Synde Len nou sy draad begin het - en ek nie met my vooruitsigte en beplanning sy draad wil besoedel nie, het ek dit goedgedink om hierdie te begin.
Eerstens hou ons styf duime vas dat alles gaan realiseer. Ek het my 65ste verjaarsdag in Punda Maria gevier in 2019 en as alles volgens plan verloop sal my 67ste volgende jaar weer in Punda gevier word.
Ons beplan om reeds op 15 April hier te vertrek. En ek wil 'n totaal en al ander roete ry as die normale - dit is nou die gedeelte tot Colesberg. Ons kortste pad tot waar ons by die N1 buite Worcester aansluit is via Villiersdorp. Om dié ellendige stuk pad tussen die N2-afdraai tussen Botrivier en Caledon tot naby die Brandvleidam uit te skakel, het ek in 2019 oor Sir Lowryspas gery en vanaf Klapmuts N1-langs gehou. Ons eerste aand was tot by Goudini Spa. Volgende jaar beoog ek om N2-langs te hou tot net anderkant PE en dan eers binnelands te swaai om met die N10 via Cradock en Middelburg te ry alvorens ons by Colesberg by die N1 aansluit.
Ons is baie lief vir ATKV Hartenbos, maar ek het nou-al soveel goeie dinge van Dibiki verneem dat ons besluit het dat dit dalk tyd is om laasgenoemde te beproef. Ek wou vir 6 aande daar bly, maar hulle het 'n 7-nag spesiale aanbod vir pensioenarisse wat inderwaarheid goedkoper uitwerk as wat ons vir slegs 6 nagte sou oorstaan.
Dan mik ek om iewers naby PE (dalk The Willows) oor te bly vir 'n paar aande en daarvandaan deur te druk na Colesberg voordat ons weer ons redelik normale roete sal volg.
Ons skop af in Punda Maria op 3 Mei. Ek oorweeg dit ernstig om 'n aand of twee by Forever Tshipise oor te staan alvorens ons by Pafuri-hek ingaan.
As jou maag nie wil saamspeel nie
Terwyl ek nou hier besig is om te kyk hoeveel kilometer ek in die wildtuin afgelê het, kom dit skielik by my op oor die groot ongemaklikheid wat ek ervaar het toe ons die een oggend vanaf Satara met die S100 na Gudzanidam gery het. Ons het by dié pragtige dam sommer in die voertuig ietsie geëet en 'n bietjie koffie gedrink. Pas klaar geëet, voel ek 'n ongemaklikheid op my maag - so al asof ek binnekort 'n toilet moet besoek. Maar tog is ek oortuig dat ek darem met relatiewe gemak die terugtog via die Gudzanipad en S90 terug tot by Satara sal maak.
Maar kort nadat ons by Gudzani-Wes suiping verby is begin my maag al hoe meer protesteer. Later begin ek knyp-knyp ry en nêrens vind ek 'n redelik beskutte plek om af te trek nie. Later sê ek vir Ralie ek moet net 'n plek vind waar ons darem 'n redelike uitsig na voor en agter het, sodat ons darem ander voertuie kan sien. Maar voor ek sodanige plek kon vind besef ek dat as ek nie onmiddellik stilhou nie is daar 'n moerske gemors in die bakkie.
Op 'n oop vlakte hou ek stil, maar dit was 'n bietjie te laat. Ek kon beswaarlik my broek behoorlik aftrek en my onderbroek was nog nie in 'n veilige posisie op my enkels nie. Laat ek nie nog verdere grieselrige detail verskaf nie, maar ek was verplig om my onderbroek na die tyd uit te trek. Ralie het toiletpapier so vinnig moontlik aangegee, want ek was bevrees dat daar skielik 'n voertuig mag verskyn. Onderbroek en gebruikte toiletpapier is in 'n plastieksak geplaas agter in die bak. Toe ek in die bakkie sit, toe kom die eerste 2 voertuie van voor af. Dit was beslis die onaangenaamste ervaring wat ek ooit in die wildtuin gehad het.
Terwyl ek nou op hierdie k@kkerige onderwerp is, is daar tog een ding wat my dwars in die krop steek. Baie van ons het seker al beleef dat die blaas soms dringend geledig moet word. Dit doen ek en Ralie relatief gereeld. En ons weet dat die vroulike geslag benodig mos 'n stukkie toiletpapier na so 'n oefening. My vrou sal altyd die gebruikte stukkie papier in 'n sakkie plaas, wat vir o.a. daardie doel in die voertuig is. Maar dit is vir my onverstaanbaar dat baie vrouens daardie stukkie papier nét daar los nadat hulle klaar is. Sommige plekke is letterlik bemors met gebruikte toiletpapier😡.
hierdie k@kkerige ...
Chris, ja dit is 'n baie benoude tyd daai wat ek goed ken. 😉☹
Die blaas, wel dit is hoekom en altyd so min as moontlik vloeistof in neem tydins sulke rutte.
Chris....
Chris, ek ken daardie benoude gevoel al te goed. As jy 1/3de van jou dikderm en 1 meter van jou dunderm verloor het, is dit 'n reuse uitdaging om mee rekening te hou as jy op 'n wildrit wil gaan. Elke rit verg dus deeglike beplanning !
Geluk dat jy darem 50% suksesvol was om 'n groter gemors te voorkom.
Wanneer die nood tref
Ek het ook ‘n kleintjie dood aan mense wat toiletpapier (en ander gemors) in die wildtuin los. Ek glo egter mens behoort nie rommel enige plek te strooi nie, of dit nou op Tafelberg of langs die R300 is.
Ons almal het seker al so benoude boude oomblik beleef. Terwyl ons nou op die nare onderwerp is; myne was in Botswana op Nuwejaarsdag 1999. Ons was oppad terug Maun toe nadat ons vir vier aande in die bos kampeer het in ‘n privaat konsessie. Die plaaslike gids wat volgens wet saam met ons moes ry het ‘n sak pere wat nog nie mooi ryp was nie alleen opgeëet. Toe ons by die hek kom in die buffalo fence (wat wilde gehoefde diere en beeste skei om verspreiding van siektes te voorkom), vra hy of hy gou verskoon kan word.
Ek het self ‘n passasier of twee aan boord gehad, en gaan soek my eie wilde salie bos. Twee brakke wat aan die ou wat by die hek bly behoort sit my agterna, ten spyte van my pogings om van hulle ontslae te raak. Toe die nood te groot raak gee ek moed op. Ek kon darem betyds my broek en onderbroek aftrek en laat loop. Die honde lol hier agter my, maar ek kan my nie aan hulle ook nog steur nie. Toe ek opstaan om af te vee en die passasiers wat afgelaai is te begrawe, is daar niks op die sand nie. En toe ek besef wat gebeur het is my nood verlig maar ek is naar. Ek sê nog altyd jy moenie laat honde aan jou lek nie.
Dalk nuttelose inligting vir sommiges
Sedert ek in 1987 begin rekord hou het in die wildtuin, teken ons die vertrek- en aankomstye van ons ritte aan. Ek hou ook rekord van afstande - dit is alles afgesien van rekordhouding van "sightings". Hoekom doen ek hierdie dinge? Sommer net omdat ek dit geniet.
Ek het in een van my laaste insette op hierdie draad genoem, na aanleiding van 'n vraag van Len, dat ons vanaf ons vertrek by die huis (15 Apr) totdat ons weer teruggekeer het (25 Aug), dat ons 9 623 km afgelê het.
Daarvan is 2 675 km in die wildtuin gery. Gedagtig dat ons 'n totaal van 46 nagte in die wildtuin was (ek sluit die een nag wat ons later in Olifants oorgebly het in), was ons inderwaarheid 48 dae in die wildtuin. Dit beteken dat ons gemiddeld bykans 56 km per dag gery het. Ek het voorheen genoem dat ons nie heeldag op wildsritte spandeer nie en dat ons graag kort ritte neem. Die kortste rit wat ons op 'n dag onderneem het was nul (zero) km op 8 Mei toe ons in Punda was. Die langste afstand wat ons op een dag afgelê het was 134 km toe ons op 14 Jun van Krokodilbrug af na Satara verskuif het vir die laaste van ons aanvanklike 45 nagte.
Die gemiddelde wildtuinspoed tydens ons vakansie was 16.2 km per uur. Dit sluit stoppe vir wildbesigtiging in. Dit bevestig dat ek inderwaarheid eintlik teen kruipspoed in die wildtuin ry. My Hilux se "buzzer" (as jy nie jou veiligheidsgordel aanhet nie) begin raas op 25 kpu. Ek ry sonder my veiligheidsgordel in die wildtuin (ja - ek weet dit is teen die wet), maar sodra die "buzzer" afgaan of my deure sluit outomaties, weet ek dat ek vinniger ry as die spoedgrens wat ek vir myself gestel het (nl. 25 kpu).
Ek moet nog die Hilux gaan volmaak. Sedert ons teruggekeer het staan die bakkie nog doodstil in die motorhuis - ma se Honda'tjie moet intussen bietjie omkom. Ek wag vir die verlaging in die dieselprys eerskomende Woensdag. Eers dan sal ek kan verslag doen oor brandstofverbruik en totale brandstofkoste.
Akkommodasiekoste
Ons was 'n totaal van 132 nagte uithuisig. Ons kampeerkoste vir die volle tydperk het R32 180 beloop, m.a.w. 'n gemiddelde koste van net minder as R244 per nag. Ons duurste koste per nag was by ATKV Klein-Kariba @ R703 per nag - wat verstaanbaar is aangesien dit 7 aande binne die April skoolvakansie was.
Die goedkoopste verblyf per nag was by ATKV Eiland Spa @ net meer as R149 per nag (66 aande teen lankstaan-tarief).
Kampplekke en kampplekke
Tydens ons 132-dae ekskursie het ons 14 verskillende kampplekke besoek. Dit het gewissel van uitstekend tot dié waaroor jy eerder maar minder sê.
Parke/kamplekke wat ongetwyfeld in die "uitstekend" kategorie val is o.a.:
Karoo Nasionale Park
ATKV Klein-Kariba
Edenpark
Dié wat ek as "goed" sal klassifiseer is:
Forever Gariep
Forever Phalaborwa Safaripark
Shingwedzi
Tsendze
Krokodilbrug
ATKV Eiland Spa
Aanvaarbaar is:
Onder-Sabie
En dan dié waaroor ek minder sal wil sê:
Aldam
Punda Maria
Letaba
Satara
Dit is maar 'n persoonlike opinie.
GN !
Goeie naand Chris !
Baie dankie vir die interessante inligting wat jy met ons ou klompie gedeel het. Ek haal my hoed af vir jou (en jou sekretaresse) wat so deeglik rekord hou - ek wens amper ek kan dit ook wys want dit maak die nabetragting soveel interessanter. Ek kan myself ongelukkig nie sover kry nie omdat ek die dag toe ek afgetree het, my "tools" ge-"down" het. Rekordhouding met pen, papier en rekenaar het ek oor 44 jaar genoeg van gehad.
Wat jou beoordeling van die KNP ruskampe betref, stem ek heeltemal met jou saam van daardie kampe waar ons ook onlangs by was.
Ek sien nou uit na Deel 2 waar jy vir ons die rekordhouding van wildbesigting gaan meedeel.
Baie interesante inligting…
Baie interesante inligting Chris, ongelukkig is ek in die verband soos Len, ek het genoeg van boekhou gedoen in my werk lewe, nou rus ek, maar geniet dit tog om julle inligting te sien. Baie dankie.
Ek dink as ek weer begin boek hou, sal ek dalk op hou kampeer, wie het gesê kampering is 'n "cheap lifestyle"![]()
So stil stil....
Môre Chris B
….. sal ek maar tog weer Satara toe gaan, en omdat ek nog nooit daar was nie, ook Punda Maria toe.
Ek geniet egter jou "nuttelose" inligting en die kostes is iets om ingedagte te hou
Kampforum quo vadis? Hou…
Kampforum quo vadis?
Hou nou al vir 'n rukkie verby, daar is darem ook net soveel oor kamp wat nie al voorheen herhaaldelik gedek was nie. Maar waaragtig toe ek vanoggend dog om net vinnig in te loer of daar nie dalk iets interessant is nie .....Net om 'n lang gesprek te sien oor maagwerkings en die gepaardgaande gemors???? Stel mense regtig in so iets belang? Dink nie ek het lank genoeg verby gehou nie....
Ai GW
Ai GW, ek moet darem vir ChrisB in die bresse tree - sy bydrae op Kampforum is altyd baie interessant, deeglik en lekker om te lees. Ek dink nie dis billik om op een insident wat Chris heelwaarskynlik as komies bedoel het, te oorreageer nie.
Maar waarmee ek wel met jou vraag, "Kampforum quo vadis ?" saamstem, is dat hier baie lesers op die forum is, maar bitter min bydraers. Dis nie lekker om hier in te loer en bitter min bydraes te sien nie. ChrisB is een uit 'n paar ouens wat die forum aan die gang probeer hou en sy bydrae is altyd interessant en informatief.
Dit sal tog gaaf wees om meer van jou op die forum te sien en nie net 'n vinnige inloer nie - dit sal beslis help om die gesprekke verder uit te brei.
Soos om te kla as jy nie stem nie
om meer van jou op die forum te sien en nie net 'n vinnige inloer nie
Hier is ‘n paar staatmakers wat gereeld bydraes lewer (en ons almal kan hulle omtrent opnoem). Ek geniet Grootwind se bydraes altyd, so my volgende kommentaar is nie op hom gerig nie, maar in die algemeen. Dit help nie mens kla dat hier “niks aangaan” as jy nie self onderwerpe begin en/of op ander se onderwerpe kommentaar lewer en deelneem nie. Dis soos om te kla oor ons regering, nadat jy nie die moeite gedoen het om self te stem in die verkiesing nie.
Wat die druk van die nood betref terwyl jy ver van geriewe is soos bv op ‘n wildrit (of dit nou nommer een of twee is), is mos maar deel van menswees. En soms oorval dit jou sonder waarskuwing (of sonder genoegsame waarskuwing).
Ek vra om verskoning vir 'n…
Ek vra om verskoning vir 'n k@k inskrywing. Dalk moet ek eerder verbyhou.
Chris ek het jou 32 bladsy…
Chris ek het jou 32 bladsy reistog baie geniet. Dankie vir jou bydrae. Ek ken nie daai omgewing nie dis waarom ek die gesprek gevolg het. Min forum lede sal hierdie moeite doen om dit met 'n forum te deel. Dis 'n klein stukkie van jou lewe wat jy gelewe het. "Wel Done", dis duidelik jy het dit 100% geniet. En bygesê, Jy gaan nerens nie.
Ek is seker skuldig dat ek ook maar min sê op die forum maar dit krap baie forum lede se G@T as iemand altyd die negatiewe sien in 'n ander persoon se onderwerp. Dis pleinweg ongeskik al kom jy dit nie meer agter nie. Jou ouderdom of bank balans gee jou nie die reg om so op te tree nie.
Die oplossing is maklik en kan in twee maklike stappe verduidelik word.
1. Hou verby, niemand forseer jou om aan die onderwerp deel te neem nie. Niemand forseer jou om dit te lees nie. Hou jou negatiewe kommetaar vir jouself.
2. Skep jou eie onderwerp as jy wil gal braak of gaan sny die gras.
Nee wat Chris jou…
Nee wat Chris jou breedvoerige terugvoering geniet ons baie en vir lede wat nog nie al die plekke besoek het nie weet wat om te verwag.
Jou skrywe is soos om by die kampvuur te gesels oor wat die dag opgelewer het.
Soos om te kla as jy nie stem nie ...
Hier stem ek 100% saam.
Daai nood wat Chris oorgekom het is mos 100% deel van kamp en wild soek of hoe dan ?
Stem saam as meer net hulle kampe wil deel, sal hierdie 'n baie lekker kampvuur kuier wees. (So gesê ek geniet dit steeds hier.)
hier baie lesers op die forum is, maar bitter min bydraers
Dankie ....
..... vir die laaste paar insette hier. Ek voel darem nou nie meer so erg skuldig oor my "groot nood" plasing nie. Len het dit akkuraat opgesom met sy aanname dat ek dit as 'n bietjie humor geplaas het (ten koste van myself), maar dit is duidelik dat sommiges dit nie in daardie lig beskou nie. Weereens - 'n opregte verskoning teenoor elkeen wat dit onvanpas vind en voel dat dit nie op hierdie forum hoort nie.
Ek kan dit ongelukkig nie meer "edit" nie, andersins sou ek dit verwyder.





Genugtig....
Genugtig Chris, ek aanvaar dis dalk nou weer tyd om die "ou" Hilux in te ruil op 'n nuwe !