
Hoekom is ek (as 64-jarige) dan altyd so opgewonde soos 'n kind as die langpad aangevat word? Ek is al sedert gister aan die inpak vir my reis wat môre begin.
Een van die voordele van aftrede en deeltydse werk is dat jy werk en plesier soveel makliker kan kombineer. Ek moet kliënte in Orkney, Rosslyn en Bethlehem gaan sien, asook 'n verskaffer in Brits. Nou neem ek sommer vir Ralie saam en ons gaan lekker kuier-kuier ry tot uiteindelik in Shingwedzi.
Ons reis begin môre tot Drie Susters waar ons by Travalia oornag - een van ons gunsteling oorslaapplekke wanneer ons nie sleep nie. Vandaar Sondag met die N12 tot Warrenton waar ons op die oewer van die Vaalrivier by Fish Eagle's Call oorbly.
Ek sal 'n bietjie terugvoer gee oor die volgende 3 weke.
Joye's wors
Hi Chris. Jy kan ook Joye's wors in Hermanus kry by die Garage by Voëlklip sirkel. Ons koop gereeld daar.
Die Noorde wink ...
Ag hoe groen raak ek ![]()
Ek het die ander dag van Jan Braai se wors gekoop en is nogals nie sleg nie (kon nie van dit kry met kaas in nie). Ek sukkel ook om lekker wors te kry want ek glo min slaghuise het nog 'n behoorlike blok man wat weet hoe om vleis op die regte grein te sny.
Chris julle moet veilig ry en soos Len vra, hou ons op hoogte asb.
In aansluiting by .....
.... Len se inset t.o.v. vleis (hieronder aangehaal). Ons doen maar dieselfde.
Ons het ook maar die gebruik om al ons vleis plaaslik aan te koop by ons bekende en voorkeur slagters
Ons koop ook maar plaaslik. Om die vrieskas so min moontlik oop te maak (ek vat hierdie keer net die klein Waeco - 40 liter - saam) stel ons vooraf 'n spyskaart op en pak die vleis daarvolgens in. M.a.w. dit wat laaste gebruik gaan word, word onder ingepak en dit wat eerste gebruik gaan word uiteraard heel bo.
Na die wildtuin-gedeelte lê daar egter 2 aande by Sun City voor. Ek kan nie die vrieskas nie daar in die bakkie (terwyl dit aangeskakel is nie) en ek wil darem ook nie met 'n vrieskas na 'n hotelkamer sukkel nie. Die laaste drie aande se vleis sal ek dus maar noodwendig iewers anders moet koop.
Servaas ....
Hi Chris. Jy kan ook Joye's wors in Hermanus kry by die Garage by Voëlklip sirkel. Ons koop gereeld daar.
.... is dit dan nog vars of gevries? Bly om te weet daar's nog 'n plek waar ek kan koop, want ons kom deesdae meer in Hermanus as Strand/Somerset-Wes.
Willem .....
Jan Braai se wors
..... ek het 'n ruk gelede Jan Braai se wors by Food Lovers op Hermanus gekoop. Smaak verskil (gelukkig), maar na Joey's se wors was dit 'n mate van 'n anti-klimaks (vir my altans).
En so "by the way", ek reken ek kan vir Jan Braai 'n paar "tips" leer t.o.v. braai.
Joeys Boerewors
Die eienaar van Joeys Boerewors is Fanie Liebenberg wat destyds by Transnet gewerk het en begin het om boerewors te maak en uit sy garage te verkoop. Hy is intussen afgetree en sy twee seuns bestuur die onderneming nou. Hulle het 'n groot fabriek in Brackenfell waar die wors gemaak word en dan daagliks na hulle depots versprei word.
Dis vir my 'n mooi sukses storie.
Willem .....
..... die Jan Braai boerewors sal waarskynlik ook van Food Lovers tot Food Lovers verskil. As ek reg onthou was dit 2018 se Checkers/Shoprite Champion boerewors wat ek by Hermanus se Checkers en by Grabouw se Shoprite gekoop het. Die een wat ek in Grabouw gekoop het was wraggies "champion" wors. Maar die Hermanus Checkers s'n, wat veronderstel is om dieselfde resep te gebruik, het geproe asof ek dit maar eerder vir die hond kon voer.
Naand Chris, as ek reg is,…
Naand Chris, as ek reg is, ry julle more oggend?
Julle moet veilig ry en geniet die vakansie![]()
Slinger -slinger
Môre Chris B
Na aanleiding van Chris as raad-- hou op die swart deel;
onthou as jy Noord Wes provinsie inkom, sal jy opmerk dat al die nugter bestuurders slinger. Dit is bloot om die slaggate te mis.
Veilig ry
Dankie ....
Ja - ons is vanoggend so 08:10 uit Kleinmond uit. Ons eerste skof was tot by ons tradisionele brekfis-stop - Veldskoen padstal in die Hexvallei. Ons was bevrees dat ons dalk 'n ompad sou moes ry, want gister was daar weer protes-aksie op die N1 by De Doorns. Maar gelukkig was dit rustig vandag.
Net voor Laingsburg het ons ligte reën begin kry. Van daardie soort wat net jou voertuig vuilmaak. Op Leeu-Gamka, het daar groter druppels begin val en nie veel verder nie, het dit behoorlik gesous tot tussen Beaufort-Wes en 3 Susters. Al wat 'n riviertjie is loop sterk en die water staan plate vol in die veld.
Die Karooveld het reeds mooi gereageer rondom Beaufort-Wes na vroeg-Sep se goeie reën. Die opvolgreën kon beslis nie op 'n beter tyd gekom het nie.
Ons braai vanaand Karoolam wat ons hier by Travalia bestel het. Toe ons hier by ons kamer kom, is die Karoo-doringhout klaar gepak, ons rooster lê gereed langsaan - dit is net vir vuur aansteek later.
Môre, na 'n brekfis by Travalia se padstal, het ons 'n relatief kort skof tot by Ralie se broer in De Aar. En Saterdag is dit weer 'n kort skof tot Mosu Lodge in Mokala Nas Park vir 2 aande.
Ai tog !
Ai tog Chris, dit lyk darem heerlik ! Travalia soos nog altyd, pragtig en netjies.
Ek is baie bly oor die reën wat nog verder dreig om oor die Karoo te val. Vanoggend om 4vm my boeglam geskrik vir 'n tipiese Transvaalse donderslag - nie meer gewoond aan sulke goed nie.
Geniet julle tydjie.
Ns. Die twee akteurs in die "Adjust a bed" advertensie op TV kan gerus by Ralie leer dat voor 'n kamera kliek terwyl jy op 'n bed lê, moet jou voete darem skoon gewas wees !
Donderweer
Ons het vanmiddag by Aldam aangekom en sit nou bewe-broek hier in die chalet. Ons Bolanders ken nie sulke swaar weer nie. Die blitse slaan reg rondom ons - en hier begin die water nou val. Gelukkig het ek 'n Smokey Joe Weber om vanaand se 'rump steak' te braai - op my stoep. Ek hoop en vertrou maar die elektrisiteit hou - dit was al sulke kortstondige oomblikke af. Ons het gisteraand van net na 18:00 geen elektrisiteit by Mokala gehad nie. Toe ons vanoggend net voor 08:00 vertrek, was ons steeds sonder krag.
Ek kon ongelukkig geen terugvoering op die forum gee terwyl ons by Mokala was nie a.g.v. geen tot uiters swak selfoonseine. En buitendien was my selfoon se battery gou kapoet, want dié mamparra laat lê toe sy selfoonlaaier by sy swaer op De Aar - waar ons Vrydagaand baie lekker gekuier het nadat ons mekaar vir 'n lang tydperk nie gesien het nie.
Ek doen apart verslag van ons twee aande by Mokala.
Mosu Lodge - Mokala Nas Park
Mosu was 'n gereelde kuierplek gedurende my werkslewe. Ek moes minstens 2 keer per jaar GWK se saadbehandelings-toerusting op Modderrivier hetsy gaan diens óf kalibreer. Mosu is gerieflik geleë om as oornagbasis vir hierdie doel te gebruik. Ralie het gewoonlik saamgery en dan het ons gewoonlik 2 aande daar oorgebly. Sedert my aftrede 5 jaar gelede is hierdie lekkerte iets van die verlede. Ek het my egter voorgeneem dat ek weer eendag daar gaan uitkom. En die afgelope naweek was daardie 'eendag'.
Mosu bied fantastiese akkommodasie. Ek het vooraf gevra of ons eenheid No 2 kon kry. Dit is die heel voorste eenheid, naaste aan die watergat wat saans verlig word.
Ongelukkig was ek beperk met fotografiese geleenthede a.g.v. van 'n pap selfoonbattery - ek gebruik deesdae slegs my selfoon vir foto's. Ons het 'n voortdurende verkeer van verskeie wildsoorte by die watergat beleef - dit was amper nie nodig om te gaan ry nie.
Ons het wel gister 2 'game drives' ingepas. Terwyl ons 'brunch' geniet by Matopi piekniekplek, verskyn 'n witrenosterkoei skielik met haar kalf. Andersins het ons baie wild gesien. Mokala is seker een van die parke met die hoogste wildpopulasies per eenheids-oppervlak. Jy sien regtig baie wild in hierdie park met sy unieke natuurskoon.
Ek plaas enkele foto's.







Naand Chris, ek lees so…
Naand Chris, ek lees so lekker want jy vertel hom so lekker. Dankie sover, kyk uit na die res van die toer.









Joye's
Chris, jy kan Joye's boerewors ook in Hermanus kry by die Garage by Voëlklip sirkel. Ons koop gereeld daar.