6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Goeiedag Lede.    EK het… Forum Herstel en terugvoering Voortrekker -28 minutes ago
Twee Rivieren [TR] Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -56 minutes ago
Wessel - Almega Oktober 2026 saam gesels Geert -7 hours ago
Koningskop Oktober 2026 saam gesels Goeie Hout -8 hours ago
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -17 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -17 hours ago

Noord- en Weskaap Toer

Nelspruit
Submitted by Koos Mol on
Forums

Vir Opvolgende Noord- en Weskaap toer kliek hier:    Deel 2     Deel 3

Noord- en Weskaap Toer.

Na ons vir ‘n heerlike vyf weke op oom Paul se plaas gekuier het vertrek ons op 17 Oktober 2018 vanaf Pretoria na Potchefstroom en gaan tuis by familie op Potch. Ons was vir 9 dae in Pretoria na ons vanaf die KNP via Villiers ‘n draai gemaak het om die wa se regter mover te vervang. Die mover het baie stadig begin loop en is deur die verskaffer op Villiers onder waarborg vervang. Op Potch het ons net lekker gekuier en nie rondgery nie.

Ons Noordkaap toer het afgeskop op 23 Oktober met ons eerste oorstaan op Red Sands net wes van Kuruman. Na vele oorwegings en rondvra (op die forum ook) het ons die volgende roete gery: Potch, Klerksdorp, Wolmaransstad, Sweizer-Reneke, Vryburg en Kuruman. Ek is deur vriende op Potch afgeraai om oor Ventersdorp te ry, die pad is blykbaar baie sleg en vol slaggate. Ek kon nerens inligting kry oor die beste roete vanaf Klerksdorp en besluit toe, wes moet ek ry en vat die pad. Op Klerksdorp besluit om by die SAP aan te gaan om inligting oor die roete oor Ottosdal of Sweizer te bekom. Ek bevind my toe in Klerksdorp se middestad met nie ‘n idee waar om heen te ry nie. Dis net taxis en vragmotors,, Google maps ry my elke keer vas, vra toe ‘n taxi bestuurder wat langs my staan by ‘n robot en wraggies sal die man toe nou uit sy pad gaan om my te help. Hy stop die verkeer in die baan langs my en verduidelik ek moet hom volg en daar begelei hy my tot voor die polisie stasie. ‘n Offisier daar maak toe so paar oproepe en sy niggie op ‘n plaas by Sweizer laat weet toe die pad oor Sweizer is goed en inderdaad dit is toe so. Drie padwerke met ry/stop verleggings tussen Sweizer en Vryburg elk so 5km lang, die ompaaie is geteer en goed rybaar. Baie min swaervoertuie op die pad en ons kom veilig in Vryburg aan. Ek sal die roete met geruste hart aanbeveel (ek het meer inligting oor die roete gegee in my draad “Potchefstroom na Kuruman”). Op Vryburg het ek brandstof ingegooi en ‘n heerlike hamburger geeet by Mams Foods en teen ‘n billike prys, dis die vulstasie net voor jy Vryburg inry (Chris Boucher se papwiel vulstasie). Die pad verder tot op Red Sands baie goed. Wat ons verbaas het was hoe netjies skoon Sweizer en Vryburg vertoon het, dit was nou die roetes deur die dorpe.

Ons staan twee nagte oor op Red Sands. Die kampterrein is grond, rooi sand/grond en as die windjie waai moet jy maar toemaak. Hulle privaat ablusie geriewe is goed met ‘n toilet, stort, wasbak en opwasbak. Jy moet jou wa maar mooi rondskuif om ‘n gelykte te kry om op te staan. Ons het die 24e bietjie in Kuruman rondgery en ook gaan kyk hoe lyk dit by die Wonderwerkgrot oppad na Danielskuil. Dis ‘n “Nasionale Gedenkwaardigheid” maar, o wee, wat ‘n teleurstelling. Die terrein, geriewe en chalets is verwaarloos. Daar vind opgrawings plaas en is van nasionale belang; gaan google gerus. Die uitgrawings is interressant maar die gids se inligting was maar beperk. Ek heg ook ‘n foto aan van die interressantste selfoontoring wat ek nog gesien het, die toring staan langs die N7 naby die ingang na Red Sands.

Oktober vat ons die pad wes na Upington. Ons oorspronklike besluit was om op Upington by Kalahari Monate oor te staan maar het intussen planne verander en skakel toe vroegoggend om ook vir die aand (25e) in twee Rivieren plek te kry, ons is eers van die 26e by Twee Rivieren bespreek. Alhoewel ons eerste poging die oggend om plek te kry onsuksesvol was, vol bespreek, het die dame tog belowe om ons terug te skakel indien daar ‘n kansellasie was en sowaar toe ons in Upington inry skakel Bettie ons om ons in te lig dat ons maar kon kom, hulle het plek. Ons verblyf op Twee Rivieren verander toe van 7 na 8 nagte. Die reis verder na Kgalagadi het heel voorspoedig verloop. Na aanleiding van Chris Boucher se verhaal oor Askham se melktert het ons op Askham afgedraai en by die Diamond Coffee Shop het ons rustig op die stoep verwyl en heerlike melktert en gemmerbier genuttig.

 

                   

Die landskap Noord van Upington is vir ons ‘n nuwe gesig, ken die wereld nie. Veral die droë panne is baie interressant. 

Ons ontvangs by Kgalagadi was baie vriendelik en flink. Die toegangspad is plaveisel tot by die kamp. Grond staanplekke; harde grond vir tentpenne inslaan. Daar is so paar bome vir skadu. Die son het als uit ons uitgehaal maar ons het darem namiddag skaduwee gehad. Staanplekke is nie afgebaken of gemerk nie. Vaste braaiers, kragpunte en waterkrane is versprei oor die terrein. Al die staanplekke met kragpunte is op gelykgrond. Die ablusiegeriewe is van 'n hoë standaard. Daar was altyd warm water en die geriewe is deurlopend skoon gemaak. 

Die winkel is netjies en voorsien in alle nodige middele vir kampers. Ons het een aand in die restaurant gaan eet en was verras oor die goeie diens, kos en algemene indrukke van die plek. Die restaurant word deur SANPARKS bedryf.

Alle personeel waarmee ons te doene gehad het was vriendelik en beleef. Na my mening is die personeel van hierdie park in die voorste linie van SANPARKS se personeelkorps as dit by diens kom.

Dit is 'n lekker rustige kamp en ons het drie van die dae net rustig in die kamp deurgebring en by die swembad ontspan. Die aande in die park is heerlik en om ‘n vuurtjie maak dit vir ‘n lekker herinnering. Die kwik het van die dae bo die 40 gaan draai. Heerlik oggendtee geniet by Auchterlonie en ‘n lekker skottel ontbyt gemaak op Melkvlei.

Ons het beide die twee rivierpaaie gery en ook die kort dwarspad van Auchterlonie na Kij Kij. Ons het een dag die lang dwarspad begin ry en toe teruggedraai, wou nie my tande verloor nie. Die twee rivierpaaie was heel rybaar en vir kort ente baie sinkplaat veral die Auob pad tot by Auchterlonie. Ons het ook gevind dat daar meer diere op die Nossob pad is.

Diere wat ons gesien het was leeus (twee pragtige maanhare en twee troppe van 11 en 9), gemsbokke, blou wildebeeste, kudus, hyena, jakkals, springbokke, eland, jagluiperd en natuurlike die nimlike grond eekhorinkie en vele voelspesies. Besonders was ‘n “Pale Chanting Goshawk” wat ‘n muis gevang het en ‘n kobra wat voor ons oor die pad geseil het. Die luiperd het ons egter ontwyk. Wat ook mooi is, is die vele versamelvoëlneste, die bome en ou telefoonpale hang swaar van die neste.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ons het een dag deurgery na Mata Mata, wat ‘n pragtige kampie, al die geriewe netjies en skoon. Sou graag daar wou uitspan maar ek is bevrees net my wa se onderstel sal daar uitkom.

Wat ons in die park opgeval het is die kameeldoringbome wat lyk of hulle net inmekaarsak en doodgaan veral ten noorde van Auchterlonie. Het dit gegoogle en dis blykbaar iets onverklaarbaars, alreeds in die tagtigerjare het navorsing daaroor by Kathu begin; google dit gerus.

Ongelukkig moes ons tydjie in die Kgalagadi ook ten einde loop, ‘n ekstra paar dae sou alte lekker wees. Op Vrydag 2 November vat ons toe halfhartig die pad suid na Upington. Ons rustige reis word 60km Noord van Upington met luide lawaai onderbreek deur die linker band van die wa wat die gees gee. Sien my draad “Band wat die gees gee……”.

Ons reis neem ons verder na Oranjerus net wes van Upington by Kanoneiland (02 Nov tot 05 Nov).

………………….word vervolg.

Brackenfell, Weskaap

Len Loader

Fri, 09/11/2018 - 17:47

....saam gereis Koos, baie dankie.  Lekker herinnering van ons trippie daarheen 'n paar jaar terug.  Het julle die rit en terug na Mata Mata in een dag afgelê sonder om daar oor te slaap ? (Ek besef julle kon nie daarheen met die Sensation nie).

Dis goeie nuus dat julle Tweerivieren se kampterrein en ablusie skoon en netjies gevind het.  Met ons besoek moes ek eers gaan kla by die Toerismebestuurder voordat dinge drasties verbeter het.

Vaalpark

Johann L

Fri, 09/11/2018 - 19:33

Nou kan ek maar my wa verkoop, ek toer te lekker hier vanuit my rusbank in die ongemak van beton mure en plastiek plafon. En, dit is heeltemal gratis.

Ernstig, baie dankie vir die saam toer Koos,  ek het dit geniet.👍 

Daai Eland is darem 'n pragtige dier, en natuurlik is Kudus vir my van die mooiste van die bok soorte. (Eland laat my baie aan Brahmane dink,  so trotste, statige figuur)

Oudtshoorn

neef Herman

Sat, 10/11/2018 - 17:50

Ai Koos, jy laat ons darem nou vreeslik verlang na die Rooi sand. Die meerkaaie is darem maar oulik as hulle so uitstrek onder die rygoed se koelte, en veral as daar n paar kleintjies in die gedrang is.Was daar nog so baie van die Rooibors laksmanne in die kamp.

Nelspruit

Koos Mol

Sat, 10/11/2018 - 18:34

Na ons banddebakel kom ons toe laatmiddag Vrydag 02 November op Oranjerus aan, 'n paar pond armer maar met drie wiele en heelhuids. Die kantoor was reeds gesluit maar die dame in die kroeg/restaurant het ons flink gehelp en ons is binne enkele oomblikke ingeteken en vort om ‘n staanplekkie te soek.

Oranjerus is ‘n pragtige oord en baie boomryk. Die oord het chalets en kampering teenaan die Oranjerivier. Die ablusiegeriewe is van 'n hoë standaard, netjies en skoon. Toegang vanaf die teerpad is goed (sien my resensie). Jammer, ek het geen fotos van Oranjerus nie, iewers het Murhpy ingeklim. Gaan kyk op hulle webwerf vir goeie fotos.

Ons het 4 nagte hier gestaan, een dag het ons Upington verken, een dag Augrabies besoek en een dag net by die huis ge”chill”. Die area langs die rivier is lowergroen en dit wemel behoorlik van die druiweprieele. Ons het bietjie gedebateer oor is dit ’n wynplaas (die wyn word tog nie op die plaas vervaardig nie) of ‘n druiweplaas; is ‘n druiwe prieel net die ry met druiwestokke of is al die druiwestokke op een land ‘n prieel of is dit ‘n klomp prieele op een land, dus ‘n druiwe boord…….. ek weet nie.......ek het nou skoon my baie e's en druiwe deurmekaar.... moet die wyn wees.

Met die ry uit Upington merk ons die helder ligte ding op ‘n toring (was amper oortuig die aliens is hier) sien toe dis ‘n massiewe toring met ligte op, later besef dis nie ligte nie dis die son weerkaatsing maar die son was aan die verkeerde kant van die toring………..wat was dit? Mnr google het gou gehelp en lees toe dis Khi Solar One ‘n “solar power thermal power plant”. Julle kan dit gerus gaan google, baie interressant. Die fotos het ek van google afgelaai en is nie my eie fotos nie (met erkenning aan diegene wat die fotos geneem het).

Khi Solar One

 

Khi Solar One

Ons het saterdag Upington besoek en inkopies gedoen. Oral waar ons gekom het was die dorpenaars vriendelik. Jy moet mooi kyk want vele groet jou op straat. die dorp lyk ook skoon en netjies, was nogal beindruk met die plek. 

Sondag was ons eerste besoek aan Augrabies en definitief die moeite werd. Die ingang na die park is baie netjies en die man wat die hek bedien was vriendelik en beleef.

Kantore by ingangshek na Augrabies 

 

Ingangshek na Augrabies

Ons besoek aan Augrabies was nie noodwendig om diere te sien nie maar om die valle en die landskap te beleef. Ons het slegs die paaie tot elk van die uitkykpunte gery en dus nie die volle park besoek nie. Die verskeidenheid van landskappe, rotsformasies en plantegroei is menig. Wat my veral fassineer het was by Swartrante die hope/koppies met swart klippe, behoorlik asof iemand per hand hopies klip op die aarde geplaas het. Die hele landskap spreek van geheimenis en bewondering…..wat het hier gebeur en hoekom lyk daai rotse so, die vra is menig.

Swartrante

 

Swartrante

“Moon Rock” is een massiewe rotskoppie, een groot balvormige rotsplaat. Die rotsplaat skilfer behoorlik in lae af en dit gebeur natuurlik oor menige jare.

Moon Rock

 

Verwering op Moon Rock

By Oranje Kom het die rotse ‘n oranje skynsel. Ons het hier oggend tee geniet en later oppad terug ook hier ‘n rustige middagmaal geniet van broodjies, vrugte en tee.

Oranje Kom

 

Uitspan plekkie by Oranje Kom

 

Oggendtee by Oranje Kom

By Ararat is die kloof wyd en diep, pragtige uitsig.

Ararat

By Echo Corner het ek my stem laat hoor, ‘n man kry ook nie elke dag die geleentheid om te skree en jy antwoord jouself nie, tenminste goeie geselskap.

Echo Corner

Die valle is natuurlik ‘n toer op sy eie, uniek en pragtig. Ek reken enige person wat die valle al in vloed gesien het, het een fantastiese seldsame gebeurtenis beleef. Ek sal myself gelukkig ag as ek ooit die ervaring mag hê. As jy na die valle kyk, uit welke hoek of posisie nogal en jy stel jouself ‘n bulderende watermassa voor wat voor jou oë verby snel, dit moet 'n ongelooflike gesig wees. Volgens hulle statistieke het 4,779 cumec water met die 2010 vloed oor die valle gevloei. My berekening sê vir my dis 286,74 miljoen liter per minuut, mense dis baieeeeeeee water, volgens hulle databord is die huidige vloei 1,14 miljoen liter per minuut. As ek reg onthou was Kaapstad se waterverbruik vroeg die jaar tussen 500 en 600 miljoen liter per dag; dit maak ‘n beter vergelykbare prentjie van hoeveel water dit is……. massas. Die fotos gee nie reg aan die natuurwonder nie, jy moet dit met eie oë sien om te waardeer.

Augrabies valle

 

Augrabies valle

 

Augrabies valle

 

Augrabies valle

Ons is darem ook met mooi diere beloon tydens ons besoek. Die interressantes was ‘n dassie wat sy tande vir ons gewys het, of dit was 'n "grin" vir die foto en drie klipspringertjies waarvan een mooi op ‘n rots posseer het.

Kameelperd - statige dier

 

Dassie

 

Klipspringertjies

 

Klipspringertjie

Die park het ook pragtige kokerbome. Die kokerboom het 'n vlak wortelstelsel en word dus maklik omgestoot, die kameelperde is blykbaar hier die skuldiges, hulle krap hulle lywe teen die bome. kan hulle ook nie kwaqlik neem nie, die kokerboom is dan ook die hoogste (amper enigste) boom hier.

Kokerboom

 

Kokerbome

Na ‘n redelik vermoeiende dag in die son het ons ‘n koeldrank en “deep fried ice cream” in hulle restaurant geniet om ‘n baie suksesvolle dag af te sluit. Oppad terug wou ons nog by die pienk padstal op Kakamas aangaan, maar die is toe reeds toe.

Nodeloos om te sê ons het die nag soos klippe geslaap (seker omdat dit ‘n klippe dag was) na ‘n heerlike dag.

Na ons Maandag net rustig tuis deurgebring het, het ons Dinsdag oggend opgepak en die pad wes gevat na Kammieskroon.

Hiervan meer later……………….

Nelspruit

Koos Mol

Sat, 10/11/2018 - 18:49

Herman, ek kan glo dat daai wêreld onder 'n mens se vel inklim, so as die verlange groot raak moet jy maar jou wa hak en die pad vat.

Jy vra my vas oor die laksman, hulle was heelwaarskynlik daar, ek is nie veel van 'n voëlkenner nie.

Ja, die meerkatte is baie oulik, daar was nie veel in die kamp nie, baie in die Nossob rivierloop. Altyd gewonder hoekom hulle meerkatte genoem word, hulle is klein en nie soveel kat nie dus sou die benaming "minderkat" meer van pas gewees het.

Die grond eekhorinkies het vir die vermaak in die kamp gesorg.

'n Lekker lees van 'n "lekker" omgewing. Ek verlang nou ook sommer dik stukke na die Noord-Kaap.

Ek was bevoorreg om tydens die 2010 vloede Augrabies te kon besoek. Dit was 'n ongelooflike belewenis en die vervulling van een van my drome.

Dankie vir die mooi en volledig vertel Koos. Dit is baie moeite om dit so volledig uit te tik. Nogmaals dank.

Kleinmond

Chris Boucher

Sat, 10/11/2018 - 20:07

Lekker man, lekker. Ek wens meer mense wil ons ander tuis-sitters so lekker saam laat kuier.

Ek loer kort-kort om te sien of Koos nie nog iets geskryf het nie.

Oudtshoorn

neef Herman

Sun, 11/11/2018 - 09:32

Dankie regtig lekker saam gekuier Koos, jy skryf lekker.

Die omgewings bewustus was nie baie ingenome met die Khi Solar One nie, wonder of dit die voeltjies braai ?

 

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus