6 insette
Nuutste Forum Insette onderwerp deur:
Twee Rivieren [TR] Kgalagadi Oktober 2026 Wessel Strydom -22 minutes ago
Wessel - Almega Oktober 2026 saam gesels Geert -7 hours ago
Koningskop Oktober 2026 saam gesels Goeie Hout -8 hours ago
Len... Oktober 2026 saam gesels Wessel Strydom -17 hours ago
Buitelandse besoekers Oktober 2026 saam gesels Len Loader -17 hours ago
Skrif Forum Herstel en terugvoering Rona du Plessis -19 hours ago

Die Boucher's en die Krugerwildtuin 2021

Kleinmond
Submitted by Chris Boucher on
Forums

Synde Len nou sy draad begin het - en ek nie met my vooruitsigte en beplanning sy draad wil besoedel nie, het ek dit goedgedink om hierdie te begin.

Eerstens hou ons styf duime vas dat alles gaan realiseer. Ek het my 65ste verjaarsdag in Punda Maria gevier in 2019 en as alles volgens plan verloop sal my 67ste volgende jaar weer in Punda gevier word.

Ons beplan om reeds op 15 April hier te vertrek. En ek wil 'n totaal en al ander roete ry as die normale - dit is nou die gedeelte tot Colesberg. Ons kortste pad tot waar ons by die N1 buite Worcester aansluit is via Villiersdorp. Om dié ellendige stuk pad tussen die N2-afdraai tussen Botrivier en Caledon tot naby die Brandvleidam uit te skakel, het ek in 2019 oor Sir Lowryspas gery en vanaf Klapmuts N1-langs gehou. Ons eerste aand was tot by Goudini Spa. Volgende jaar beoog ek om N2-langs te hou tot net anderkant PE en dan eers binnelands te swaai om met die N10 via Cradock en Middelburg te ry alvorens ons by Colesberg by die N1 aansluit.

Ons is baie lief vir ATKV Hartenbos, maar ek het nou-al soveel goeie dinge van Dibiki verneem dat ons besluit het dat dit dalk tyd is om laasgenoemde te beproef. Ek wou vir 6 aande daar bly, maar hulle het 'n 7-nag spesiale aanbod vir pensioenarisse wat inderwaarheid goedkoper uitwerk as wat ons vir slegs 6 nagte sou oorstaan.

Dan mik ek om iewers naby PE (dalk The Willows) oor te bly vir 'n paar aande en daarvandaan deur te druk na Colesberg voordat ons weer ons redelik normale roete sal volg.

Ons skop af in Punda Maria op 3 Mei. Ek oorweeg dit ernstig om 'n aand of twee by Forever Tshipise oor te staan alvorens ons by Pafuri-hek ingaan.

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 03/05/2021 - 17:39

Ek laat my nou geengins afsit deur die Snomaster (of die bakkie se bedradings-) probleme nie.

Ons het rustig ons paar goedjies ingepak vanoggend en is teen 08:00 uit Shingwedzi weg. 'n Ligte brunch by Babalala gehad. Die peikniekplek is oop, maar dis lekker deurmekaar met die grasdak rondom die wildevy wat tans herdek word.

Hier in die noorde moes dit waaragtig goed en laat nog gereën het. Hierdie wêreld is skilderagtig mooi. Maar dit het ongetwyfeld 'n impak op wildbesigtiging. Dit is die 4de keer wat ek in Punda kamp, maar dit is die eerste keer wat die watergat voor die kamp nie 'n dier oplewer nie. Hulle het geen rede om hiernatoe te kom nie, want water is oral in die veld beskikbaar.

Len - ek kamp weer (vir die derde keer) op die plek waar jy my laas in Punda gesien het. Die kamp is nogal vol.

Om foto's op die forum te plaas bly maar 'n probleem a.g.v. swak sein.

Nelspruit

Koos Mol

Mon, 03/05/2021 - 20:34

Chris, met geen wild by die watergat en min wild te siene weens die ruie veld, het sy soveel meer rede om rustig in jou kampstoel te ontspan. Ek sien in my geestes-oog hoe jy daar onder die boom sit en sl.......

Geniet..... 

Kleinmond

Chris Boucher

Mon, 03/05/2021 - 21:48

.... juis daarom het ek vir Ralie voorgestel dat ons môre-oggend lekker rustig is en die nodige klere was, alvorens ons op 'n wildsrit gaan. Hier by Punda ry ons in elk geval slegs een roete naamlik die S99 (Mahonie-omrit). Een oggend kloksgewys en die namiddag anti-kloksgewys - en die volgende dag omgekeerd.

Net jammer die vroeg-ryers mask jou al so vroegoggend wakker.

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 04/05/2021 - 11:16

Ek sê dit geensins met die doel om gelukwense te ontvang nie, maar dit mag voorbarig klink om dit te noem - ek is bevoorreg om hier in Punda Maria my 67ste verjaarsdag te vier. Nie dat daar enige feesvieringe mee gepaardgaan nie. Ek was twee jaar gelede in dieselfde posisie toe ons oor dieselfde periode hier gekamp het.

Maar dit is maar 'n gewone dag vir ons. Klere was, was aan die orde van die dag. Met die gevolg dat ons nog nie eens 'n ou draaitjie gaan ry het nie. Maar ons sal darem seker een of ander tyd op die S99 (Mahonie Loop) beland. As ons in Punda kuier, is dit bykans die enigste pad wat ons ry. Ons was veral twee jaar gelede gelukkig om die plaaslike troppie wildehonde drie keer op dié pad te kry. En bowendien is dit 'n mooi roete waar jy darem uit die eentonige mopanieveld kom.

Pafuri, wat seker een van die mooiste dele van die wildtuin is, is in my opinie net té ver vir 'n reis daarheen en terug. Ons het nou op 'n stadium van ons lewens gekom waar ons verkies om net rustig te wees. En daar is geen ander plek waar ek meer rustig kan wees as in die wildtuin nie. Waaragtig 'n voorreg om net hier onder my stoeptent te sit en mediteer.

Veels geluk met jou verjaarsdag. Ek glo dat die Here vir jou en Ralie net 'n lekker gesonde voorspoedige nuwe lewensjaar in beplanning het.

Nee man, ruk jou in "drive", sit agteroor en ry more oggend tot by Pafuri piekniekplek. Die net ongeveer 55km in eenrigting

 

Worcester

Wildehont

Tue, 04/05/2021 - 12:37

Daar is sekerlik nie ‘n beter plek om dit te vier nie. Geniet die rustig wees, maar gaan ry tog vanmiddag - dalk gee die bos ‘n lekker verjaardag geskenk...

Kleinmond

Chris Boucher

Tue, 04/05/2021 - 14:50

Ons gaan darem nie só sleg wees om die hele dag hier in die kamp te vertoef nie. Ons verwyl nog so 'n tydjie hier en gaan beslis later die S99 aanpak. Maar ai, dit is darem lekker om so sleg te wees. 

Iemand het eendag gesê dat in Punda Maria is meer ape as mense. Ek reken ek moet saamstem. By baie kampe treiter hulle (veral) die kampeerders. Maar jis, hier is dit erg. Die klein wettertjies is vanaf eerste lig tot sonsondergang besig om van kampplek tot kampplek rond te skarrel om al wat mens is kwaad te maak. En die vermoë wat hulle het om tussen die menslike geslag te onderskei is eintlik wonderlik. Toe Ralie netnou van die badkamers terugkom het 'n aap haar behoorlik sit en koggel voor die karavaan. Toe ek aangestap kom, sonder om enigiets te doen om haar (die aap) te verwilder, laat spat sy.

Hier loop 'n "antie" rond met 'n kettie - klaarblyklik die amptelike aap- verwilderaar. Maar sy sit 90% van die tyd by een van die buite-kombuise, besig om haar tyd eerder op 'n selfoon te verwyl.

Kyk - ek geniet dit in die wildtuin en sal waarskynlik nog telke male terugkeer as ek die gesondheid en lewe behou. Maar dat standaarde t.o.v. onderhoud dramaties agteruit gegaan het, is so duidelik soos daglig. Vir sommige dinge skud ek net my kop, maar vir ander strip ek sommer behoorlik my moer.

Maar steeds, ape of-te-not, swak tot skokkende onderhoud of nie - ek kuier steeds lekker hier in die bos.

 

Worcester

Wildehont

Tue, 04/05/2021 - 15:37

Die klein wettertjies is vanaf eerste lig tot sonsondergang besig om van kampplek tot kampplek rond te skarrel

Dankie vir die waarskuwing. Tydens ons vorige (en enigste) besoek aan Punda het ons in ‘n hut gebly, maar het hulle gesien in die kampterrein wanneer ons die skuiling en watergat besoek het. Ek het nie besef hulle maak so oorlas van hulleself nie, en sal beslis ‘n paar rubberslange saamneem as ons in Julie mag gaan.  

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Tue, 04/05/2021 - 16:00

Daai goed werk nie, miskien as jy hom aan die aas vasmaak sodat dit saam beweeg as hy pad vat.  Het dit iewers gesien, dalk op die forum geplaas ?

Worcester

Wildehont

Tue, 04/05/2021 - 17:14

Daai goed werk nie

Wys hom net vir die aap. Ek het dit in die wildtuin gebruik toe ek ‘n gids was met oop voertuie. As ek sien een van die gaste wys ‘n bobbejaan iets (teen my instruksies) wat hulle nader lok het ek die slang net so oor my deur se kant laat hang en stadig af beweeg dan laat spaander hulle.  

Vaalpark

Johann L

Tue, 04/05/2021 - 18:15

En daar lê die ding, die mense se begeerte om die dier te vernietigdevil

Chris, dit is ongelukkig so dat die mense se "instink" sulke dinge laat doen, dit, gaan nooit op hou hie.

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/05/2021 - 08:26

Ons het toe 'n namiddag "game drive" geneem. Maar dit klink vir myself vreemd om dit te sê dat dit amper 'n frustrasie is om tussen die digte ruigtes te ry - en ek oordryf nie. Dit is amper 'n verrassing as skielik iets in of in die pad sien.

Op die S99 (Mahonie Loop) is nog baie water van die afgelope reënseisoen - in die veld, maar plek-plek selfs langetige dele waar die water nog pad volg om te vloei. Maar voordat dit klink of ek kla - dit is baie mooi. Ek gun die wild 'n goeie winterseisoen van volop weiding.

Alhoewel ons gelukkig was om 'n kort rukkie 'n luiperd in die pad voor ons te sien loop voordat dit in die digte boskasie verdwyn het, was die hoogtepunt die drie njala-bulle wat op 'n skaars oop kolletjie gestaan het. Wat my aanbetref is dit een van ons mooiste bokke.

Ek wil gou vandag 'n oproep of twee maak en dan maar môre 'n wildtuindag opoffer om Louis Trichardt toe te ry om te sien of 'n auto elektrisiën my vrieskas-probleem kan oplos.

Ek sal darem seker weer later vandag die ruigtes gaan aandurf. YR voorspel vir ons 'n lekker 28° sonskyndag.

Worcester

Wildehont

Wed, 05/05/2021 - 08:57

Louis Trichardt toe te ry om te sien of 'n auto elektrisiën my vrieskas-probleem kan oplos

Hoekom nie sommer in Thohoyandou of selfs ‘n nader nedersetting kyk nie? Daardie manne is gewoond aan planne maak. Vra dalk die personeel in Punda of hulle iemand kan aanbeveel. Ek glo (en hoop vir julle onthalwe) dat dit nie ‘n ernstige probleem is nie, maar net ‘n kortsluiting agv bv die draad wat die 12V sok met die battery verbind of in die Snomaster se 12V draad. 
 

Ek hoor wat julle sê oor hoe mooi dit is as dit so groen en ruig is en ek dink mens kan dit seker waardeer as jy baie tyd het (maw ‘n laaaaaang toer soos wat julle doen). Ek het dit ook geniet om die veranderinge oor seisoene te sien toe ek in die bos gebly het in Botswana vir 2,5 jaar. Aangesien my tyd in die wildtuin deesdae egter baie beperk is verkies ek dit om tussen Julie en September daar te wees wanneer die winter waterbronne opgedroog het en lower weggeneem het. Daar is dan ook minder muskiete en ander goggas wat mens irriteer. Julle was darem vrek gelukkig met die luiperd en moet die sielsvrede wat die wildtuin bring geniet (en aanhou vertel asb!)

Daspoort Pretoria

Willem Brits

Wed, 05/05/2021 - 12:54

Dit is lekker om in die KNPark te wees as dit so daar onder lyk ?

.
Dit was op fb. 
Vanoggend is die see hier in Kleinmond se maag nie lekker nie.
Reën in die Kaap en ons is dankbaar daaroor.

 

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/05/2021 - 14:14

.... ons het op die weervoorspelling gesien dat die Kaap beleef eendeweer. Dit is hoekom ons so graag in die winter na die Laeveld verkas. Verlede jaar was die eerste volle winter wat ons noodgedwonge by die huis moes bly a.g.v. Covid. Dit was nogal 'n "eye-opener" om 'n volle Kaapse winter na etlike jare te beleef. Hier sit ons nou in Punda met 'n wolk- en windlose 28° C dag. Watter voorreg!

Kleinmond

Chris Boucher

Wed, 05/05/2021 - 14:38

Soos hierbo genoem, gaan ons nou môre-oggend Louis Trichardt toe om die 12V probleem die Snomaster aan te spreek by 'n auto elektrisiën. Ja Chris WH, ek hoor jou t.o.v. 'n moontlikheid om dalk 'n auto elektrisiën nader aan Punda te gebruik. Ek is seker maar bevooroordeeld maar ..... Kom ek los dit daar.

Ek het reeds telefonies kontak gemaak met 'n auto elektrisiën in Louis Trichardt en beplan om môre-oggend teen hek-oopmaaktyd hier te vertrek. Ek vertrou maar dat dit gou sal neem om die fout te vind en te herstel.

Ons het mid-oggend hier vertrek om weereens die Mahonie Loop  (hierdie keer anti-kloksgewys) te gaan ry. Ons het maar weer min te sien gekry wat wild aanbetref, maar weereens verstom gestaan oor hoe mooi die veld is.

Hier pak elke oggend 'n klomp kampeerders op, maar ek kry al hoe meer die gevoel dat hier is aand na aand meer mense. Punda Maria het ongetwyfeld oor die laaste paar jaar meer en meer gewild geword. En ek reken dat die watergat voor die kampeerarea speel 'n groot rol daarin. Maar tot dusver was daar (terwyl ons in die kamp is) vandag nog nie 'n teken van 'n vierbenige gedierte nie. Al wat ons kan dophou is hoe die blou-ape die onbewuste kampeerders gas gee.

Sionbergh

 

kanniedood
Zaagkuilsdrift
TO
Weesgerus