met die sleutel vir die ghawwermint se Amaze. Die battery (in die sleutel) het die gees gegee. Ek het die battery vervang, maar nou werk niks. Ek wonder of die ou met die 10 duime nie bollie aangevang het nie.

Maar nou't Christo Prins, wat deesdae die werk aan die Ou Lady doen, laat weet dat hy môre die nuwe tru-kamera kom installeer en ook wil kyk hoe ver hy met ander dinge kan kom wat gedoen moet word. Dus verander die beplanning vir Somerset-Wes toe gaan na Woensdag.

Afgesien van die boerewors wat nog vakuumverpak moet word, moet daar ook nog hoender- en steak-sosaties gekoop en vakuumverpak word.

Baie van die inpak-items is reeds bymekaar gesit. Die groot inpak word vir Saterdag beoog. Ek hoop om nie later as 08:30 Sondagoggend hier weg te kom nie. Ons wil nog eers by 'n ou vriendin op Moorreesburg gaan dagsê voordat ons die laaste deel van die dag se skof Vanrhynsdorp toe neem - waar ons in  Lekkeslaap-akkommodasie (Mountain View Gastehuis) oornag. Ons het die verbysterende afstand van 382 km tot Vanrhynsdorp.

Maandag se skof is bietjie verder (508 km) tot by ons slaapplek (Elim Gastehuis) op 'n eiland in die Oranjerivier buite Keimoes.

Yip - die vleis en vis het almal lêplek in die vrieskaste gekry 

Brits

Wessel Strydom

Mon, 28/09/2026 - 13:39

Chris, ek weet dit is bollie voorstel, maar kyk of jy nie per ongeluk die [muntstuk ?] battery verkeerd om ingesit het nie. dit kan ook wees dat jy 'n pap battery daarin gesit het. Meet met 'n multimeter, e raai dis 'n 12V batterytjie.

Kyk in boekie, daar is 'n spesifieke resep wat jy moet volg sodat sleutel en kar se ontvangs weer met mekaar gesels.   

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 28/09/2026 - 16:23

... die ou battery het nog gewerk, maar duidelik aangetoon dat dit nie elke keer lekker sy "job" doen nie. Toe 'n nuwe battery gaan koop en ingesit. Ek is darem oortuig ek het dit reg om ingesit. Daarmee maak die sleutel niks. Sit ek die ou battery terug, gebeur daar ook niks. As jy die toepaslike knoppie op die sleutel druk is daar 'n rooi liggie (ook op die sleutel wat veronderstel is om aan te gaan - maar niks gebeur nie. Daarom gaan ek maar na Honda en hoop dat hulle my probleem kan oplos. Intussen kan die Honda darem nog ry.

Brits

Wessel Strydom

Mon, 28/09/2026 - 16:37

... dis sulke dae wat ek so dankbaar is ou Grompie sluit oop en skakel aan, slegs met sleutel ook. As die papperytjie lol, kan ons darem nog regkom.

Sedgefield

Jan Meyer

Fri, 02/10/2026 - 05:58

Die opgewondenheid is seker nou groot vir die toer. Ai julle moet dit geniet hoop die weer en paaie is mooi. 

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 02/10/2026 - 07:07

... nou kan ek al sê "oormôre vat ons pad" - dit is nie meer iets wat ver in die toekoms lê nie. Die meeste van die saamvat-items is bymekaar gepak en inpakkery in die Hilux sal seker môre gedoen word.

Ons berei ons voor op "warm kry" en vertrou dat die park se paaie nie te rof sal wees nie.

Kleinmond

Chris Boucher

Fri, 02/10/2026 - 11:21

... (en hoop dat ek reg dink) dat alles nou aangeskaf is vir die groot inpak. Die laaste van die paar kruideniersware wat vir die wis en die onwis saamgaan en 'n paar bottels hardehout is gou vanoggend aangekoop. Die ander Kaapse voggies is vooraf bestel by Van Loveren en Badsberg Wynkelder en afgelewer.

Nou jeuk my agterent om die Hilux te begin pak. Dit kan mos maar in die garage bly staan tot Sondagoggend. Die kampvrieskas sal agterin op 220V bly staan totdat ons ry.

Beide Lekkeslaap-plekke waar ons oorslaap (Vanrhynsdorp en Keimoes) het al WhatsApps gestuur om my te herinner dat ek nie moet vergeet om by hulle te kom slaap nie.

As ek kyk na na YR.no se langtermyn-voorspellings kan ons onsself maar regmaak vir warm kry. Eerskomende Donderdag, wanneer ons in Nossob arriveer, word 36° voorspel. Die swembroeke word dus maar ingepak - dit is vir wanneer ek kans sien om my boeppens ten toon te stel.

Pokkit - sien ek nou uit daarna wat oor die volgende 3 weke voorlê.

Brits

Wessel Strydom

Fri, 02/10/2026 - 12:00

Ek beny jou, en hoop dat jy soos gewoonlik ons gaan laat saam toer, met heerlike insette en fotos van julle toer.

As ek jy is, sal ook maar so stadigaan die Hilux begin styfprop.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus